Van Der Merwe, David Frederik * 1920

 

GEBORE

15 Jul. 1920

OORLEDE

07 Des. 2006

UNIVERSITEIT

BA, MA

GELEGITIMEER

1946

ORDEN

1947

STANDPLASE

1947 Oranjeville

1951 Beaufort-Wes

1961 Oudtshoorn-Wes

1972 Strand

EMERITEER

1986

David Frederick Van Der Merwe is op 15 Julie 1920 in die Paarl gebore, ʼn seun uit die pastorie in die Paarl en naamgenoot van sy vader. David Frederick van der Merwe (1893-1953) is sedert 1918 predikant in die Strooidakkerk in die Paarl en word in 1941 leraar van die nuwe NG Gemeente Paarl-Vallei, waar hy na ʼn dekade in 1951 sy emeritaat aanvaar. Hy was getroud met Janet van der Merwe. Die jong David se oupas was Karoo-boere, die een in die distrik Hanover en die ander op Nuwejaarsfontein in die distrik Britstown. David begin sy skoolopleiding in 1927 aan die Laerskool Paarl en matrikuleer in 1938 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl.

Op veertienjarige leeftyd kry hy polio en moes hy ʼn jaar lank op sy rug in die bed bly. Deur die Here se genade kon hy die teleurstelling verwerk en moedig sy skoolloopbaan voltooi en verder gaan studeer. Dit kon nie sy roeping om predikant te word kelder nie, maar het sy geloof en roeping versterk. Hy kuier dikwels by sy grootouers in die Karoo en bly ook ʼn tyd weens siekte by hulle op die plaas by Britstown. So ontwikkel hy ʼn onbeskryflike liefde vir die Karoo en sy mense. Aan die begin van 1939 begin hy sy BA (Admissie) -graad op Stellenbosch, neem aktief aan die studentelewe deel, is voorsitter van die Debatsvereniging, dien in die Studenteraad, is redakteur van Die Matie en neem leiding in Dagbreek-koshuis. Hy presteer ook akademies deur die MA-graad in Sielkunde te behaal. Hierna volg vier wonderlike jare aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy einde 1946 as proponent gelegitimeer word.

Prop David van der Merwe is ʼn paar maande later hulpleraar in die NG Gemeente Shannon buite Bloemfontein, tot hy op 19 Junie 1947 met handoplegging bevestig word as herder en leraar van die NG Gemeente Oranjeville aan die Vaalrivier. Die rede word gelewer deur ds. Louis Nel van Heilbron. Hier is hy betrokke met die bou van ʼn nuwe kerkgebou. In die winter van 1951 word hy herder en leraar in die NG Moederkerk op Beaufort-Wes in die Groot-Karoo. In sy dienstyd word ʼn nuwe pastorie in 1957 gebou, ook ʼn kerkgebou vir die NG Kerk in Afrika. Dit was besondere jare in die wye ruimtes wat hy van kleins af liefhet. Na tien jaar neem hy in die winter van 1962 ʼn beroep aan na die NG Gemeente Oudtshoorn-Wes, waar hy op die walle van die Grobbelaarsrivier die mense in Kannaland met oorgawe bedien.

Aan die begin van 1972 word ds. David en Isobel van der Merwe die nuwe leraarspaar in die NG Moedergemeente Strand. Hier werk die egpaar baie hard. Isobel skryf: “Dertien jaar lank werk David met toewyding, groot vrug en seën van die Here. Sy grootste prioriteit was die insameling van kosbare siele vir sy geliefde Meester se Koninkryk. Die versorging van bejaardes was hier een van sy take waaraan hy besondere sorg geskenk het.” Hy aanvaar op 2 Mei 1986 sy emeritaat en die egpaar gaan woon in Helderberg by Somerset-Wes, waar hy ook meer aandag aan sy stokperdjie, duiwe, kan gee. In 2002 verhuis hulle na Huis Altena in die Strand, waar hy versorg word tot op sy oorstap na die Hemelstad op 7 Desember 2006. ʼn Gedenkdiens word deur ds. Abri Botha gehou, die teksvers is Psalm 37:5.

David is op 20 Maart 1948 op Morgenster in die destydse Rhodesië getroud met Isobel Murray, dogter van ds. Henry Murray, hoof van die sending in Masjonaland. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Henriette, tans ʼn advokaat in Johannesburg en getroud met prof Dana Murray; Jeanne is getroud met Frans Badenhorst en albei gee onderwys aan die Trans-Oranjeskool vir Dowes in Pretoria; David Frederick van der Merwe is ortopediese chirurg op Nelspruit; en Henry Murray van der Merwe is adjunkhoof by ʼn groot ingenieursfirma.