GEBORE
16 Nov. 1931
OORLEDE
11 Jun. 1994
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1957
ORDEN
1958
STANDPLASE
1958 Windhoek-Wes
1960 Windhoek-Noord
1962 Calvinia
1966 Ohrigstad
03.06.1967 Porterville: 22.01.1971 Richmond
26.04.1974 Tulbagh
EMERITEER
1990
Ds. Callie Van Der Merwe is op 16 November in die destydse Suidwes-Afrika gebore en het sy skoolopleiding in Windhoek gehad. Daarna is hy, in 1957 na sy studies aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, gelegitimeer.
In 1958 is hy getroud met Hilda Ensink, oorspronklik van Moorreesburg, maar toe kindertuin-onderwyseres op Stellenbosch.
Gedurende sy bediening van 32 jaar, het hy die volgende gemeentes bedien: Windhoek-Wes, waar hy op 19 April 1958 georden is, Windhoek-Noord (vanaf 1960); Calvinia (17.11.1962); Ohrigstad (25.06.1966); Porterville (03.06.1967); Richmond (22.01.1971) en Tulbagh (26.04.1974) waar hy gearbei het totdat hy sy emeritaat op 30 Junie 1990 aanvaar het.
Hy was ʼn uitnemende prediker wat teologies `bygebly’ het, ʼn stiptelike en korrekte voorsit-ter van vergaderings, ʼn spitsvondige en gesogte seremoniemeester met ʼn besondere humorsin. Hy het veral vir die kategese ʼn groot liefde gehad. Hy het altyd as mens met sy mense gepraat. Selfs die kinders het getuig dat hulle sy preke so goed kan verstaan. Sy gemeentelede was ook sy vriende. Tog het hy duidelik standpunt ingeneem, selfs oor landsake, maar dit op so ʼn manier gedoen dat hy niemand aanstoot gegee het nie. Hy, was ook jare lank voorsitter van die Skoolkomitee. Hy het ʼn liefde vir lees en literatuur gehad, veral poësie en geestelike boeke. Hy was ook baie lief vir die natuur en die dierelewe.
Hy word oorleef deur sy eggenote, Hilda, en sy kinders: Ronnie (ʼn narkotiseur); Francois (ʼn vlieënier) en Etresia (Clarke Brown); Daar is vyf kleinkinders. Mev. Hilda van der Merwe het ook haar plek aan haar man se sy in ʼn besondere sin volgestaan. Daarvan getuig die baie blyke van dankbaarheid, huldiging en waardering wat ook sy by hulle afskeid, na 16 jaar se bediening in Tulbagh, ontvang het. Die kinders beskou hom as die ‘beste pa’.
Sy emeritaat moes hy aanvaar weens verswakte gesondheid omrede kanker van die beenmurg, hoewel hy nog ʼn jaar pastorale werk gedoen het. Sy worsteling met sy siekte het almal aangegryp. Hulle het later aan die Strand gaan woon, en hoewel hy in ʼn rystoel beweeg het of met ʼn kierie, het hy tog nog sy motor bestuur.
Uiteindelik was hy bedlêend, terwyl sy vrou hom liefdevol versorg het. Hy is in die hospitaal oorlede. – DJ Viljoen, uit bronne en gesprek met die familie. (Jaarboek 1995).