gebore
13 April 1945
oorlede
13 April 2019
universiteit
BA BTh (US)
gelegitimeer
1974
orden
1975
standplase
1975 Ysterplaat-Suid
1981 Sonnekus
emeriteer
30 April 2005
DS CHRISTIE VAN LILL (BA, BTh) 13 April 1945 – 13 April 2019
Christiaan Johannes van Lill is op 13 April 1945 gebore te Garies. Die streek is in die omgangstaal bekend as die hartland van God se veldblommetuin. Sy ouers is ds Christiaan Johannes van Lill en Heletjie Aletta Smit. Sy vader, ds CJ van Lill, is met sy geboorte die leraar van Kamieskroon. Hy word op 25 September 1937 georden as leraar van die NG Klipkerk op Springbok waar hy as hulpleraar bevestig word. In die tyd leer ken die mense van Kamieskroon hierdie jong leraar goed en hy word op 7 Augustus 1943 bevestig in die NG Gemeente Kamieskroon. Hier beleef die gesin mooi jare, tot hy op 6 Mei 1945 leraar word van die NG Gemeente Graafwater, ‘n gemeente wat geleë is tussen Clanwilliam en Lambertsbaai.
Christie begin sy skoolopleiding in 1951 aan die Laerskool Graafwater en word in 1958 leerling van die Hoërskool Graafwater. Hier begin hy uitblink in atletiek en in sy skoolloopbaan verbeter hy verskeie rekords. Op 15 Februarie 1959 neem sy vader ‘n beroep aan na die NG Gemeente De Aar, waar Christie leerling word aan die Hoërskool De Aar. In 1962 trek hulle na die Kaapse Skiereiland, toe sy pa leraar word van die NG Gemeente Parow-Noord en hy leerling word van die Hoërskool JG Meiring in Goodwood, waar hy verskeie rekords breek in verspring en hoogspring tydens interskool byeenkomste. Christie matrikuleer in 1963 en werk by die Karl Bremer-hospitaal in Bellville en later die Suid-Afrikaanse Spoorweë, waar hy uitstekende onder-vinding opdoen.
Christie voel geroepe om predikant te word en behaal in 1969 die BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch, wat hom toegang gee tot die kweekskool op Stellenbosch, waar hy in 1973 die BTh-graad verwerf en aan die einde van 1974 as proponent gelegitimeer word. Hy spesialiseer in Diakonologie en sy skripsie handel oor die Alta du Toit-Sentrum. Hy trou met Brenette Groenewald, iemand wat hom met oorgawe bystaan in die bediening.
Prop CJ van Lill word op 22 Februarie 1975 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Ysterplaat-Suid, waar hy hard werk en diep spore trap. ‘n Beroep kom na die NG Gemeente Sonnekus in Milnerton, waar hy op 12 April 1981 ontvang en bevestig word. In hierdie gemeente bedien hy die gemeente 23 jaar lank, totdat hy op 30 April 2005 sy emeritaat aanvaar.
Na sy dood op 13 April 2019 op sy 74ste verjaarsdag, skryf die skriba van Sonnekus in die NG Kerk se weeklikse nuusbrief: “Ds Christie van Lill was ‘n groter as groot mens, wat onthou sal word vir sy oulike staaltjies, grappe wat jou laat rol het en ‘n warm drukke wanneer jy dit broodnodig gehad het. Niks was vir hom te veel moeite nie. Na sy aftrede was hy nog altyd betrokke by Sonnekus en die hele gemeente het vir hom en Brenette ‘n spesiale plekkie gehad. Ons dank ons Hemelse Vader dat Hy ons geseën het met ‘n fenomenale persoon. Die mooi boek het afgesluit presies 74 jaar nadat dit begin is. Tot siens, ds Christie. Ons sal altyd aan jou met die hoogste waardering en baie liefde dink.” ‘n Begrafnisdiens vind op Sondag 21 April 2019 om 15:00 in die kerk gebou van die NG Kerk Sonnekus te Milnerton plaas. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 412)