
GEBORE
22 Okt. 1929
OORLEDE
16 Feb. 2004
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1955
ORDEN
1956
STANDPLASE
1956 Maraisburg
1958 Kuilsrivier
1962 Jeugorganiseerder, Bybelgenootskap
1 Mei 1974 Hoofsekretaris van die BSA
EMERITEER
–
Gerrit Erasmus van der Merwe is op 22 Oktober 1929 op Citrusdal gebore, die tweede jongste seun uit ʼn gesin van ses kinders. Die kinders is kort na mekaar gebore, die oudste vier op die plaas Karingmelksvlei en die jongste twee op Citrusdal. Gerrit se ouers was Albert en Alida van der Merwe, diep gelowige mense en lidmate van die Gereformeerde Kerk wat deur die leraar van De Aar bedien is. Later het Gerrit na die NG Kerk oorgekom waarin hy ook sy opleiding as leraar ontvang het. Gerrit het sy skoolopleiding op Citrusdal ontvang en het in 1947 aan die Hoërskool Citrusdal gematrikuleer. Oor sy ouers se dryfveer om elke kind ʼn staanplek in die lewe te gee, skryf sy broer Hannes: “Dit was veral Pa se boukontrakwerk wat hom in staat gestel het om vir elkeen van ons kinders ʼn ordentlike skool- en naskoolse loopbaan en toekoms te verseker. ʼn Onderwyser moes daar wees, ʼn mediese dokter, ʼn argitek, ʼn bouer, ʼn predikant en ʼn regsman. Wat ʼn keuse van ʼn toekoms! Ja, vir byna almal. Maar vir Gerrit eintlik nie. Hy moes predikant word, is besluit, en daarin is hy gesteun deur die res van die familie.”
Na matriek het Gerrit ingeskryf aan die Universiteit van Kaapstad vir die BA-Admissiegraad, wat hy in 1951 behaal het. By Ikeys het Gerrit bevriend geraak met Stoffel Colyn en later Hennie van Wyk. Hy het met albei ʼn hegte vriendskap tot die einde toe gehad. Einde 1955 is Gerrit as proponent gelegitimeer, ʼn groot oomblik vir hierdie gelukkige gesin van Citrusdal. Gerrit het op 21 Januarie 1956 met Elize de Waal getrou, en uit die huwelik is drie dogters gebore, Mari, Alida en Liza. Op 2 Junie 1956 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Hofmeyr ontvang en bevestig. N langer as twee jaar in die Karoo, het hy op 23 Augustus 1958 leraar van die NG Gemeente Kuilsrivier geword. Sy medeleraar was sy goeie vriend ds. Stoffel Colyn. In Kuilsrivier het hulle hartlik saamgewerk totdat Gerrit in 1962 ʼn pos by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika aanvaar het.
Ds. Colyn skryf oor sy kollega: “Ds. Gerrit was ʼn predikant wat sy roeping ernstig opgeneem het. Hy het ʼn besondere intellek, kommunikasievernuf, vriendelike geaardheid en buitengewone gesonde sin vir humor gehad. Boonop was hy ʼn bekwame prediker. Hy was ʼn getroue en volhardende Bybelstudent. Die Woord van God, soos opgeteken in die Bybel, was vir Gerrit ononderhandelbare waarhede, daarin het Hy geleef. Hy was lewenslank geroepe om dit uit te dra en te verkondig aan almal met wie hy in aanraking gekom het. In sy gemeenskaplike werk in die twee gemeentes waarin hy gestaan het, was hy ʼn roepingsbewuste dienskneg wat met groot ywer vir die Here gewerk het.”
In 1963 is Gerrit by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) as sekretaris vir kommunikasiemedia en inligting aangestel. Na slegs sewe jaar het hy adj. onderhoofsekretaris van die BSA geword. Op 1 Mei 1974 is hy aangestel as hoofsekretaris van die BSA, iemand wat tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1990 diep spore getrap het.
Sy aftrede het Gerrit nog ʼn ruk lank diens gedoen as konsultant vir die Bybelgenootskap. Sy broer Hannes skryf: “Toe hy sy taak by die Bybelgenootskap begin het, het ek dikwels sy meelewendheid en na- aan-die-grondeerlikheid ervaar. Hy moes byvoorbeeld ʼn huis in Kaapstad aan skaf en die advies aan hom was dat sy amp eintlik meer as die gewone voorstedelike woonhuis vereis. Hy het egter verkies om ‘n nederige, funksionele woonplek te koop.”
Die “Bibnuus” (Februarie 2004); onthou hulle kollega van die Bybelgenootskap soos volg: “Hy het binne en buite Suid-Afrika leiding geneem met Bybelgenootskapwerk. Bybelgenootskap aktiwiteite in Suid-Afrika het ʼn groeifase tydens sy dienstydperk beleef. Enkele hoogtepunte is die volgende: bekostigbare Bybels vir Afrika; Bybelproduksie binne Suid-Afrika; die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel; en die tot standkoming van selfstandige Bybelgenootskappe in Botswana, Lesotho, Swaziland en Namibië.”
Hierdie dienskneg van die Here het op 16 Februarie 2004 gesterf. In ʼn huldeblyk het ds. Stoffel Colyn onder meer gesê: “Gerrit van der Merwe sal ook onthou word vir die geweldige algemene kennis en insig waaroor hy beskik het en dit het meegebring dat hy met enige persoon wat sy pad gekruis het, kon kommunikeer. Hy het baie gelees en dit het hom op hoogte gehou van baie aangeleenthede en in staat gestel om oor enige onderwerp met enige persoon te kon gesels. Lidmate van Welgemoed, waar hy en Elize tot en met sy skielike heengaan gewoon het, getuig nog steeds van sy besondere insig wat hy in die Woord gehad het en vir die wyse waarop hy die senior Bybelstudiegroep gelei het. Ds. Gerrit se heengaan het beslis ʼn groot leemte gelaat in die harte van sy gesinslede en familie, in die kerk waar hy met soveel ywer gedien het en onder kollegas met wie hy ʼn besondere liefde en vriendskap gedeel het.” – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2005).