Van Wyk, Johannes Alexander

Ds. Van wyk Johannes

gebore

12 Apr. 1922

OORLEDE

12 Feb. 1985

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1945

ORDEN

1950

standplase

1950 Johannesburg (Studenteleraar)

1952 Na Sendingkerk: Dosent Stofberg-Gedenkskool

1960 Dosent Teologiese Skool Pietersburg

EMERITEER

Prof Dr Johannes Alexander (Lex) Van Wyk (12.4.1922 – 12.2.1985); dekaan van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Noorde en voormalige rektor van die Teologiese Skool op Turfloop, het in die tuin voor sy huis op Pietersburg skielik aan ʼn hartaanval beswyk. Hy het in Pretoria grootgeword en gematrikuleer. In sy stu¬dentejare daar was hy onder andere voorsitter van UP se CSV-tak. Na sy legitimasie in 1945 gaan hy na Basel, Switserland, waar hy onder die beroemde Karl Barth aan ʼn proefskrif oor Die Moglichkeit der Theologie bei Friedrich Gogarten vir sy doktorsgraad in die teologie werk. In sy vaderland terug, word hy op 3.6.1950 in die gemeente Johannesburg as studenteleraar bevestig. Aangesien hy op 13.2.1952 by die ou Stofberggedenkskool by Viljoensdrif in diens getree het, was hy by sy heengaan presies 33 jaar met die opleiding van leraars en evangeliste vir die NGKA gemoeid. Na die verdeling van die inrigting verhuis hy in 1960 na Turfloop om daar as dosent in dogmatiek en teologiese etiek aan die Teologiese Skool op te tree. Van 1979 tot 1982 is hy rektor van die inrigting. Tegelykertyd is hy ook van 1973 af senior lektor aan die Universiteit van die Noorde, van 1974 af medeprofessor, en 1979 af professor en van Junie 1980 af ook dekaan van die Fakulteit Teologie . Sy studente het hy steeds. nie alleen tot studie en navorsing aangespoor nie, maar hulle in die opsig deur sy eie voorbeeld besiel. In 1965 doen hy as “visiting scholar” aan die Union Theological Seminary in New York, VSA, en daarna in die Sendingsentrum in Oegstgeest, Nederland, navorsing. Vyf of ses jaar later bring hy weer ʼn studiebesoek aan die VSA, waar hy aan die Princeton Theological Seminary werk en toe ook weer in Oegstgeest. Buiten sy bydraes tot verskeie publikasies en sy artikels vir teologiese tydskrifte in Suid-Afrika sowel as in die buiteland, het hy onder andere Die Apostolaat van die Kerk, Vernuwing of Rewolusie en Teologie en Ideologie die lig laat sien. Verder het hy aan ʼn kerklike studieprojek oor Sending en Kommunikasie en kort voor sy dood aan ʼn kerklike projek oor Kerk en Kommunikasie in Suid-Afrika meegewerk, terwyl hy ook oor die etiek van die arbeid met betrekking tot die Suid-Afrikaanse omstandighede navorsing gedoen en oor die Marxisme gewerk het. As ʼn denker wat skerp kon onderskei, het hy dikwels met groot insig en duidelikheid veral oor ons land se bevolkingsvraagstukke in die kerklike en dagbladpers van hom laat hoor. Die NGK en die NGKA het hy by verskillende vergaderings ook in die buiteland verteenwoordig. In 1984 woon hy nog as raadgewer van die NGKA-afvaardiging die Gereformeerde Ekumeniese Sinode in Chicago, VSA, by en daar maak sy bydraes tot die besprekings ʼn diep indruk op die vergadering. Hy was ʼn groot vriend van beide Swart en Wit en daarom ook ʼn vertroude brugbouer tussen die verskillende bevolkingsgroepe en tussen mense van verskillende kerke in Suid-Afrika. Vir dieNGKA het hy geweldig baie beteken: “Sy dade sal bly staan; sy naam sal nie maklik vergeet word in die NG Kerk in Afrika nie”. (Jaarboek 1986).