
gebore
13 Okt. 1907
OORLEDE
12 Sep. 1985
UNIVERSITEIT
BA (US)
gelegitimeer
1932
ORDEN
1933
standplase
1933 Noorder-Paarl (Hpr.)
1934 Fauresmith
1942 Hanover
1948 Springs-Noord
1959 Louis Trichardt
1962 Brakpan-Wes
1966 Paardekraal Monument
1972 Lichtenburg-Oos
EMERITEER
4 Jan 1976
Ds. Reinier Johannes Nicolaas Van Tonder, sn (13.10. 1907 – 12.9.1985) het in die loop van 43 jaar agt gemeentes met die besondere toewyding en onvermoeide ywer wat so kenmerkend van sy arbeid was, bedien en daar het groot vrug op sy werk gerus. As seun van die Oos-Vrystaatse gemeente Kestell voltooi hy sy skoolopleiding op Warden. Daarna volg sy studiejare op Stellenbosch waar hy die BA-graad behaal en einde 1932 die proponentseksamen aflê. Nadat hy eers in Aberdeen behulpsaam was, word hy op 10.10. 1933 in Noorder-Paarl as hulpprediker georden en bevestig. In die gemeente, waar hy saam met dr M J van der Westhuizen (die latere redakteur van Die Kerkbode) staan, is sy getroue arbeid jare daarna nog vermeld. ʼn Jaar sy aankoms in die Paarl, kry hy in Fauresmith, die tweede oudste gemeente in die OVS, sy eerste eie gemeente en daarna staan hy eers in die Karoogemeente Hanover (*1942) en toe agtereenvolgens in die Transvaalse gemeentes Springs-Noord (tot 1948 Geduld-uitbeiding); Louis Trichardt (*1959); Brakpan- Wes (*1962); Paardekraal-Monument (*1966) en eindelik Lichtenburg-Oos van 1972 totdat hy op 4.1.1976 emeriteer. In sy dienstyd op Hanover, die Karoodorp halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg, word die ou pastorie uit die tyd van die gemeente se eerste leraar, die latere omstrede staatspresident van die Zuid Afrikaansche Republiek (Transvaal); Thomas F Burgers, gesloop en deur ʼn mooi nuwe vervang. In Springs-Noord delg die gemeente onder sy leiding die balans van die kerkbouskuld, terwyl ʼn nuwe orrel geïnstalleer en ʼn doelmatige kerksaal, veral met die oog op die doeltreffende bearbeiding van die jeug, opgerig word. Na sy aftrede verrig hy nog gewaardeerde hulpdiens in die Noord-Vrystaatse gemeentes Tweeling, Villiers, Frankfort, Heilbron en Heilbron-Suid tot sy skielike oorlye aan ʼn hartaanval in sy huis op Heilbron. Hy was ʼn bietjie ouer as sy neef en klasmaat in die Kweekskool, wyle ds. R J N van Tonder, P/sn, wat op 71-jarige leeftyd as predikant in sinodale diens met opdrag evangelisasie en ampsbediening in Transvaal in die tuig oorlede is.