Van Rooyen, Theunis Johan

 

GEBORE

3 Apr. 1920

OORLEDE

21 Januarie 2011

UNIVERSITEIT

 MA (Sielk); MA (Sos); DPhil (Sos); Gereg Sielk, Maatsk Werker

gelegitimeer

1947

ORDEN

1948

standplase

1948 Nigel

1949 Kemptonpark-Oos

1956 Burgerspark

1960 sekr SA Nasionale Raad vir Huweliksvoorligting en Gesinslewe

1964 Worcester-Oos

1983 Sielkundige, SKDB Wes-Kaapland

EMERITEER

1988

Dr Toeries Van Rooyen (BA, MA [Sielk], MA [Sos] DPhil) 3 April 1920 – 21 Januarie 2011

Theunis Johan van Rooyen is op 3 April 1920 in Greytown, Natal, gebore. Hy is die derde van vier kinders en die enigste seun. Sy oupagrootjie was Theodorus Cornelis van Rooyen, wat aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem het. Toeries se ouers is Theodorus Cornelius van Rooyen en Johanna Magdalena de Jager. Hy is vernoem na sy oupa – Theunes Johan van Rooyen (die “Theunes” is niê met ‘n “i” gespel nie); Toeries deurloop sy kinderjare op Greytown in Natal, matrikuleer aan die Greytown Intermediêre Skool en blink uit in atletiek. Op 7 Mei 1938 lê hy belydenis van geloof af in die NG Gemeente Greytown.

Hy voel geroepe om leraar te word, maar daar is nie geld nie en hy werk by die Ontvanger van Inkomste in Durban – totdat hy ‘n lening bekom om na die Universiteit Stellenbosch te gaan. Sy dogter, Erasm, skryf: “My pa was erg oor sy moedertaal. Hy het vertel hoe die Afrikanerkinders op Greytown sleggesê is as hulle durf waag het om Afrikaans in ‘n winkel te praat. Hy het sy lewe lank vlot Engels gepraat.”

Toeries begin sy studie in 1941 aan die Universiteit Stellenbosch en word later ‘n student aan die Teologiese Seminarium, waar hy in 1947 as proponent gelegitimeer word. Hy verwerf in diê tyd ‘n MA in Sielkunde – en kry in Matieland die bynaam “Toeries”, wat hy behou tot met sy dood. Hy het in die universiteit se eerste hokkiespan gespeel. Erasmê skryf: “Prof Bun Booyens was een van sy tydgenote en Pa het graag vertel hoe hulle op Worcester se stasie gaan kyk het na die Britse koningsgesin wat toe

per trein deur ons land gereis het. Bun Booyens was te kort om hulle raak te sien – en spring toe op my pa se rug vir ‘n beter uitsig.”

Na sy legitimasie dien hy as hulpprediker in die NG Gemeente Kimberley, later in Ladysmith, toe in Heidelberg (Transvaal) en aan die Rand. Prop TJ van Rooyen word op 2 Julie 1948 met handoplegging in die NG Gemeente Nigel bevestig. Na ‘n kort dienstyd word hy op 26 November 1949 die leraar by die NG Gemeente Kemptonpark-Oos, waar hy in 1952 demissie ontvang. Nou word hy organiserende sekretaris van die SA Nasionale Raad vir Geestesgesondheid. Hy beklee pos tot 1956 en besoek ongeveer 220 stede en dorpe om ondersoek te doen na geestesgesondheidsbehoeftes.

Hy trou op 22 Maart 1952 met mej Louise Erasmus, wat hy tydens ‘n besoek aan Heidelberg ontmoet. Uit hulle huwelik is daar twee kinders gebore: Theunis Johann van Rooyen op 15 Augustus 1958, ‘n wetenskaplike in Johannesburg; en Marthi Erasmê van Rooyen op 27 Februarie 1965, ‘n onderwyseres.

Op 2 Junie 1956 word Toeries die leraarby dieNG Gemeente Burgerspark in Pretoria en beklee ook die pos as sekretaris van die Nasionale Raad vir Huweliksvoorligting. In diê tyd is sy vrou lektrise in Maatskaplike Werk aan Tukkies – en die dominee behaal sy MA in Sosiologie en in 1961 sy doktorsgraad in diê vakgebied. Van 1962 tot 1963 studeer hy aan die Merrill Palmer Instituut in Detroit in die VSA. Hy was die eerste student uit SuidAfrika wat opgelei is as psigoterapeut ên huweliksberader. Sondae preek hy in verskeie kerke en hy onderneem ‘n studietoer in die VSA en Kanada.

Dr Toeries van Rooyen aanvaar ‘n beroep na dieNG Gemeente Worcester-

Oos en word die naweek van 21-23 Februarie 1964 daar ontvang en bevestig – die begin van ‘n dienstyd van 19 jaar. Hy was die eerste persoon in die land wat as predikant ên psigoterapeut praktiseer. Hy het aan stelselmatige huisbesoek geglo, met sy gemeentelede meegeleefen een keer per week as hospitaalleraar in die Kaapse Skiereiland gewerk. Hy het ook op die SKDB van die Kaapse Kerk en op die Raad vir Volkswelsyn in Kaapstad gedien.

In 1983 wordhy aangestel as sielkundige vir die SKDB – met ‘n kantoor in Bellville en een in Wynberg – terwyl sy vrou maatskaplike werker by die CMR is. In 1988 aanvaar dr Toeries van Rooyen sy emeritaat en begin ‘n privaat-huwelikspraktyk, met ‘n kantoor in die Louis Leipoldt-mediese sentrum in Bellville; later sou hy dit vanuit sy studeerkamer in hulle huis in Welgemoed, Bellville, bedryf.

Erasmê skryf oor haar ouers: “Hulle beleef wonderlike jare saam en werk voluit vir hulle medemens en die Here. Saam maak hulle ‘n verskil in baie mense se lewe. Hulle laaste jare was rustig; elke dag gevul met ‘n takie. Die Here het hom geseën met ‘n helder, slim verstand, tot die einde toe. Ook met die krag om enkele dae voor sy beroerte self te ry en te gaan inkopies doen. En met onafhanklikheid in sy eie huis, waar hy hom daagliks intellektueel kon besig hou.

“Hy het my altyd gelukkig gemaak. Elke dag is begin met Bybelstudie en gebed. Teen die einde het sy oë erg verswak, maar dit het hom nie teruggehou nie. Sy Bybel was sy kosbaarste besitting. Ek sal ook altyd die prentjie uit my kinderjare onthou van my pa wat kniel en God aanbid.”

Dr Toeries van Rooyen sterf na ‘n kort siekbed op 21 Januarie 2011, in die kosbare oomblik toe ds Johann Symington by sy bed bid en daar ‘n wonderlike vrede neerdaal. Op 26 Januarie 2011 word ‘n roudiens in die NG Kerk Welgemoed in Bellville gehou; sy as word daar in die muur van herinnering bewaar. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM