Van Heerden, Francois Jacob Christoffel

Ds. Van heerden Francois

GEBORE

20 Aug. 1914

OORLEDE

31 Mei 2007

UNIVERSITEIT

BA, MTh, Lis Teol (US)

gelegitimeer

1943

ORDEN

1944

standplase

1944 Enkeldoorn

1945 Krugersdorp-Wes

1958 Volksrust-Suid

1963 Organiseerder Christelike Lektuurfonds, Suid-Tvl.

1972 Boksburg-Oos

1975 Mafeking

EMERITEER

10 Jan. 1982

Ds. Frans Van Heerden (BA, MTh, Lis Teol.) (20/08/1914 – 31/05/2007)

Frans Jacob Christoffel Van Heerden is op 20 Augustus 1914 op Ladybrand in die Oos- Vrystaat gebore. Sy vader was Karel Jacobus van Heerden, ʼn inspekteur by die Spoorweë, sy moeder was Sophia Christina Steyn, ʼn huisvrou. Frans kom as jong seun onder die geklank van die Woord in die historiese kerkgebou in die Oos-Vrystaatse grensgordel. Die gesin verhuis later na Christiana waar hy reeds as jong seun die roeping ervaar om predikant te word. In 1926 begin hy sy skoolopleiding op Christiana waar hy einde 1934 aan die Hoërskool Christiana matrikuleer.

Dit was moeilike tye tydens die depressiejare, geld was min en met groot moeite begin Frans sy BA (Admissie) -graad in 1935 aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO op Potchefstroom. Sy harde werk word beloon en hy vertrek in 1939 na Stellenbosch waar hy vier wonderlike jare aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier beleef. Een van sy klasmaats en boesemvriende is Dawid de Villiers van Villiersdorp, later professor aan die Kweekskool op Stellenbosch. Dit was ʼn wonderlike oomblik toe hy einde van 1943 as proponent gelegitimeer word. Hiema is hy ʼn paar maande lank hulpleraar in verskeie gemeentes aan die Rand, onder meer in Roodepoort saam met ds. CB Brink, en in Heidelberg (Tv1) saam met ds. PJ Viljoen. Hy word ook gevra om derde leraar in die Sentrale Gevangenis te word, maar aanvaar in die tyd ʼn beroep na die NG Gemeente Enkeldoom in Rhodesië, waar hy op 28 Oktober 1944 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hier word sy bediening na ʼn jaar kortgeknip toe hy verskeie kere malaria opdoen, sodat hy verplig is orn ʼn beroep aan te neem na die NG Gemeente Krugerdorp-Wes (Burgershoop) waar hy op 24 November 1945 ontvang en bevestig word. Onder sy leiding word ʼn nuwe kerkgebou ingewy, terwyl ʼn woonstelgebou gebou word om in die groot behuisingstekort na die Tweede-Wereldoorlog te voorsien.

Na ʼn wonderlike dienstyd word hy op 16 Junie 1958 herder en leraar in die NG Gemeente Volksrus-Suid, waar hy ook betrokke is met die bou van ʼn nuwe kerkgebou. Na vyf jaar word hy in 1963 organiseerder van die Christelike Lektuurfonds in Suid-Transvaal, ʼn taak wat hy uitstekend verrig tot hy op 27 Mei 1972 weer aan die aktiewe gemeentebediening terugkeer as predikant van die NG Gemeente Boksburg-Oos. Ongelukkig gee sy gesondheid in en moet hy in 1974 sy vervroegde emeritaat aanvaar. ʼn Masedoniese roepstem kom na die NG Gemeente Mafeking waar hy na die aktiewe gemeentebediening op 16 Februarie 1975 terugkeer met sy bevestiging in die naby geleë Botswana. Dit was sewe wonderlike jare met geestelike hoogtepunte. Hy aanvaar op 10 Januarie 1982 sy emeritaat na ʼn geseënde bediening van 44 jaar. Die gesin vestig hulle in Pietemaritzburg, waar hy hospitaalleraar word. In 1984 verhuis hulle na Pretoria waar hy hulpdiens in die NG Gemeentes Pretoria-Oos en Moreletapark verrig. Menige kollega en kennis van hom sal onthou vir die poetse wat hy mense oor die telefoon gebak het, hy het graag sy stem verander en mense daarmee vermaak. Ds. Frans van Heerden was ʼn mens van alle seisoene.

Frans trou op 7 Oktober 1946 met Gertruida Jurina Wiese van Ventersdorp, ʼn musiekonderwyseres en orreliste in al die gemeentes wat hulle bedien. Uit die huwelik is twee kinders gebore: ʼn dogter Euodia van Heerden, ʼn doktor in Opvoedkunde en een van die eerste vier vroue wat in 1990 tot die predikante amp in die NG Kerk toegelaat is. Toe ds. Frans afgetree was, het hy dit geniet om haar Bybelskoolbediening en pastorale arbeid in Somerwet-Wes te beleef. ʼn Seun, Christo, word ʼn mediese dokter op Brakpan, waar hy skielik op 10 Augustus 1992 sterf en laat sy vrou en drie kindertjies agterlaat. Dit was ʼn groot hartseer in die lewe van ds. Frans en Gertruida en hulle het tot met hulle dood soos gelowiges getreur.

In 1994 geniet ds. Frans en die gesin nog goeie gesondheid en verhuis die gesin na Somerwet-Wes en later na die Strand, waar hulle baie jare na hulle kleinkinders moes omsien. Die laaste jare van sy lewe bring hy deur in Ametis, waar hy selfs nog op 93-jarige leeftyd vir inwoners hardop gebid het met sy helder en duidelike stem. Later word hy in die siekeboeg versorg en sterf op 31 Mei 2007 na ʼn leeftyd in diens van die Here se Koninkryk.

Dr Euodia skryf oor hom: “Wat my altyd sal bybly van my pa se bediening, was sy besondere toewyding aan die pastorale deel van sy roeping. Hy het onvermoeid huisbesoek gedoen. Of dit nou by nuwe intrekkers was, oues van dae of net gewone huisbesoek, jy het hom altyd daarmee besig gevind. Hy het onvoorwaardelik geglo dat dit een van die hoekstene van ʼn predikant se roeping is! Hy het nooit lank vertoef nie, seker weens sy besondere haastige geaardheid maar hy het altyd weer teruggekom.”