GEBORE
31 Jan. 1917
OORLEDE
31 Jan. 1981
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1952
ORDEN
1953
STANDPLASE
1953 Sondagsrivier
1958 Port Elizabeth-Wes
1964 Somerset-Oos
EMERITEER
1969
Mnr (Vroeër Ds) Stephanus Johannes Hofmeyr (Hoffie) Van Der Spuy (31.1.1917-31.1.1981) het die Oos-Kaaplandse gemeentes Sondagsrivier (Kirkwood); Port Elizabeth-Wes (*1958) en Somerset-Oos (*1964) bedien, voordat hy 18.11.1969 uitgetree het om hom in Somerset-Oos vir die Volksraad verkiesbaar te stel. Hy is op die plaas Slot-van-die-Paarl in Agter-Paarl gebore. Weens die ekonomiese druk van daardie tyd moet hy 1939 met slegs ʼn VI-sertifikaat uitspring om as plaasvoorman ʼn heenkome te soek, maar drie jaar daarna sluit hy as ambagsman by die SA Spoorweë in Soutrivier aan. Deur posstudie lê hy in die loop van anderhalfjaar die eksamens vir st VII tot st X met welslae af. In 1945 gaan hy na Stellenbosch, waar hy sy “studiegeld deur gereelde vakansiewerk en met behulp van lenings vind, sodat hy die grade BA Adm en BA (Hons) in volkekunde kan behaal en die teologiese kursusaan die Kweekskool kan voltooi. Enkele maande sy legitimasie, volg sy bevestiging 28.2.1953 in sy eerste gemeente. Op Kirkwood dien hy in die komitees van die laer- en die hoërskool, sowel as in die Skoolraad van Uitenhage, terwyl hy in Port Elizabeth ʼn lid van die aksiekomitee vir die stigting van ʼn universiteit aldaar en later ook van die raad van die inrigting is. Verder speel hy ʼn leidende rol in die bevordering van die Afrikaanse kultuur in Oos-Kaapland. Hy het ʼn aangename persoonlikheid gehad, maar waar dit die Christelike beginsels gegeld het, kon hy ook sterk standpunt inneem. Daarby was hy ʼn gedissiplineerde mens, ʼn opregte vriend en by uitstek ʼn sorgsame eggenoot en vader. Nadat hy ʼn geruime tyd siek was, het hy die dag voor sy heengaan op sy 64ste verjaardag in Kaapstad blykbaar ook ʼn ligte hartaanval gehad. (Jaarboek 1983/259).