GEBORE
26 Jul. 1908
OORLEDE
23 Apr. 1980
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1934
ORDEN
1935
standplase
1935 Noorder-Paarl (Hpr.)
1937 Kuilsrivier
1943 Riebeek-Wes
1946 Eppingtuin
1948 Albertinia
1954 Stellenbosch-Noord
1962 Tulbagh
1965 Noorder-Paarl
1971 Kleinmond
EMERITEER
1974
Ds. Paul Willem Jacobus Van Jaarsveld (26.7.1908 – 23.4.1980) is op Malmesbury oorlede, waar hy die laaste twee maande van sy lang siekte verpleeg is. In Richmond gebore, matrikuleer hy 1927 aldaar. Op Stellenbosch behaal hy 1933 sy BA en na die vereiste studiejare aan die Kweekskool tree hy einde 1934 tot die bediening toe. Op 1.2.1935 kom hy aan hulpprediker vir die bekende dr M J van der Westhuizen in Noorder-Paarl aan en 30.1O. 1935 word hy in die hoedanigheid daar georden. In die groot gemeente met sy hoë eise werk hy met jeugdige ywer en groot seën tot Oktober 1937 toe hy Kuilsrivier toe vertrek om presies twee jaar na sy ordening daar in sy eerste gemeente bevestig te word. Na ʼn dienstyd van iets meer as 5½ jaar in Kuilsrivier, is hy leraar van Riebeek-Wes (*1943); Eppingtuin (*1946); Albertinia (*1948); Stellenbosch-Noord (*1954); Tulbagh (*1962); Noorder-Paarl (*1965) en eindelik van Kleinmond (*1971); totdat hy 28.7.1974 sy emeritaat aanvaar. Hy bly op Kleinmond woon, waar hy nog gereeld hulpdiens lewer en die evangelieboodskap, ten spyte van die ernstige krankheid waarmee hy van tyd tot tyd te kampe het, duidelik, oortuigend en met groot krag aan ʼn waarderende gemeente bring. Die laaste diens wat hy gelei het, was die laaste in Kleinmond se ou kerksaal. Toe die nuwe kerkgebou ʼn week daarna ingewy is, was hy reeds. in die Tygerberg-hospitaal. Hy was ʼn bekwame, pligsgetroue en buitengewoon hardwerkende leraar en ʼn besielde en besielende prediker. Omdat hy geglo het dat alle mense net een behoefte, die aan die evangelie van Jesus Christus gehad het, was dit deurgaans sy “strewe en oortuiging” dat hy geroep was om “Jesus Christus en Hom gekruisig” te verkondig. Daarby was hy by sy gemeentelede sowel as by sy kollegas bemind. Nooit het hy geskroom om self die hand uit die mou te steek en saam met ander hard te werk om dinge in die gemeentes tot stand te bring nie. In Noorder-Paarl word hy onder andere onthou vir sy aandeel aan die verfraaiing van die terrein om die sierlike kerkgebou en veral ook aan die aanplant van pragtige rose en ander sierstruike, terwyl hy as eerste leraar van Stellenbosch-Noord diep spore getrap en sigbare monumente agtergelaat het, waarvan die mooi kerkgebou een is. Self het hy die inwyding van die gebou September 1958 as een van die hoogtepunte in die jare van sy bediening beskou. Met sy vertrek uit die gevestigde gemeente Riebeek-Wes na Eppingtuin wat onder baie moeilike omstandighede tot stand gekom het, het hy sy gewilligheid getoon om “op beskeie grondslae ewigheidswerk te verrig.” Later kon hy met die verskeidenheid van talente waarmee hy bedeel was, met kennelike seën in toonaangewende gemeentes arbei. Oral het hy bewys gelewer dat hy ʼn ware herder wat met ʼn hart vir oud en jonk en vir arm en ryk. Gedurende sy byna 40 jaar diens in die Kaapse Kerk het hy in belangrike sinodale kommissies soos die Gefedereerde Sondagskoolkommissie, die kuratorium van die Kweekskool en die Admissie-eksamenkommissie (as skriba en later voorsitter) gedien. Van Riversdal en Stellenbosch se skoolrade was hy lid en later ook voorsitter. (Jaarboek 1981/258).