gebore
25 Jan. 1925
OORLEDE
09 Feb. 2007
UNIVERSITEIT
Sendinginstituut
gelegitimeer
1960
ORDEN
1961
standplase
1961 Ashton
1965 Keetmanshoop
1970 Sannieshof
1975 Nieuwoudtville
1981 Kangovalleie
EMERITEER
1 Mei 1988
Hermanus Venter is op 25 Januarie 1925 gebore op Philipstown in die Noord-Kaap. Sy voorouers is boere wat oorspronklik uit die omstreke van Petrusville kom, die terrein van die huidige Van der Kloofdam. Manie se ouers is geliefde inwoners en kerkinense van Philipstown, wat met vaste Christelike beginsels en boere-adel ʼn onvergeetlike plek in die gemeenskap verwerf. Sy vader Hendrik Louis Venter was nie ryk aan aardse goed nie, maar skatryk in Koninkryksperspektief. Hy was winkelier en koster van die NG Kerk Philipstown, ook skoolopsigter wat met sy menslike opregtheid die ligglans van die evangelie met sy hele wese uitstraal. Sy moeder Anna Jaspers is ʼn vrou met murg in haar pype. Na haar man se dood, gaan sy voort met die winkel op Philipstown en bekleë in sy plek die kosterspos tot met haar dood.
Manie was die jongste kind en enigste seun van sewe kinders. Sy suster Baby trou met ds. Japie Human en hulle kleinkind ds. FJ Human is tans leraar van die NG Gemeente Wellington-Noord. ʼn Ander suster Anna se seun word ook predikant – ds. PH Louw bedien die NG Gemeente Heidelberg (KP).
Manie is van 1934 tot 1942 leerling aan die Laerskool Philipstown en kwalifiseer daama as skrynwerker by die SA Spoorweë en Hawens op De Aar. Sy taak was herstelwerk aan die houtwerk van treine. Intussen verwerf hy by die Volkse Korrespondensie Kollege in 1944 sy matriek. Na twee jaar kwalifiseer hy as stoomenjindrywer, werk 13 jaar op die voetplaat, soos die kajuit van ʼn stoom-lokomotief genoem word en doen diens op Kimberley, Prieska, Coligny en Klerksdorp.
Manie trou op 7 Oktober 1951 met Elsie Johanna Marie Agenbach, dogter van Willem Adriaan Agenbach van Wallekraal by Garies duskant Hondeklipbaai en sy vrou Sannie van Lill, van die Groenrivier van Lill’s van Avontuur, wes van Garies aan die weskus van Namakwaland. Een van Elsie se broers is ds. MM Agenbach, leraar in lewe op Springbok. Manie en Elsie Venter is tydens hulle verblyf op Coligny intens betrokke by sendingwerk onder die swartmense in die gebied en is ook betrokke by die kerklike lewe van die Moederkerk.
Manie het al hoe meer die roeping beleef om sendeling te word en tydens hulle verblyf op Klerksdorp spaar hy om verder te gaan studeer en hedank uit die SA Spoorweë en Hawens. Nadat hy die vereiste vakke soos Grieks en Hebreeus aan die UOVS behaal het, vertrek hy na die SendingInstituut op Wellington waar hy studeer en einde 1960 as sendeling gelegitimeer word. Om ekstra inkomste te bekom, doen hy ook mense se boeke, want hy was van kleins af ʼn skitterende finansier. In 1961 word hy niet handoplegging in die NG Sendingkerk op Ashton ontvang en bevestig, waar hy nie net geestelike werk doen nie, maar intens betrokke is by die onderwys en is ook bestuurder van die plaaslike Kleurlingskool. Deur sy inisiatief word ʼn nuwe skoolgebou opgerig. Die skool dra vandag sy naam, die “H Venter Laerskool Ashton”. ʼn Maatskaplike werker word aangestel, die kerkgebou gerestoureer en die leraar maak van hout ʼn pragtige preekstoel. Onder hierdie leraarspaar se bekwame leiding en deur die krag van die Heilige Gees, is die gemeente met hulle vertrek in 1965 geestelik en finansieël sterk.
Ds. Manie word in die lente van 1965 leraar van die NG Moedergemeente Keetmanshoop in die destydse Suidwes-Afrika. Gedurende die vyf jaar in die gemeente gebeur besondere dinge. Ds. Japie du Plessis word in 1968 sy medeleraar, ʼn begenadigde dienskneg van die Here wat saam met hom besondere diep spore in die wingerd van die Meester trap. Albei het sendingharte en die koninkryk word op Keetmanshoop op ʼn besondere wyse gedien. In 1970 word ds. Manie Ieraar van die NG Gemeente Sannieshof in die Wes-Transvaal, waar hy soos in sy vorige gemeente ook vyf jaar lank bly. ʼn Nuwe kategesekompleks en tweede pastorie word gebou en kontant ingewy. Net soos in sy vorige gemeentes laat hy ook die gemeente met sy vertrek finansieel sterk agter.
Hierna loop ds. Manie en Elsie Venter se pad aan die einde van 1975 na die NG Gemeente Nieuwoudtville, waar hy in die blommewêreld ses jaar lank die voorreg het om in die historiese kerkgebou wat deur dr Willem Steenkamp gebou is, die blye boodskap te bring. In Augustus 1981 word hy herder en leraar in die NG Gemeente Kangovalleie by Schoemanshoek buite Oudtshoorn, hier in sy vyfde gemeente is hy ook ʼn ware pastor en herder van sy gemeente. Hier aanvaar hy op 1 Mei 1988 sy emeritaat en vestig die egpaar hulle in hulle aftreehuis in die Strand, waar hy 12 jaar lank die Here as ouderling in die gemeente Strand-Noord dien. In 2000 verhuis ds. Manie en Elsie na die Edenhof Dienssentrum op Graaff-Reinet, later skuif hulle na die Huis Van der Graaff-ouetehuis, waar Elsie op 10 Mei 2006 oorlede is.
Toe sy seun ds. Louis Venter van die NG Nuwekerk Graaff-Reinet ʼn beroep aanvaar na die NG Gemeente Ottosdal-Suid, skuif ds. Manie nog ʼn keer terug na sy ou gemeente Sannieshof waar hy ʼn inwoner is van Huis Lou van Wyk, die naaste ouetehuis van Ottosdal waar sy seun leraar is. Hier sterf hy op 9 Februarie 2007 in die geseënde ouderdom van 80 jaar. Hy laat twee seuns agter, albei predikante – ds. Louis Venter van die NG Gemeente Ottosdal-Suid en ds. Willem Venter van die NG Gemeente La Rochelle in Bellville. Albei is met een van twee Conradie-susters getroud, op die koop toe kinders uit ʼn pastorie – die dogters van ds WJ Conradie. (Jaarboek 2008).