Van Der Sandt, Mario Walter

 

GEBORE

05 Apr. 1937

OORLEDE

03 Des. 2000

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1964

ORDEN

1965

STANDPLASE

1965 Aliwal-Noord.

EMERITEER

Ds. Mario Walter Van Der Sandt (BA) 05/04/1937 – 03/12/2000

Mario is op 5 April 1937 op Lydenburg gebore. Sy vader, Schalk Willem van der Sandt, was ʼn sakeman, onder andere die bestuurder van die Ko-operasie op Harrismith. Sy moeder was Margaretha Johanna du Plooy. Mario het op Harrismith grootgeword en die dorp se laer- en hoërskool bygewoon (*1944 – 1954); Tydens sy skoolloopbaan het hy aktief aan die Voortrekkers en die debatsvereniging deelgeneem en was hy ʼn lid van die skool orkes.

Aanvanklik het Mario aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys in die aptekerswese gestudeer. Hy het egter gou besef dit is nie wat hy wil doen nie. Na gebed het hy na BA-Admissie oorgeslaan, met ʼn voorliefde vir Filosofie en Maatskaplike Sorg. Om Grieks vir graad doeleindes te slaag, het hom egter ʼn ekstra jaar besig gehou en hy het sy BA-graad in 1960 voltooi. Daarna het hy na die Kweekskool op Stellenbosch gegaan om sy Lisensiaat in Teologie in 1964 te kry. Hy is in 1964 gelegitimeer.

Op 15 Mei 1965 is ds. Van der Sandt op Aliwal-Noord georden en bevestig. Drie jaar later het hy ʼn beroep na die Sydenham-gemeente in Port Elizabeth aanvaar. In hierdie tyd was hy in die besonder betrokke by die Jeug-tot-Jeugaksie. Dit het ʼn vonk in pastorale gesprekke geplaas omdat mense oor hulle geestelike lewe begin gesels het. Die probleme weens die ontvolking van die Middestad-gemeentes van Port Elizabeth, ʼn ekonomiese insinking en die gevolglike stryd om oorlewing in gemeentes van die Noord-Ring van Port Elizabeth het besondere uitdagings gestel.

Die prioriteit van sy bediening was om die ware bediening van die Woord te ontgin en die genade karakter daarvan suiwer te bewaar. Hy het grootliks daarin geslaag deur die genade wat God aan hom gegee het. Hierin het die kategese steeds. voorrang geniet. Hy het baie moeite met sy preke gedoen. Dit was altyd netjies uitgeskryf en gepas vir die betrokke ge-leentheid.

Op die breër kerklike terrein het hy in die ringsending- en evangelisasie-kommissies gedien, sowel as in die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid en die Christelike Maatskaplike Raad.

Terwyl hy nog predikant op Aliwal-Noord was, het ds. Van der Sandt in die huwelik getree met Elsab Maria Erasmus. Uit hierdie huwelik is vier dogters gebore, Hannelie (*1966); Gretli (*1968); Elsab (*1969) en Mari (*1970); Daar is reeds. twee kleinkinders.

Ds. Van der Sandt het vroeg ʼn gesondheids. terugslag gehad toe hy aan chronies iskemiese hartsiekte begin ly het. Dit was ʼn familiekwaal. In 1993 moes hy weens gesondheidsredes aftree. Hy en sy vrou het hulle op Jeffreysbaai gevestig waar hy hom besig gehou het met leeswerk, stap, nut swerk, seëlversameling, musiek, skaak en teologiese geskrifte.

In 1997 was sy gesondheid nog redelik, maar hy moes baie rusOp 3 Desember 2000 het ds. Van der Sandt baie benoud geword en is hy na die hospitaal op Humansdorp gehaas. Hy is egter ʼn uur later, twee dae voor sy vyf en dertigste huweliksherdenking, oorlede. Hy is op Jeffreysbaai begrawe en die diens is gelei deur sy boesemvriend en medeleraar van baie j are, ds. Rennie Bester.

Ds. Van der Sandt was ʼn pligsgetroue predikant en ʼn harde werker. Hy het baie moeite gedoen met sy preke en waarlik omgegee vir mense. Hy was ʼn netjiese, altyd goed geklede man en sy sake was altyd georden. Hy was veral lojaal aan sy medeleraars en ander predikante. As hy met hulle verskil het, het hy dit tussen hulle uitgemaak en nooit voor gemeentelede nie. Hy het sy Here met groot oorgawe gedien. Die woorde van moeder Theresa is ook op hom van toepassing: “Die Here het my nie gestuur om suksesvol te wees nie, maar om getrou te wees.” – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 6 Februarie 1997 voltooi het, ʼn gesprek met sy eggenote en die begrafnisrede van ds. Rennie Bester.