gebore
10 Okt 1964
oorlede
4 Sep 2022
UNIVERSITEIT
BA; BTh (UOVS)(US)
gelegitimeer
1991
ORDEN
1995
standplase
1995 Beaufort-Wes
DS JAPIE VAN STRAATEN (BA, BTh) 10 Oktober 1964 — 4 September 2022
Jacob Willem Jacobus van Straaten is op 10 Oktober 1965 gebore in Bloem-fontein. Sy vader is Jacob Willem Jacobus van Straaten, ‘n rekenaarprogrammeerder, en sy moeder is Amanda Laetitia van Dressel, ‘n ontvangsdame.
Japie begin in 1971 met sy skoolopleiding aan die Laerskool Sand du Plessis in Bloemfontein en in 1978 aan die Hoërskool Sand du Plessis waar hy aan die einde van 1982 matrikuleer. In 1981 is hy deel van die Vrystaatse Jeugkoor.
Japie voel geroepe om predikant te word en begin in 1985 aan die UOVS in Bloemfontein, waar hy die BA-graad verwerf. Hierna word hy student aan die Fakulteit Teologie op die Bult, waar hy die BTh-graad verwerf en sy skripsie handel oor: “Teologies-etiese beoordeling van kindermishandeling”. Aan die einde van 1991 word hy as proponent gelegitimeer. Hierna doen Japie sy militêre diensplig, ‘n ervaring waar hy kosbare lewenskennis opdoen. Hy trou op 2 Januarie 1993 met Alida Petronella Olivier, ‘n Lewensmaat wat hom met liefde en wysheid bystaan op voetsoolvlak. Ds Japie en Alida het met vreugde hulle gesin grootgemaak.
Japie van Straaten aanvaar ‘n beroep na die NG Moedergemeente Beaufort-Wes in die Groot-Karoo. Hier word hy in die historiese kerkgebou op 16 Junie 1995 met handoplegging ontvang en bevestig, sy eerste en enigste gemeente tot met sy sterfdag op 4 September 2022.
Ds Japie was vir meer as 27 jaar lank leraar van die NG kerkgebou in die hart van Beaufort-Wes, waar duisende groot vragmotors en motors met mense langs die wit kerktoring in die hoofstraat verbyry in die Karoodorp.
In ‘n verklaring skryf die Kerkraad uit die kerkkantoor: “Baie selde in ‘n mens se lewe korn iemand besonders oor jou pad. ‘n Mens wat nie net op een vlak ‘n impak maak op ‘n mens se bestaan nie. ‘n Persoon wat in sy totale menswees iets spesiaal is en gebly het onder ons. Selde kry een mens dit reg om so ‘n impak nie net op ‘n gemeente te hê nie, maar ook in ‘n gemeenskap. Dit het nie saamgemaak wie of wat jy in Beaufort-Wes was nie — niemand was ooit te onbelangrik ofte gering nie. ‘n Mens wat lief was vir musiek en om te sing. ‘n Ware man van God. ‘n Groot boom het geval. Rus sag in die koninkryk van Jesus.”
Jan Stadler dra die volgende boodskap op aan ds. Japie van Straaten op sy Facebook-blad: “Wat ‘n voorreg om jou te kon ken, my mentor en my vriend. Soveel keer saamgelag en soveel keer saamgehuil. Nou huil ons voor ons Herder. Ons bid vir jou mense en vir ons gemeente. Dankie vir jou voorbeeld. Ons sal jou `legacy’ laat voortleef.” Na sy sterfdag op 4 September 2022 hou die kerklike gemeenskap op Beaufort-Wes ‘n gedenk-diens op 10 September 2022 uit die geskiedkundige kerkgebou langs die grootpad.
— Dr Gerdrie van der Merwe VDM