Van Loggerenberg, Johannes Hendrik

 

GEBORE

3 Aug. 1903

OORLEDE

28 Aug. 1986

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1929

ORDEN

1930

standplase

1930 Hertzogville

1934 Edenburg

1939 Ceres

1947 Bloemfontein

EMERITEER

1973

Ds. Johannes hendrik van loggerenberg (3.8.1903 – 28.8.1986) is op Ermelo gebore. Hy het hom tot die evangeliebediening geroepe gevoel en is in 1929 tot die bediening toegelaat. Agtereenvolgens bedien hy die gemeentes Hertzogville, Edenburg, Ceres en Bloemfontein. In al die gemeentes wat hy bedien het, het hy voortreflike werk verrig. Hy en sy gade was ʼn geliefde pastoriepaar. Meer as ʼn kwarteeu het hy in Bloemfontein die herderstaf vasgehou. Hier het ds. Van Loggerenberg op verskillende terreine diep spore getrap. Hy verteenwoordig die Vrystaatse kerk ʼn hele aantal jare in die Algemene Kommissie vir kerklike Tydskrifte. Op sinodale vlak het sy eerste liefde gelê by die administrasie van die kerk, en as voorsitter van die Sinodale Kerkkantoorkommissie vir ʼn tydperk van 23 jaar het hy onder meer ʼn belangrike aandeel gehad in die oprigting van die sinodale sentrum wat in 1964 in gebruik geneem is. Aan die onderwys het ds. Van Loggerenberg eweneens onskatbare dienste in die stad en provinsie bewys. Hy was lid en voorsitter van verskillende skoolkomitees, en vir ʼn tydperk van nagenoeg 25 jaar voorsitter van die beheerraad van die Vrystaatse Tegniese Kollege. Melding moet gemaak word van sy groot aandeel in die bevordering van godsdiensonderwys in die Vrystaatse skole. Sedert 1949 tot met sy uittrede was hy deeltydse dosent aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege in hierdie Vak. Ten opsigte van leerplanne en die uitbouing van die vak het hy baanbrekerswerk verrig, en was ook deeltydse dosent daarin aan die UOVS. Daarbenewens was hy ʼn vurige vaderlander. Op 15 Augustus 1969 het die Voortrekkers aan hom die orde van Vriend van die Voortrekkers toegeken. Hy was by verskillende groot volksfeeste in Bloemfontein betrokke en het daar as prediker die woord gevoer. Hy was lid van die plaaslike adviesraad van die SAUK en het tot sy dood ook gedien in die Vrouemonumentkommissie en die beheerraad van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein. Nadat hy in 1973, na ʼn dienstyd van 43 jaar, sy emeritaat aanvaar het, was ds. Van Loggerenberg nog intens betrokke by kerklike bedrywighede. Hy het as ouderling gedien en as afgevaardigde die Vrystaatse sowel as die Algemene Sinode bygewoon. Talle huwelike en begrafnisse, waaronder die van oud-staatspresident Jim Fouché, is deur hom waargeneem. Die drang om die evangelie te verkondig het hom tot sy dood bygebly. Ds. Van Loggerenberg word oorleef deur sy vrou, Hermina Heilligers Hugo, en drie kinders.