
GEBORE
1 Mrt. 1931
OORLEDE
09 Jul. 1993
UNIVERSITEIT
BA, BD, MTh
gelegitimeer
1956
ORDEN
1956
standplase
1956 Primrose Môrewag
1964 Broken Hill
EMERITEER
–
Ds. Edwin Mattheus Van Graan (BA, BD, MTh) (1.03.1931 – 09.07.1993)
Ds. Edwin van Graan is skielik op Vrydag 9 Julie oorlede. Hy en sy eggenote, Santie, het hulle na sy aftrede verlede jaar op die plaas by Groot-Marico gevestig waar hy vroeër in sy bediening predikant was. Hy is in die hospitaal in Zeerust opgeneem vir ʼn roetine-ondersoek en is onverwags in sy slaap oorlede.
Edwin is in Florida as tweede seun vir Hoop en Irene van Graan gebore. Hy het sy laer¬skooljare deurgebring aan die Deutsche Schule in Pretoria. Hy matrikuleer in 1948 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool waar hy benewens akademiese prestasie ook uitgeblink het in spon, veral swem.
In 1949 skryf hy in vir BA Admissie aan die Universiteit van Pretoria, en na ʼn onderbreking, van ongeveer een jaar in Duitsland, behaal hy die BD-graad in 1956 en kwalifiseer hy vir die bediening in die Ned Geref Kerk. Hy word op 22 Februarie 1957 in die NG Gemeente Primrose-Morewag in Germiston as eerste leraar van die gemeente georden. Die agt jaar in Germiston was baie produktiewe jare. Wat die amptelike werk betref word ʼn kerkgebou onder sy leiding opgerig, en wat sy persoonlike lewe betref, tree hy op 8 Maart 1958 in die huwelik met Santie van der Merwe. Uit hierdie huwelik word vier kinders gebore.
Na ʼn beroep van die gemeente Broken Hill, verhuis die gesin na Zambië, waar Edwin veral die Afrikaner-lidmate pastoraal bystaan in die tyd van politieke veranderinge na die onafhanklikwording van die land. Terug in Suid-Afrika in 1967, vestig die gesin hulle in Groot-Marico. Die verblyf het ʼn blywende en permanente indruk op hulle gemaak. Gedryf deur sy liefde vir die natuur, het Edwin stadigaan begin grond koop langs die Maricorivier, en so die Marico diep in die hart van al ses van die Van Graans laat inkruip. Selfs na die vertrek na Ohrigstad en Breyten het hulle telkens terug gehunker na O-Liewen-Hoek en Vergenoegd.
In elke werkkring het Edwin deur die genade van die Here, getrou gebly aan sy roeping. Moeilike tye is afgewissel met baie vreugde en sy onvermoeide werkywer het hom ʼn gerespekteerde predikant en kollega gemaak. Benewens die pastorale werk het hy altyd tyd beskikbaar gehad vir studie en ʼn Meestersgraad in die Teologie ontvang.
Hy was ʼn ware eggenoot en gesinsman. Die verbondsbeloftes wat sy ouers teenoor hom nagekom het, het hy op sy beurt nagekom teenoor sy vier kinders. Hy kon daarin slaag om aan elkeen ʼn tersiêre opleiding te gee. Ook het .hy die voorreg gehad om ses kleinkinders te hê.
Nadat hy op 30 Junie 1992 van die Ned Geref Gemeente Breyten demissie ontvang het, het Edwin en Santie hulle op Vergenoegd gevestig tot met sy afsterwe.