Van Rooyen, Johannes Christoffel

 

GEBORE

21 Nov. 1923

OORLEDE

09 Des. 2000

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1981

ORDEN

1985

standplase

1985 Ermelo-Oos

1992 Noordoos-Pretoria

1998 Valleisig

EMERITEER

Johannes van Rooyen is op 28 November 1923 te Murraysburg gebore. Sy vader was ʼn boer met dieselfde naam en sy moeder was Susanna Maria Barnard. Sy hele skoolloopbaan het hy op Murraysburg deurgebring waar hy in die laerskool, 1930 – 1936, en die hoërskool, 1937 – 1941 was.

Na matriek het Johannes as Matie-student ingeskryf en die BA-graad in 1944 voltooi. In 1948 word hy aan die Teologiese Fakulteit op Stellenbosch gelegitimeer.

Sy eerste gemeente was Redelinghuys waar hy op 12 Maart 1949 georden en bevestig is. Hier het hy hom vir die bou van ʼn koshuis beywer. Hy het ook tydens sy bediening in die gemeente in die huwelik getree met Margaretha Johanna Wilhelmina Bosman, wat hy op Stellenbosch ontmoet het. Hulle het drie kinders gehad, Johanna Elizabeth (*1950); Susanna Maria (*1952) en Margaretha Wilhelmina (*1956); Hulle is al drie getroud en daar is sewe kleinkinders. Twee van die dogters woon op die oomblik oorsee. Hulle was ʼn baie hegte huisgesin. Ds. Van Rooyen was nie ʼn man van baie woorde nie, maar hy het groot plesier in die saamwees met sy huisgesin gevind.

Na vier jaar op Redelinghuys is hy na Oudtshoorn-Noord waar hy in 1953 bevestig is. In hierdie gemeente het daar ʼn herlewing plaasgevind wat ʼn groot indruk op ds. Van Rooyen gemaak het. Baie mense het hulle bekeer. Hy het ook ʼn insamelingsprojek begin vir die oprigting van ʼn kerkgebou.

In 1958 is die gesin na Goodwood-Wes. Hier was ds. Van Rooyen ook betrokke by kerk- en pastorie bou. Na sewe jaar het hy sy bediening in die Vishoekgemeente voortgesit waar hy die dryfkrag agter die oprigting van ʼn gemeente sentrum was.

Uiteindelik het die Here hom na die destydse Wes-Transvaal en die gevestigde gemeente Hartbeesfontein gelei waar hy op 25 Julie 1969 bevestig is. Ds. Van Rooyen was tuis in die gemeente se plaasatmosfeer. Soos in die geval van baie ander predikante, was hierdie laaste gemeente van hom dan ook die een waar hy die langste gedien het, negentien jaar. Hy het op 30 Oktober 1988 emeritaat van Hartbeesfontein aanvaar.

Na sy emeritaat op vyf en sestig-jarige ouderdom, het die Van Rooyens op Klerksdorp gaan woon waar ds. Van Rooyen nog as hospitaal-arbeider gewerk het. Nadat hulle na ʼn meenthuis verhuis het, het hy skielik siek geword en was ds. Van Rooyen vir twee weke in en uit die hospitaal. Die aand van 8 Desember het hy nog teenoor ʼn mede pasiënt getuig en hulle het tot laat die aand die boek Romeine deurgewerk. Die oggend om twee-uur op 9 Desember 2000 is ds. Van Rooyen oorlede aan miokardiale infarksie. Hy is begrawe op sy geliefde Hartbeesfontein waar hy so lank gedien. Ds. Johan Botha van Klerksdorp, met wie hy ʼn besondere verhouding opgebou het, het die diens waargeneem.

Ds. Van Rooyen het as voorsitter van die ringe van Goodwood en Wynberg opgetree. Hy was ook die voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake in Wes-Transvaal en lid van die Sinodale Jeugkommissie en Gebied komitee van die Kerkjeugvereniging. – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 1 Februarie 1997 ingevul het en ʼn gesprek met sy eggenote.