Van Der Merwe, Cornelis

 

GEBORE

30 Nov. 1912

OORLEDE

04 Apr. 1999

UNIVERSITEIT

BA, MA

GELEGITIMEER

1937

ORDEN

1938

STANDPLASE

1938 Maitland

1945 Leonard

1949 Loxton

1954 De Aar-Noord

1958 Eervolle ontslag

1959 Aroab

1966 Ugie

EMERITEER

1970

Cornelis van der Merwe was een van daardie kleurvolle predikante wat die kerk in die vorige eeu opgelewer het. Hy het verskeie belangstellings gehad en sy bediening was vir hom ʼn roeping. Aangesien hy altyd reguit en eerlik was, het hy soms op tone getrap en was hy nie altyd gewild nie. Maar elkeen van sy ses gemeentes het hom liefgekry en hegte vriendskappe en verhoudings is ontwikkel wat nog tot baie jare na sy aftrede in stand gehou is.

Ds. Van der Merwe was waarskynlik die eerste predikant wat leer vlieg het, sy eie vliegtuig gekoop en met sy Piper Supercruiser sy uitgestrekte gemeentes in die Karoo en Namibië bedien het. Van 1950 tot 1970 het hy 2 500 vliegure opgestapel.

Cornelis is op 30 November 1912 op Montagu gebore. Sy vader was Johannes Hendrik van der Merwe, ʼn onderwyser wat later skoolhoof geword het. Sy moeder was Mariana Korsten, ook ʼn onderwyser. Hy het die Laerskool en Hoërskool Montagu bygewoon en in 1930 matriek in die eersteklas geslaag, en daarmee ʼn beurs gekry om Stellenbosch toe te gaan.

Op skool het hy ʼn medalje vir skyfskiet gewen en ʼn hoenderboerdery gehad. Daarom was sy bynaam ook Hoender op skool.

In 1933 het hy die BA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en saam met sy Kweekskoolopleiding ook die MA-graad voltooi. Hy is in 1937 gelegitimeer. As student was hy hoof van die Sondagskool vir kleiner kinders en het hy aan sport deelgeneem. Hy het Maties in swem verteenwoordig. As lid van die tweede rugbyspan het hy na Oos-, Noord- en Wes-Transvaal getoer en as lid van die Maties-eerstespan het hy na Kenia (*1934 – 1935) getoer. Hy het selfs een keer vir WP uitgedraf voordat hy weens ʼn besering sy stewels moes bêre.

In 1938 is ds. Van der Merwe in Maitland georden en bevestig. Gedurende sy bediening hier het twee gemeentes afgestig, Ysterplaat en Pinelands. Hy het gehelp om ʼn saal te bou, asook die kerkgebou in Pinelands.

In hierdie tyd het ds. Van der Merwe Helena Antonia Eelders ontmoet. Hulle is op 19 September 1939 getroud. Hulle het ses kinders gehad: Johannes Hendrik (*1942); Theodorus(*1944); Cornelis Antonie (*1946); Anna Alida (*1948); Leonard (*1951) en Marius (*1960); Cornelis is in die kerkie van die Leonard-gemeente gebore waar die gesin tydelik in die moederskamer en konsistorie gebly het terwyl die pastorie gebou is.

ʼn Tragedie het die huisgesin op 24 Maart 1993 getref toe Leonard (wat na die gemeente genoem is en sy pa se liefde vir vlieg gedeel het); saam met twee vriende tydens ʼn vlug in die see by Lüderitz verdwyn het. Niks is weer van hom gehoor nie (hoewel daar in 2003 sprake was van ʼn vliegtuigwrak wat naby Walvisbaai gevind is); Daar was in 1997 tien kleinkinders.

Die gemeente Leonard (Leonardville) in Namibië was ds. Van der Merwe se tweede gemeente (*1945); Vier jaar later het hulle na Loxton in Noord-Kaap verhuis waar ds. Van der Merwe die bou van ʼn kerksaal en pastorie gereël het. In 1954 is hy in die nuutgestigte gemeente De Aar-Noord bevestig. Ook hier was hy die stukrag agter die bou van die kerk. In 1958 het hy eervolle ontslag uit die bediening gekry en is hy weer na die gemeente Aroab in Namibië beroep. Hier kon hy sy liefde vir die natuur en die buitelewe na hartelus uitleef terwyl hy ook pligsgetrou sy roeping as predikant vervul het. Hier het hy die boek, Is skiet na die wolke vir reën, sonde? geskryf.

Sy laaste gemeente was Ugie in die Oos-Kaap wat hy tot met sy aftrede in 1970 bedien het. In vier van die ses ringe waar hy was, het hy as skriba of voorsitter gedien. Ds. Van der Merwe was ook hulpskriba van die Sinode van SWA sowel as van die Sinodale Kommissie.

Na sy emeritaat het hulle eers op Hartenbos (*1970-1974) gaan woon en van daar na Sinksabrug verhuis. Ds. Van der Merwe het nog in gemeentes afgelos, gepreek en as ouderling gedien.

In 1999 het hy en sy vrou sy suster in Durbanville gaan besoek. Nadat hy ʼn dokter oor ʼn bloeiende neus geraadpleeg het, is leukemie by hom gediagnoseer. Hy het vinnig verswak en is op 4 April 1999 oorlede. Hy is begrawe uit die gemeente Outeniqualand waar Sinksabrug geleë is.

Ds. Van der Merwe was ʼn man van die natuur wat ook knap was met sy hande. Hy was hardwerkend en ʼn aktiewe mens. Hy het vir die jeug ʼn boek geskryf, Die heuningby se boodskap aan die jeug, en het ʼn groot bydrae tot die gedenkboek van Leonard-gemeente gelewer.

So ʼn man, vader, leraar en vriend vergeet ʼn mens nie maklik nie. Ons dank die Here vir sy lewe.

(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 01/02/1997 ingevul het en ʼn gesprek met sy eggenote en seun Cornelis). (Jaarboek 2000).