gebore
24 Aug. 1908
OORLEDE
19 Mrt. 1980
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1932
ORDEN
1933
standplase
1933 Barkly-Wes
1943 Britstown
1945 Roodepoort
1948 Ontdekkers
1950 Sekretaris vir Evangelisasie, Tvl. Suid-Streek en vanaf 1972 ook W Tvl.
EMERITEER
–
Ds. Reinier Johannes Nicolaas Van Tonder, P/Seun (24.8.1908 – 19.3.1980); wat 35 van die 47 geseënde jare van sy bediening aan die Transvaalse Kerk gewy het en van wie daar gesê is dat hy die predikant met die langste diens in enige sinodale betrekking was, is na ʼn kort maar ernstige siekbed, soos hy dit verlang het in die tuig oorlede. Hy is op Vierfontein in die distrik Kestell gebore en vroeg reeds. voel hy die roeping tot die evangeliebediening. Op sy universiteitsopleiding in Bloemfontein en sy teologiese voorbereiding op Stellenbosch, volg sy toelating tot die bediening November 1932. Januarie 1933 kom hy as tydelike arbeider in Barkly-Wes aan – ʼn gemeente wat weens die depressie en ander drukkende omstandighede baie swaar gekry en byna nie kans gesien het om ʼn beroep uit te bring nie. Onder die ywerige jong leraar se bekwame leiding skep die gemeente egter weer moed, sodat hy beroep en 21 Oktober daardie selfde jaar daar bevestig word. Ook brei die gemeente sodanig uit dat ʼn hulpprediker Mei 1941 verwelkom kan word. Van 1943 tot 1945 staan hy in Britstown en daarna in die Transvaalse gemeentes Roodepoort (*1945) en Ontdekkers (*1948); totdat hy September 1950 Sekretaris vir Evangelisasie in Transvaal word. Later word hy predikant in sinodale diens met opdrag ampsbediening en evangelisasie vir die Suid-Transvaalse Sinode en vanaf 1972 verrig hy die werk ook vir die Wes-Transvaalse Sinode. Toe ons kerk in die tyd algaande van die ou gebruik van spesiale evangeliepredikers en spesiale dienste weg beweeg, lewer die Transvaalse evangelisasiesekretaris met sy suiwer gereformeerde siening van die saak ʼn belangrike bydrae tot die verdere beplanning en ontplooiing van die kerk se evangelisasie-aksie, veral deur die aktivering van die amp van die gelowige. As geroepene van die Here was hy met besondere talente van hoof en hart begenadig. Sy werkywer het altyd hand aan hand met netheid en presiesheid gegaan. Op ʼn wye terrein van belangrike kerklike en kulturele kommissies en ander liggame het hy sy kerk en sy volk gedien. Heel van die begin van sy bediening af was hy oral waar hy gegaan het, ten nouste met die onderwys gemoeid. Die eerste Nywerheidskongres in 1969 in Johannesburg is nie alleen op bekwame wyse deur hom beplan nie, maar het ook onder sy voorsitterskap plaasgevind. As jarelange voorsitter van AKAE lewer hy daar ʼn vername bydrae en vir ʼn tyd is hy verantwoordelik vir die verspreiding van die kommissie se blaadjie, Gesprek, wat later as ʼn rubriek in Die Kerkbode opgeneem is. As lid van die Bestuur – en later toe dit as ʼn maatskappy geregistreer is van die direksie – van die Transvaalse NG Kerkboekhandel sedert Mei 1954 en van Junie 1972 af ook voorsitter daarvan, het sy bekwame leiding en sy hoflike, bedagsame en besonder takvolle optrede grootliks tot die gesonde groei en die uitbreiding van die onderneming bygedra. (Jaarboek 1981/258).