
gebore
28 Mei 1919
OORLEDE
1 Nov. 1982
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1947
ORDEN
1948
standplase
1948 Krugersdorp-Suid
1959 Lindley
1963 Mooirivier, Potchefstroom
EMERITEER
1982
Ds. Hendrik Marthinus (Hennie) Viljoen (28.5.1919-1.11.1982); wat op 29.8.1982 om gesondheidsredes uit die diens moes tree, is na ʼn lang en ernstige siekbed op Potchefstroom oorlede. Hy is in die distrik Parys gebore en matrikuleer daar in 1936. Aangesien dit nog in die depressiejare was, soek hy nege maande werk voordat hy by die Suid-Afrikaanse Spoorweë in diens geneem word. Toe hy in 1941 die roeping tot die besondere diens van die Here ontvang, begin hy dadelik buitemuurs studeer en in 1943 voltyds. aan die destydse Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys. In 1944 gaan hy vir sy teologiese opleiding na die Stellenbosse Kweekskool en einde 1947 word hy gelegitimeer. Op 28.3.1948 vind sy bevestiging in Krugersdorp-Suid plaas. Omdat hy die eerste leraar van die jong gemeente is, moet hy, die moeilike naoorlogsjare ten spyt, die leiding vir die oprig van ʼn kerkgebou en pastorie neem. In 1959 verskuif hy na Lindley in die Vrystaat en vier jaar later word hy die eerste medeleraar in Potchefstroom-Mooirivier in Transvaal. Hier arbei hy byna 19 jaar met dieselfde toewyding en trou as in sy twee vorige gemeentes. Met hom aan die spits, word die kerk en saal herstel en kategesekamers en ʼn kombuis by die saal aangebou. Tydens sy jarelange dienstyd as voorsitter van Potchefstroom se Ringsendingkommissie kom die Ned Geref Sendinggemeente Potchefstroom tot stand en word die gemeente te kerk in Promosa gebou. Vir baie jare hou hy ook elke Sondag voor die oggenddiens in sy gemeente in die gevangenis ʼn diens. Verder dien hy in verskeie sinodale kommissies, terwyl hy ook by etlike kultuurorganisasies sy gewig ingooi. Teen die einde van 1976 word hy siek, maar hy sit sy werk voort en op wonderlike wyse ondervind hy dat die Here sy liggaamskragte versterk. Teen die middel van 1982 begin sy gesondheid egter heeltemal verswak, met die gevolg dat hy enkele maande sy emeritaat moet aanvaar. As nederige mens het hy hom diep afhanklik van God gevoel, maar nogtans sy standpunt sonder vrees of huiwering en waar ook al gestel. Sy onwankelbare geloof in Jesus Christus as sy Verlosser en Here het aan sy lewe vaste koers gegee en aan hom kalmte , krag en blymoedigheid in sy lyding. Sy eggenote was ʼn dogter van ds. P J Viljoen, in lewe moderator van die Transvaalse Sinode, en ʼn suster van ds. D J Viljoen, skriba ban die Algemene Sinode 1982. (Jaarboek 1983).