Van Den Heever, Johannes Augustus

 

GEBORE

26 April 1932

OORLEDE

 4 Oktober 2014

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1957

ORDEN

1958

standplase

1958 Steynsrus

1962 Kamieskroon

1966 Clanwilliam

1971 Moorreesburg

1977 Lutzville

EMERITEER

1991

Johannes Augustus van den Heever is op 26 April 1932 op Springbok in die Namakwaland gebore. Sy ouers is Frans Albertus van den Heever en Martina Gerhardina van Jaarsveld, twee godvresende mense wat die familieplaas, Varsputs, as ouerhuis en veilige hawe inrig. Jan is een van sewe broers en ‘n suster, wat elkeen ‘n plaas erf. Frankie word ‘n mediese dokter met ‘n praktyk op Springbok, en Jan word predikant, terwyl Frans se ander seuns gaan boer. Jan begin sy skooljare op Taaibosmond, ‘n plaasskooltjie in die Boesmanland. In 1939 word hy ‘n leerling aan die Laerskool Springbok, en hy matrikuleer in 1950 aan die Hoërskool Springbok. Dit is ook die eeufeesjaar van die NG Gemeente Namakwaland op Springbok, waartydens sy roeping om die evangelie te bedien bevestig word.

Jan se pad loop in 1951 na Stellenbosch, waar hy ‘n BA-graad in 1953 verwerfwat hom toegang gee tot die Teologiese Seminarium. Hy speel rugby vir Maties en vir die Van der Stelklub, en hy sing in die Kweekskoolkoor. Hy is ‘n briljante student en hy slaag al sy kursusse cum laude. In 1957 word hy as proponent gelegitimeer. Vroeg in 1958 help hy in die NG Gemeente Kroonstad, en gou ontvang hy ‘n beroep na die NG Gemeente Steynsrus, waar hy op 18 Oktober 1958 met handoplegging bevestig word.

Terwyl hy as ongetroude leraar op Steynsrus werk, ontmoet hy Azania Vorster, ‘n onderwyseres op Hennenman. Sy is ‘n boorling van Trompsburg in die Suid-Vrystaat. Op 2 Julie 1960 tree Jan en Azania in die huwelik in die mooi historiese kerkgebou op Trompsburg. Uit die huwelik is daar vier kinders gebore: Hilsa, Marinda, Amoure en Fransil. Laasgenoemde se eggenoot is ds. Willie Kotze van Gansbaai.

Op 4 November 1962 lewer Jan sy afskeidspreek op Steynsrus, nadat hy ‘n beroep na die NG Gemeente Kamieskroon aanvaar het. Hier word hy op 17 November 1962 bevestig. Daarna loop hulle pad na die NG Gemeente Clanwilliam, waar hy op 23 Julie 1966 bevestig word. Na vyfjaar daar vertrek Jan na die Swartland, waar hy op 19 November 1971 in die NG Gemeente Moorreesburg bevestig word. Hier werk hy ses jaar lank, totdat hy op 22 Januarie 1977 die leraar word by die NG Gemeente Lutzville. ‘n Nuwe kerksaal word in die tyd daar gebou. Hier werk hy met groot seën, tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 28 April 1991. Hy was altesaam 33 jaar in die bediening.

Jan en Azania Vorster tree af op hulle plasie, De Hoop, buite Vredendal. Hier sterf Azania op 12 Februarie 2012 aan kanker, en na ‘n roudiens op Vredendal, word sy veras. Haar as word geplaas op die graf van haar vader in die begraafplaas op Trompsburg. Jan bly aan op De Hoop, totdat hy siek word en lang tye in die Strand deurbring. Hy sterf op 4 Oktober 2014. Na ‘n roudiens op Vredendal word hy in die historiese familiekerkhof van die Van den Heevers op Varsputs begrawe. — Dr. Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).