Van Der Merwe, Hendrik Petrus

Ds. Hendrik van der Merwe

GEBORE

1 Nov. 1867

OORLEDE

24 Des. 1926

UNIVERSITEIT

BA; BD (US); DD (h.c.) (Univ Edinburgh)

GELEGITIMEER

1893

ORDEN

1895

STANDPLASE

1895 Kenhardt

1897 Britstown

1903 Robertson

1925 Cradock

EMERITEER

Ds. Hendrik Petrus van der Merwe, B.A., B.D., D.D.: 1 November 1867 Murraysburg – 24 Desember 1926 Cradock. Hierdie ryk begaafde en alomgevierde predikant van ons Kerk het sy teologiese opleiding aan die Kweekskool op Stellenbosch ontvang, en is in 1893 gelegitimeer. Sy eerste gemeente was Kenhardt, waar hy in Maart 1895 georden en bevestig is en gearbei het, totdat hy in 1897 ʼn beroep aangeneem het na Britstown, waar hy gestaan het tot 1903. Sy volgende gemeente was Robertson, wat hy ruim 22 jaar lank bedien het. In die begin van 1925 is hy bevestig op Cradock waar hy, na ʼn kort bediening van nog geen twee jare nie, op ʼn tragiese wyse aan ʼn ongeneeslike kwaal, waarvan hy die kieme op ʼn reis in Europa opgedoen het, gestorwe is. Hierdie reis het hy onderneem om as Moderator van die Kerk deel te neem aan die plegtige onthulling van die Delvillebos Gedenkteken in Frankryk. Die Kaapse Kerk het sy waarde geken, en daarvan ook die duidelikste bewyse gegee deur hom op die mees verantwoordelike kommissies van die Sinode te plaas. En toe die Sinode van 1924 hom tot die hoogste posisie in die Kerk, naamlik tot Moderator, roep, was dit ʼn blyk van die vertroue wat hy homself waardig gemaak het. In hierdie verband kan ook genoem word sy afvaardiging in 1921 na Europa om ons studerende jeug aan die buitelandse universiteite te besoek en godsdienstig te bearbei. Hierdie moeilike taak het hy met so groot sukses gedoen dat die Universiteit van Edinburgh hom die graad van Doctor Divinitatis honoris causa toegeken het. Dr. Van der Merwe se heengaan is ʼn onherstelbare en onberekenbare verlies in ons Kerk. Hy was ʼn man van inisiatief en van groot werkkrag, ʼn bekwame moderator en leidsman op kerklike vergaderinge, ʼn verstandige raadsman op Kerklike Kommissies, en ʼn inspirerende persoonlikheid. Hy het deur sy oorspronklikheid van gees, sy ryk belesenheid, sy intensiteit van karakter, sy onbevangenheid van gemoed, sy ywer en toegewydheid, sy genialiteit en genaakbaarheid ʼn diep indruk gemaak op almal wat in die sfeer van sy invloed gekom het. Hy is gestorwe, deur vele beween, en sal lank in geseënde nagedagtenis gehou word.

 

Ekstra:

Dr. Hendrik Petrus van der Merwe (1 November 1867 – 24 Desember 1926) was predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, tweede predikant van die NG gemeente Kenhardt en moderator van 1924 se Kaapse Sinode.

Dr. Van der Merwe is in die distrik Murraysburg gebore en gaan op die dorp skool. Later studeer hy aan die Victoria Kollege op Stellenbosch, waar hy in 1889 die B.A.-eksamen aflê. Daarna studeer hy aan die Kweekskool en ná sy legitimasie reis hy ʼn tyd lank deur Europa tot hy in 1895 ʼn beroep na die NG gemeente Kenhardt aanneem. In 1897 aanvaar hy die herderstaf op Britstown en in 1903 op Robertson as opvolger van ds. Andrew McGregor. Hy het hom veral op die onderwys en armoedeverligting toegespits. Die administrateur van Kaapland versoek hom om in Europa ondersoek in te stel na die metodes wat daar gevolg word om armes te help. Dié kennis kom handig te pas toe hy later voorsitter word van die Sinodale Kommissie vir Algemene Armesorg. Hy was ook lid van die Sinodale Kommissie vir Opvoeding en talle ander kommissies.

In 1920 stuur die Moderatuur van die Kaapse Kerk hom na Europa om die Afrikaanse studente aan verskillende universiteite daar te besoek. Volgens ʼn bron “het hy die werk met soveel aangenaamheid, bekwaamheid en takt verrig dat die Skotse universiteite kennis neem van sy besoek en arbeid in dié verband” en St. Andrew’s aan hom ʼn eredoktorsgraad in die teologie toeken. Dit was die universiteit waar hy sy D.D. verwerf het.

Dieselfde bron skryf van hom: “Dr. Van der Merwe was een van die mees belese manne in ons Kerk. Hy het ʼn kragtige persoonlikheid gehad en daarby die gawe van welsprekendheid en groot seggingskrag.”

Hy sterf op Oukersdag 1926, waarskynlik steeds in die amp van sy laaste gemeente, Cradock.