Van Rooyen, Gert Renier

Ds G R van Rooyen

GEBORE

20 Jan. 1906

OORLEDE

16 Aug. 1985

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1933

ORDEN

1936

standplase

1936 Ugie

1945 Klipplaat

1948 Gamtoosvallei

EMERITEER

11 Jul 1969

Ds. Gert Renier Van Rooyen (20.1.1906 – 16.8.1985); wat op Middelrusin die distrik Weenen, Natal, gebore is, het drie Oos-Kaaplandse gemeentes bedien voordat hy op 11.7.1969 afgetree het. Hy matrikuleer in Pietermaritzburg en sit sy studie aan die Stellenbosse Universiteit en Kweekskool voort. Daardie dae neem hy aktief aan sport deel: rugby (eerste span Maties); krieket, tennis, skyfskiet (Bisley); Na sy legitimasie einde 1933, verrig hy hulpdiens eers in Germiston, toe in Oudtshoorn en daarna in Ugie, totdat wyle ds. M T R Smit, die vermaarde stigter van die kinderhuis daar wat vandag sy naam dra, sy emeritaat aanvaar en hy twee maande later op 19.9.1936 daar georden en bevestig word. Nadat hy oor die agt jaar daar aan die voet van die Drakensberg met ywer en seën gearbei het, word hy in April 1945 die eerste predikant van Klipplaat wat minder as ses maande vantevore van Jansenville afgestig is. (Die moedergemeente het die bruidskat van slegs £500 wat sy aan die dogter kon gee, in paaiemente van £25 per kwartaal betaal.) Inderdaad was dit ook hier die dag van kleine dinge, maar nogtans gaan die jong gemeente onder die seënende hand van die Here en met die bekwame leiding van die leraar geleidelik op tydelike sowel as op geestelike gebied goed vooruit. In Julie 1948 neem hy in Gamtoosvallei die plek in van ds. C J Bester wat die fondamente van die jong gemeente met sy drie kerksale op verskillende punte langs die Gamtoosrivier gehelp lê het. Die pastorie is op Patensie en die kerk op Kwagga, maar in Oktober 1950 kan die gemeente sy doelmatige kerkgebou op Patensie wat nagenoeg £37 500 gekos het, feestelik inwy. Teen 1952 het die gemeente ʼn totale ledetal van meer as 2 000, maar die afstigting van Gamtoosvallei-Oos in 1958 bly die leraar van die ou gemeente vir ʼn bietjie minder as die helfte van sy eertydse kudde verantwoordelik. Sy aftrede woon hy en sy eggenote, Molly (‘n Murray nasaat) op Hankey naby Patensie. Toe sy heupbeen egter breek, word hulle etlike jare lank deur hul dogter en skoonseun in dieselfde omgewing gehuisves en versorg, totdat hulle hul intrek kan neem in die tehuis vir bejaardes op Humansdorp, waar hy in sy 80ste jaar te sterwe kom.

Ds en mev van Rooyen
Ds en mev van Rooyen en gesin