Van Wyk, Albert Christiaan

 

gebore

20 Jul. 1903

OORLEDE

16 Jul. 1999

UNIVERSITEIT

(BA, MA, Lis Teol)

gelegitimeer

1927

ORDEN

1928

standplase

1928 Njassa-Send.

1940 Moh. Send., Kaapstad: 1943 Prof. Sendinginst.

1963 Hoogleraar Teologiese Skool vir N.G. Sendingkerk (Bellville)

EMERITEER

1972

Prof AC van Wyk is op 20 Julie 1903 te Clanwilliam gebore. Later het die gesin na Biesiesvlei in Wes-Transvaal verhuis waar sy vader ʼn pos as onderwyser aanvaar het. Hy het sy primêre onderwys op Biesiesvlei en Lichtenburg ontvang en sy skoolloopbaan op Potchefstroom voltooi.

In 1921 is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy die grade BA en MA (Grieks) cum laude verwerf het en later die Lisensiaat in Teologie aan die Teologiese Kweekskool. Hy is in 1927 gelegitimeer.

Aangesien hy hom tot die sending geroepe gevoel het, is hy op 4 Augustus1928 vir die Nyassa-sending georden waarheen hy in 1929 vertrek het om onder die Moslem Yaostam te werk. Om hom vir hierdie werk te skool, het hy in April 1930 na Kairo vertrek om by die School for Oriental Studies die Arabiese taal en Islam te bestudeer. Toe hy in Julie 1931 teruggekeer het, het hy in die Meervlakte in Malawi sendingwerk gaan doen.

In 1933 is hy met Catherin Thompson getroud. Sy is op 7 Desember 1908 in die Vrystaat gebore. Sy het ook ʼn sterk sendingroeping gehad en het haar as sendingverpleegster by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein bekwaam. Toe die deur vir haar oopgegaan het om sendingwerk in Nyassaland te gaan doen, het sy dit met entoesiasme aanvaar. So het sy saam met haar man al die ontberings van hulle bediening daar deurleef.

In 1940 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer waar hy op 20 November 1940 as sendeling onder die Moslems in Kaapstad bevestig is. In 1943 is hy na die Sendinginstituut op Wellington beroep. In 1962 word hy hoof van die Sendingfakulteit van die Hugenote-Kollege op Wellington. In daardie jare het hy ʼn groot rol gespeel om die inrigting uit te bou. Hy was vir altesame twee en twintig jaar gemoeid met die opleiding van sendelinge. Sy bydrae in die wordingsjare van die inrigting was groot. Vir veertig jaar was hy en sy vrou as huisouers aan Huis Samuel verbonde.

In sy dienstyd op Wellington het hy Grieks en Hebreeus aan die ou HugenoteUniversiteitskollege gedoseer. Jare lank was hy voorsitter van die HUK-Raad en die Raad van Trustees. Hy het in verskillende kommissies gedien en was onder meer voorsitter van die Algemene Sendingkommissie, ondervoorsitter van die Federale Sendingraad en die Algemene Sendingkommissie van die Algemene Sinode.

Na die sluiting van die Sendinginstituut aan die einde van 1962 het hy op 19 Februarie 1963 ʼn beroep na die Teologiese Skool te Wellington aanvaar as hoof van die Departement Ou Testament. Tien jaar lank het hy hierdie departement met sy uitgebreide ondervinding en deeglikheid behartig. Hy was beslis vir die Teologiese Skool ʼn groot bate en sy besondere kennis van tale het die skool veral tot groot voordeel gestrek.

Hy het sy emeritaat op 30 November 1972 aanvaar. Sy eggenote het hom op 9 Januarie 1975 ontval. Hy was nog tot aan die einde van 1977 deeltyds. verbonde aan die Teologiese Skool op Wellington wat later by die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Wes-Kaap ingelyf is. Sy tweede eggenote, Christine, met wie hy ook twintig jaar getroud was, het hom ook ʼn paar jaar gelede ontval. Hy het sy laaste jare in Huis Aristea in Durbanville deurgebring.

Hy is op 16 Junie 1999 in die ouderdom van vyf en negentig jaar oorlede. Teen die einde van sy lewe het hy al hoe meer verswak en ook sy geheue verloor. Hy word oorleef deur twee seuns en hulle gesinne.

“AC” van Wyk was ʼn aanvallige man met ʼn groot vriendekring. Hy was ʼn uiters praktiese sendeling, ʼn man wat vertroue ingeboesem het en ʼn sterk karakter gehad het. Daarby was hy agt tale magtig, naamlik Afrikaans, Engels, Nederlands, Latyn, Grieks, Hebreeus, Arabies en Shinonja.

Ons dank die Here vir die lewe van hierdie bruikbare en toegewyde kneg van Hom wat hy aan ons geleen het. – Prof CJ Kriel, aangevul deur Dirk Viljoen uit verskillende bronne. (Jaarboek 2000).