GEBORE
15 Nov. 1920
OORLEDE
28 Aug. 1979
UNIVERSITEIT
B.A. (Hons.)
GELEGITIMEER
1958
ORDEN
1959
STANDPLASE
1959 Victoria Wes
1961 Maclear
1964 Somerset-Wes
1976 Hottentots-Holland
EMERITEER
–
Ds. Gert Johannes (Gerjo) Van Der Merwe (15.11.1920 – 28.8.1979) se onverwagte heengaan na ʼn ongesteldheid van ʼn paar weke en ʼn breinoperasie in die Tyberberg-Hospitaal, was vir almal wat hom geken het ʼn groot skok. Vanweë sy opgewekte geaardheid, sy besielende geesdrif en sy opregte belangstelling in die wel en wee van sy gemeentelede en sy vriende, was hy alom bemind en geag. Daarby was hy vir sy Skrifgetroue en aktuele prediking bekend. Sy besondere kennis van die Afrikaanse taal is vir die hersiening en beryming van die eerste honderd Afrikaanse Gesange in die ou bundel en vir die vertaling van ʼn aantal Nederlandse tekste ingespan. Ook weens die belangrike aandeel wat hy aan die werk in verband met die nuwe Afrikaanse Psalm- en Gesangboek gehad het, sal sy naam met waardering onthou word. Om dieselfde rede het verskeie Kaapse sinodes in die versorging van hul notule van sy bekwame dienste gebruik gemaak. Verder was hy ʼn gewaardeerde medewerker aan die opstel van die Junior Kategesehandboekies (vir kleiner kinders) en met sy heengaan nog voorsitter van die SJK van Wes- en Noord-Kaapland. Hy was ook ʼn groot liefhebber van die natuur en ʼn kenner van die bonsai. Hy het uit die bekende Van der Merwe-gesin van Moerasvlei (Boplaas) in die Koue Bokkeveld in die Ceres-distrik gestam en wyle die digter-skrywer I W van der Merwe (Boerneef) was een van sy halfbroers. Nadat hy hom aan die Universiteit van Stellenbosch as onderwyser bekwaam het, is hy ʼn paar jaar in die hoedanigheid op Morgenster in Masjonaland werksaam. Later keer hy na Stellenbosch terug om in die teologie te studeer en na sy legitimasie 1958, word hy 21.2.1959 op Victoria-Wes bevestig. Daarna staan hy in Maclear (*1961); Somerset-Wes (*1964) en sedert Januarie 1977 in die gemeente Hottentots-Holland wat kort tevore van Somerset-Wes afgestig is. In die jong gemeente beywer hy hom grootliks vir die oprigting van ʼn doelmatige kerkgebou en uit die gebou vind sy begrafnis plaas ʼn week voordat dit ingewy sou word. (Jaarboek 1980/248).