
GEBORE
4 Sep. 1904
OORLEDE
9 Nov. 1983
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1933
ORDEN
1937
STANDPLASE
1937 Newcastle
1938 Dundee
1940 Glencoe
1943 Wakkerstroom
1950 Erasmus/Bronkhorstspruit
EMERITEER
1968
Ds. Floris Albertus Jacobus Van Der Merwe (4.9.1904 – 9.11.1983); aan wie ʼn mooi en lang bediening in drie Natalse en twee Transvaalse gemeentes vergun was, is op Durbanville oorlede waar hy as emeritus woonagtig was. Op Klippiesdam in die distrik Darling gebore, groei hy as Bolandse plaasseun tussen die koringlande op. In die knellende droogte- en depressiejare voltooi hy in 1933 sy studies aan die Stellenbosse Kweekskool. Omdat daar in die tyd van ekonomiese druk nie genoeg gemeentes vir die proponente is nie, werk hy drie jaar lank as hulpprediker oral rond, van Johannesburg tot in Mariental, SWA. Eers op 16.1.1937 word hy op Mount Prospect bevestig as hulp vir die leraar van die uitgestrekte gemeente Newcastle op die Spoorweë se modeldorpies Arbeidslus en Werkgenot by Mount Prospect en Ingogo. As spoorwegpredikant het hy daar plaaslike kommissies om hom by te staan in plaas van ʼn kerkraad. Sy gereelde verslae aart die armsorgsekretaris getuig van die goeie werk wat hy en sy gade onder die spoorwegmense verrig het. Net toe daar sowat 16 maande later met die verskuiwing van die modeldorpies na Queenstown begin word, gaan hy na Dundee as hulpleraar en later medeleraar van die bekende ds. M W Odendaal, wat 16 keer moderator en twee keer assessor van die jaarlikse Natalse Sinode was. Enkele jare na die stigting van die gemeente in 1917, begin die gemeenskap by die spoorwegaansluiting Glencoe vinnig aangroei. Tot 1926 hou eerw. W P Esterhuysen een keer per maand daar dienste en daarna aanvaar die gemeente Dundee die verantwoordelikheid daarvoor. Toe die spoorweg later geëlektrifiseer word, neem die bevolking nog vinniger toe, met die gevolg dat Glencoe in Februarie 1940 van Dundee afgestig word en slegs drie maande daarna in die persoon van die jonger leraar van die moedergemeente sy eerste herder en leraar kan verwelkom. Nadat hy nog drie jaar in Natal werksaam was, lei sy pad Transvaal toe waar ons vir die orige kwarteeu van sy bediening sy spore in Wakkerstroom (*1943) en in Bronkhorstspruit (vroeër Erasmus) (*1950) vind. In laasgenoemde gemeente word daar onder sy leiding ʼn nuwe kerkgebou opgerig. Verder was hy ʼn bekende lid van verskeie kommissies van die Sinode van Noord-Transvaal. Op 1.12.1968 tree hy uit die diens. Sedert sy aftrede preek hy nog dikwels, terwyl hy ook as Durbanville se afgevaardigde ouderling ʼn paar sinodes bywoon. Hy is as ʼn toegewyde, Godvrugtige leraar bestempel, wat met deernis afgebuig het na mense in hul nood en vir hulle troos gebring het – inderdaad “ʼn man wat deur God gestuur is’. (Jaarboek 1984).