Van Zyl, Michael Jonathan Nicolaas

 

gebore

16 Des. 1929

OORLEDE

09 Mei 2009

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1953

ORDEN

1954

standplase

1954 Riebeek-Wes

1961 Beaufort-Wes-Oos

1974 NGSK Tulbagh

EMERITEER

1995

Michael Jonathan Nicolaas Van Zyl is op 16 Desember 1929 op Garies in Namakwaland gebore, ʼn streek wat hy tot met sy dood liefgehad het. Sy vader, Albertus Hermias Corneliusvan Zyl, was ʼn boer wat op die ouderdom van 53 alles verloor het en by die Spoorweë moes gaan werk. Nathan se moeder was Anna Gloudina Nieuwoudt, ʼn entrepreneur wat haar dertien kinders met liefde grootgemaak het. Nathan was die oudste kind en armoede was nie ʼn skande nie, die gesin was ryk aan liefde en geloof en nie arm van gees nie. Daar is op die plaas dienste vir die Namas gehou en sy ouma het lekkers gemaak en verkoop om ʼn Sending buitepos in Njassaland aan die gang te help hou.

Nathan het sy skoolopleiding in 1938 aan die Laerskool Garies begin en in 1948 aan die plaaslike hoërskool gematrikuleer. Hy was ʼn aktiewe lid van die CSV nadat hy in standerd vier tot bekering gekom het, en in sy matriekjaar het hy besef hy wou voltyds. vir die Here werk. Van 1949 tot 1950 het hy op Wellington aan die Hugenote-Universiteitskollege gestudeer en van 1951 tot 1953 was hy ʼn student aan die bekende Sending-Instituut. Hy het uitgeblink in rugby en het die Boland en Suidwestelike Distrikte verteenwoordig. As student het hy elke vakansie gewerk, wat hom in staat gestel het om sonder skuld sy studies te voltooi.

Dit was ʼn groot oomblik toe Nathan op 25 November 1953 as sendeling beroepbaar gestel is. Sy eerste gemeente was die NG Sendingkerk Riebeek-Wes, waar hy op 25 April 1954 met handoplegging bevestig is. Die rede is gelewer deur sy boesemvriend ds. Solly Ozrovech. Hier is die pastorie gerestoureer en grond is vir kerklike en opvoedkundige doeleindes bekom. Nathan is op 14 April 1956 met Louise Meintjies, ʼn onderwyseres, getroud. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Heloise (wat ʼn jaar na haar geboorte oorlede is); Jonathan, Christopher, en Renate, wat in 2000 weens kolonkanker gesterf het.

In 1961 het sy pad na die NG Sendingkerk Beaufort-Wes-Oos geloop, waar hy ʼn sterk jeug bediening gevestig en baie tyd bestee het aan die oprigting van huise vir onderwysers, pastorieë, ʼn nuwe kerkgebou en ʼn oord vir bejaardes. Die pragtige kerkgebou in Rustdene is vol simboliek, dit toon die pad van God se volk aan op pad deur die wêreld na die ewige Jerusalem. In die tyd het hy twee gedenk boekies geskryf, Die geskiedenis van die NG Sendingkerk op Beaufort- Wes en Die geskiedenis van die NG Sendinggemeente Beaufort-Wes, want geskiedenis was toe reeds. sy liefhebbery.

In 1971 het Nathan ʼn beroep na die NG Sendingkerk op Moorreesburg in die Swartland aanvaar en in 1974 het sy pad na die NG Sendinggemeente op Tulbagh geloop, waar hy as direkteur met die Steinthal-kinderhuis gemoeid was. In die tyd beskryf hy ook die geskiedenis van die NG Sendinggemeente Tulbagh en Steinthal. Met hulle aankoms het die kinderhuis 190 kinders gehuisves, en later was daar meer as 600 kinders in die kompleks. Op 31 Julie 1995 het Nathan sy emeritaat op Tulbagh aanvaar, waar hy aangebly en steeds. ʼn lidmaat van die VGK op Tulbagh was. Hy het egter dienste in die NG Gemeente Tulbagh waar geneem oral op versoek gepreek en plaaslike arbeidsbediening gedoen. Hy het hom besig gehou met houtwerk en navorsing oor kerkgeskiedenis, wat uitgeloop het op die skryf van drie gedenkboeke: Die NG Sendinggemeente Tulbagh, Die NG Gemeente Heidelberg (KP) en Die NG Gemeente Garies. Laasgenoemde is baie spesiaal omdat hy die mense van sy geboortedorp en die streek Namakwaland baie goed geken het.

Nathan het ook navorsing gedoen oor die Anglo-Boereoorlog en die ryk geskiedenis van Tulbagh. Hy het verskeie artikels oor historiese en kulturele kwessies in Die Burger gepubliseer. Met ds. Nathan se dood was hy besig met ʼn boek Tulbagh 350 jaar, wat hy nie kon voltooi nie.

In 2008 het die ATKV ds. Nathan van Zyl en mnr. Conrad Sidego (gewese ambassadeur in Denemarke) met die Afrikoon-toekenning vereer vir hulle buitengewone bydrae tot Afrikaans. In 2001 het hy sy eerste hartaanval gekry en in 2003 ʼn hartomleidingsoperasie ondergaan. Op 9 Mei 2009 is hy aan hartversaking oorlede. Ds. Nathan is op 16 Mei vanuit die NG Gemeente Tulbagh begrawe en ds. KobusAuret het die Woord bedien.

Sy vrou Louise skryf: “Nathan het ʼn wonderlike innemende persoonlikheid gehad, baie nederig. Almal was vir hom belangrik. Hy was lief vir mense en kon ewe gemaklik met ryk en arm, belangrik en eenvoudig omgaan. Nathan het baie deernis gehad, veral vir oumense, armes en kinders.” (Jaarboek 2010).