
gebore
04 Nov. 1925
OORLEDE
11 Jan. 2009
UNIVERSITEIT
(BA, BD, DD)
gelegitimeer
1950
ORDEN
1951
standplase
1951 Ontdekkers
1953 Ermelo
1955 Bronberg (studen-teleraar)
1957 Harmonie
Pretoria (studenteleraar)
1964 Tzaneen
1967 Wonderboom
1973 PSD
N-Tvl, opdrag: bearbeiding dooplidmate
1985 PSD, Algemene Sinode, opdrag: arbeid aan dooplidmate
EMERITEER
1991
Dirk Johannes Viljoen is op 4 November 1925 in die pragtige ou vierkantige dubbelverdieping-klip pastorie van die NG Moederkerk op Oudtshoorn gebore. Albei geboue is historiese gedenkwaardighede en van onskatbare waarde vir Oudtshoorn en die nageslag. Sy vader was ds. Philippus Jacobus Viljoen en sy moeder Johanna Magdalena Loots; hulle was negentien jaar lank die pastoriepaar op Oudtshoorn. In sy dienstyd het hy die val van die volstruisveer bedryf en die Groot Griep van 1918 beleef. Na vyf dogters was Dirk se geboorte groot nuus op Oudtshoorn. Later het nog ʼn boetie en sussie bygekom en het die gesin as die “V-Eights” bekendgestaan.
In 1932 het ds. PJ Viljoen ʼn beroep na die NG Gemeente Heidelberg in Transvaal aanvaar, waar hy moderator van die Transvaalse Kerk geword en ʼn groot rol oor baie dekades gespeel het. Op Heidelberg het die jong Dirk Viljoen wonderlike kinderjare beleef en sy skoolopleiding voltooi. Hy was van 1932 tot 1939 leerling aan die Laerskool Volkskool en van 1940 tot 1943 aan die Hoër Volkskool op Heidelberg. Dirk het in ʼn huis grootgeword waar die kerk en geestelike sake prioriteit gekry het, en die hele gesin het in diens van die Here en sy kerk gestaan.
Dirk het geroepe gevoel om soos sy vader en sy neefs ook predikant te word. In 1944 het Dirk met sy BA-studies aan die Universiteit van Pretoria begin, waar hy ʼn inwoner van die bekende Sonop-tehuis was. Hierna was hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan Tukkies, waar hy in 1949 die BD-graad in Teologie behaal en op 20 November 1950 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer is.
In sy studiejare het hy bevriend geraak met mej. Jeanne Fourie, ʼn klasmaat wat ook teologie gestudeer het, maar destyds. nie amptelik tot die bediening kon toetree nie. Sy was egter beslis in haar ywer om haar teologiese studie te voltooi. Prop Dirk Viljoen het op 9 Desember 1950 met Jeanne getrou, en enkele maande daarna het hulle op 27 Maart 1951 die nuwe leraarspaar van die NG Gemeente Ontdekkings geword. Op 17 Februarie 1953 is hy in die NG Gemeente Ermelo op die Transvaalse Hoëveld bevestig, waar hy en ds. Veldman kollegas was.
Hierna het sy pad na die NG Gemeente Bronberg in Pretoria geloop, waar hy in 1955 ʼn beroep met opdrag studente bearbeiding aanvaar het. In die lente van 1957 is die gemeente Harmonie afgestig, met ds. Dirk as leraar. In die begin van 1964 het ds. en mev. Dirk Viljoen die leraarspaar in die NG Gemeente Tzaneen in die Transvaalse Laeveld geword en het ʼn lieflike dienstyd met groot geestelike seën gevolg. Die kringloop is op 7 Oktober 1967 voltooi toe die egpaar teruggekeer het na Pretoria, na die NG Gemeente Wonderboom.
Op 1 Februarie 1973 het ʼn nuwe hoofstuk van ds. Dirk Viljoen se bediening begin toe hy predikant in sinodale diens met opdrag dooplidmate in die Sinode van Noord-Transvaal geword het. Maar sy terugkeer na Pretoria het ook hartseer gebring, want op 16 Januarie 1975 is sy vrou oorlede. Dit was ʼn moeilike tyd in ds. Dirk se lewe, maar die lig het weer deurgebreek toe hy op 23 April 1977 met Jana Smit, ʼn reisende sekretaresse van die ACSV, getroud is. Hieroor het ds. Kosie Gericke met sy kenmerkende humor opgemerk: “Nou het die CSV en die KJV van die NG Kerk getrou.”
Kerklike jeugwerk het ds. Dirk se lewe gevul en hom ʼn wonderlike geleentheid gebied om sy talente uit te leef, hiervoor was hy besonder en uitnemend toegerus. Op 1 Mei 1985 is hy as predikant in diens van die Algemene Sinode met spesiale opdrag dooplidmate benoem. In die jare daarna het hy studie toere na Europa en Amerika onderneem, sodat hy beter toegeruskon word vir sy lewenstaak. Hy het rubrieke in die Kindervriend en die Voorligter en artikels in Kerkbode behartig, en was hy verskeie kategeseboeke betrokke.
Hierdie pos het hom die geleentheid gegee om op wye geestelike akkers te saai. Hy was die hart van sinodale Jeugkommissies en het baanbrekerswerk gedoen totdat hy op 1 Maart 1991 sy emeritaat aanvaar het. Ds. Dirk Viljoen kon terugkyk op ʼn bediening van 40 jaar, wat ʼn dienstyd in ses gemeentes en twaalfjaar in sinodale diens ingesluit het. Hy was ook agt jaar skriba van die Sinode van Noord-Transvaal en agt jaar skriba van die Algemene Sinode, ʼn voorreg wat bitter min predikante beskore is.
Na sy aftrede het ds. Dirk besig gebly, sy doktorsgraad voltooi en jare lank “In Memoriam”-rubriek vir die Jaarboek van die NG Kerk behartig. Hiermee saam het hy ook ʼn databasis vir alle gelegitimeerdes in die NG Kerk opgebou. Hy en Jana het hulle aftrede geniet, oorsee en binnelands. gereis en was tot groot seën vir almal wat hulle pad gekruis het. Aan die begin van 2005 het dr Dirk hartprobleme ontwikkel en ʼn groot hartoperasie ondergaan. Hoewel hy baie siek was, het hy sy kragte herwin en kon hy sy werk voortsit. Hy het ook sy outobiografie geskryf, wat onder familie en vriende versprei is. In die winter van 2005 het hy en Jana na ʼn meenthuis by Huis Herfsblaar in Queenswood getrek, waar hy onverwags op Sondagaand, 11 Januarie 2009, aan ʼn hartaanval oorlede is. Hy word oor1eef deur sy vrou, Jana, en drie kinders, Philip en Tienie Viljoen en ʼn dogter, ds. Jeanne Fourie, wat net soos haar moeder ook in die teologie gestudeer het. Sy is getroud met ds. Johan Fourie van Randfontein.
Dr Dirk Viljoen se begrafnis was op 16 Januarie 2009 uit die NG Gemeente Queenswood in Pretoria. Ds. Jan van den Berg het die Woord bedien, dr Louis Dressel het ʼn treffende huldeblyk gelewer en ds. Johan Fourie het die bedankings gedoen. Die geleentheid is deur ʼn skare emeriti-predikante en vriende bygewoon, ʼn bewys van die agting en liefde van die kerklike gemeenskap. Dirk Viljoen het elke dag as ʼn geskenk beskou, ʼn geskenk vol genade. Hy was erg bewus daarvan dat hy die dag moes benut, daarom het hy elke dag hard gewerk vir die kerk van die Here.
Dr Dirk sluit sy outobiografie af met ʼn dankwoord: “Die Here was en is vir ons baie goed. Ek staan elke dag verwonderd en dankbaar voor Hom. Sy barmhartigheid het geen einde nie: elke m6re is dit nuut. (Jer. 3:22-23).” (Jaarboek 2010).