GEBORE
21 Mei 1936
OORLEDE
18 Jan 2021
UNIVERSITEIT
BA; Lis Teol (US)
gelegitimeer
1960
ORDEN
1961
standplase
1961 Port Elizabeth-Oos
1965 Humansdorp (Kpln SAPD)
1977 Tafelberg
1983 Oudtshoorn en SWD
1991 Kpln-Genl SAPD
EMERITEER
Des 1993
DS BASIE VAN EEDEN (BA) 21 Mei 1936 — 18 Januarie 2021
Frederick Jacobus van Eeden is op 31 Mei 1936 gebore op Swellendam. Sy vader is Johannes (Hans) van Eeden, wat aanvanklik in die distrik Swellendam boer en later as administratiewe klerk werk by die Swellendamse Koöperasie. Sy moeder is Salmina (Salmien) Nel, ‘n onderwyseres by die plaasskole Leeurivier en Voorhuis. Hulle is ook van 1943 tot 1947 koshuis-ouers op Rietbron en Beaufort-Wes, waarna hulle terugkeer na Swellendam. Hans was van 1940 tot 1961 ‘n getroue kerkraadslid op Swellendam.
Basie begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Beaufort-Wes en die gesin verhuis na Swellendam waar hy sy skoolloopbaan voortsit en in 1953 matrikuleer aan die Hoërskool Swellendam. Hy voel geroepe om predikant te word en studeer van 1954 tot 1960 op Stellenbosch waar hy die BA (Admissie)-graad verwerf. In 1957 word hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy aan die einde van 1960 as proponent gelegitimeer word.
Op 18 Februarie 1961 word hy met handoplegging in die NG Gemeente Port Elizabeth-Oos ontvang en bevestig. Met die afstigting van Port Elizabeth-De Duin word hy in 1963 hulle eerste dominee en die eerste vaste boustene word in die gemeente gelê. Tydens sy dienstyd langs die see by Algoabaai, tree hy op 16 Junie 1962 in die huwelik met Jeannette Liebenberg, dogter van ds. Fred en Janet Liebenberg van Stellenbosch. Ds. Fred Liebenberg was hoofsekretaris van die CSV op Stellenbosch en het as man van God sy lewe gewy aan die Here se werk onder studente en skoliere. Uit die huwelik tussen ds. Basie en Jeannette van Eeden is vier kinders gebore: Sonja, Hanlie, Johannes en Jaco.
Op 17 Julie 1965 word hy die mede-leraar van die NG Gemeente Humansdorp, waar hy agt jaar lank werk met spesiale opdrag as kapelaan van die SA Polisie in die Oos-Kaap. Hier begin ‘n besondere pad in die polisiediens wat oor ‘n tydperk van 21 jaar loop. Hy vorder van ‘n gewone kapelaan tot hy in 1991 vorder tot kapelaan-general in die polisie. Die gesin verhuis na Pretoria toe hy op 10 Februarie 1973 kapelaan word by die Polisiekollege in Pretoria en na drie jaar is hy terug in die Kaapprovinsie toe hy in Kaapstad op 21 Januarie 1977 die medeleraar word van dr Koot Vorster met opdrag bediening van die SAP in die streek.
Ds. Basie se bedieningspad loop op 23 April 1983 na Oudtshoorn, waar hy as kapelaan die streek bedien en ‘n besondere dienstyd in die Klein-Karoo beleef. Na slegs drie jaar kom ‘n roepstem na die hoofkantoor van die kapelaansdienste waar hy in 1991 die hoogste sport beklee toe hy Kapelaan-generaal van die Suid-Afrikaanse Polisie word. Dit is in die oorgangstyd rondom 1994 en hy speel ‘n besondere rol om kalmte en vrede te bring op voetsoolvlak. Hy is ook die stigter en grondlegger van die vak Polisie-etiek aan die opleidingskollege, ‘n belangrike toevoeging tot die onsigbare mondering vir elke man of vrou wat in die SAP diens doen. Daarmee saam het die Woord van die Here sentraal gestaan in ds. Basie se dienstyd as Kapelaan-generaal in die Suid-Afrikaanse Polisie. Hy was 21 jaar lank verbonde aan die SAP as kapelaan en het diep spore getrap as ware vriend, wyse raadgewer en motiveerder vir manne en vroue in uniform. Hy het die vergifnis en liefde van die Here uitgeleef en elkeen kon sy opregtheid en omgee op ‘n besondere manier beleef. Hy was die vader en ‘n verlengstuk van die Here se kerk in duidende polisiestasies oor die lengte en breedte van Suid-Afrika.
Dit was ‘n warm stoel in die Kapelaan-generaal se kantoor, maar met geloofs-moed het hy op alle vlakke geestelike leiding gegee. Dit was ‘n moeilike taak wat hy met oorgawe verrig het, maar die speelveld het al hoe moeiliker geword. Aan die einde van 1993 raak hy medies ongeskik vir werk en maak plek vir ‘n nuwe Kapelaan-generaal in die nuwe politieke bedeling wat in 1994 in werking gestel word. Hierna bly die gesin in Pretoria woon en in 1999 ver-huis die gesin na die Strand waar hy sy eie besigheid bedryf en ‘n wonderlike werksverhouding met sy seuns opbou. Hy is ook in die tyd die direkteur van die GNLD-Instituut.
Hy sterf op 18 Januarie 2021 en ‘n herinneringsdiens word op Sondag 24 Januarie 2021 in die NG Moederkerk op Stellenbosch gehou. By die geleentheid het ds. Hansie Cronjé, ‘n vriend en oud-kollega in die kapelaansdiens ‘n huldeblyk gelewer, waaruit ons ‘n gedeelte aanhaal: “Ds. Basie van Eeden het ‘n skatkis van goue herinneringe nagelaat vir sy geliefdes en almal wat hom geken het. Ek sal hom onthou as my wyse mentor in die SAP-kollege tydens my kapelaansopleiding. Ek sal hom onthou as die dominee wat ware omgee verstaan het, toe hy uit sy pad gegaan het en ons bygestaan het met ons serebraal-gestremde seun se vele uitdagings. Hy het my hoop en rigting gegee in my bediening met ‘n besondere boodskap uit Romeine 13 “Oorwin die kwaad met die goeie”. Ds Basie het my lewe diep en ewig aangeraak. Ek eer sy nagedagtenis.” — Dr Gerdrie van der .Merwe VDM (Bl. 404)