
GEBORE
13 Apr. 1897
OORLEDE
23 Apr. 1978
UNIVERSITEIT
M.A. (SACS), ThD. (Utrecht); D.Litt. et Phil
GELEGITIMEER
1925
ORDEN
1926
STANDPLASE
1926 Kaapstad
EMERITEER
1966
Dr Abraham Johannes Van Der Merwe (13.4.1897 – 23.4.1978); een van ons land se bekendste figure op kerklike gebied en een van ons eie Kerk se vernaamste leiers, is deur die Kaapse Sinode van 1945 en deur die vier daaropvolgende sinodes tot Moderator gekies. By die historiese konstituering van die eerste Algemene Sinode 1962, word hy voorsitter ook van daardie belangrike vergadering. Op Koppieskraal in die distrik Calvinia gebore, matrikuleer hy aan die skool op die dorp, om daarna na die ou SA Kollege in Kaapstad te gaan, waar hy die MA-graad met lof behaal en ‘n beurs verower om sy studie in die buiteland voort te sit. Hy volg egter eers die Kweekskoolkursus op Stellenbosch en lê daar die eindeksamen met die hoogste lof af, voordat hy na die Ryksuniversiteit van Utrecht in Nederland vertrek, waar hy Julie 1925 met ‘n proefskrif oor die sondebegrip in die Engelse evolusionistiese wysbegeerte tot doktor in die teologie bevorder word. In dieselfde jaar gelegitimeer, doen hy ‘n paar maande hulpdiens in sy moedergemeente, voordat hy ‘n beroep na Kaapstad aanvaar en 16.4.1926 bevestig word in die gemeente waaraan hy sy hele bediening tot sy aftrede van 30.1.1966 wy. Hy bly in die Moederstad woon, maar na ‘n aanval van beroerte gaan sy gesondheid geleidelik agteruit, met die gevolg dat hy hom gedurende die laaste 5½ jaar van sy lewe al meer aan die openbare lewe onttrek. Sy dood volg op nog ‘n toeval aan sy woning in Oranjezicht. Sy heel besondere gawes van hoof en hart wy hy op bekwame wyse in diens van die Kerk, van die opvoeding en van ons land. Hy was een van die voortreflikste voorsitters wat ons Kerk nog opgelewer het, ook omdat hy die groot gawe besit het om selfs in die mees gespanne situasie met ‘n gevatte woord verligting te bring, sonder om iemand te kwets of om neer te daal van die hoë en waardige vlak waarop hy altyd beweeg het. As kragtige kanselredenaar en geleentheidspreker het hy weinig gelykes gehad. Deur sy kenmerkende humorsin en sy vriendelike blymoedigheid was hy in baie wyer kringe as slegs sy eie gemeente en kerk gewild en hoog geag. Begryplikerwys het hy in talle verantwoordelike kerklike kommissies gedien. Onder meer was hy voorsitter van die Raad van die Kerke, van die Kuratorium van die Stellenbosse Kweekskool en van die vroeëre Kerkbode-Kommissie. Verder was hy 35 jaar aan die Bybelgenootskap verbonde en gedurende die eerste ses jaar van die Bybelgenootskap van SA se bestaan voorsitter van die Nasionale Raad. Van die skoolkomitee van die Jan van Riebeeck-Hoërskool Kaapstad se eerste Afrikaansmedium hoërskool – was hy 37 jaar die voorsitter en 27 jaar lid van die Raad van die Universiteit Kaapstad. In 1952, met die viering van die driehonderdjarige bestaan van die volksplanting aan die Kaap, tree hy ook met groot bekwaamheid as voorsitter van die sentrale feeskomitee op. Hy het voorwaar ‘n bedrywige, nuttige en geseënde dienstyd in belang van die Kerk en die wyer gemeenskap gehad en het dan ook nie minder as vier eredoktorsgrade as erkenning van sy uitnemende dienste op verskillende gebiede ontvang nie. Met sy forse gestalte, sterk persoonlikheid en welluidende stem, was hy ‘n kragfiguur, ‘n man van gesag en daarby met ‘n helder insig, skerp intellek en buitengewone leierseienskappe geseën. By sy heengaan is hy gehuldig as ‘n begaafde leier wie se optrede altyd eer en luister aan sy Kerkraat toekom het. Hy het ‘n onuitwisbare stempel op die Kerk en die samelewing van sy tyd afgedruk en sy invloed sal veral in die kerklike lewe nog lank gevoel word. (Jaarboek 1979/271).