Van Den Berg, Ernst Hendrik

 

GEBORE

19 Jun. 1920

OORLEDE

25 Aug. 1999

UNIVERSITEIT

BA, BA Hons, MA

GELEGITIMEER

1948

ORDEN

1949

STANDPLASE

1949 Dealesville

1957 Aranos

1960 Gibeon

1962 Elsburg

1966 Elsburg-Suid

EMERITEER

1980

Ernst van den Berg is op 19 Junie 1920 op De Wetsdorp gebore. Sy pa, ook Ernst Hendrik van den Berg, was ʼn boer en Magdalena Margaretha van Tonder was sy sorgsame moeder. Hy het eers ʼn plaasskool in die Bloemfontein-distrik bygewoon tot in 1927. Daarna het hy tot in 1932 ʼn ander plaasskool in die distrik van Reddersburg besoek. Vanaf 1933 tot 1936 was hy op die Hoërskool Reddersburg. In sy tienerjare het hy veral belanggestel in sy pa se boerdery en boerdery-bedrywighede ywerig beoefen.

Sy universiteitsloopbaan het aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin. As gevolg van grootskaalse werkloosheid in daardie jare, het hy buitemuurs ingeskryf vir die BA-kursus. Hy het sy BA-graad in 1942 verwerf. In hierdie tyd het hy as vakleerling by Die Volksblad gewerk. Gedurende 1944 het hy nagskofte gedoen om Grieks en Hebreeus binnemuurs te kon voltooi. Hy het sy BA Hons in 1943 en MA in 1944 verwerf. Daarna is hy na die Kweekskool op Stellenbosch. Hier het hy vir nege maande nagdiens by Pro Ecclesia-Drukkery gedoen en vakansietye by Die Volksblad gewerk om vir sy studies te kan betaal. Reeds in hierdie tyd, as gevolg van harde werk en inspanning, het hy die eerste tekens van pynlike rumatiek en artritis getoon. Hy het ook aan slapeloosheid gely wat hom later in sy lewe baie gepla het. Hy is op 9 Desember 1948 gelegitimeer.

Op 20 Januarie 1950 is hy getroud met Johanna Margaretha de Villiers, ʼn musiek-student van Jacobsdal wat hy op universiteit ontmoet het. Hulle het drie kinders gehad, Ernst Hendrik (06/03/1951); Johanna de Villiers (12/11/1952) en Magdalena Wilhelmien (05/10/1955); Uit hulle huwelike is daar reeds vyftien kleinkinders gebore.

Sy eerste gemeente was Dealesville in die Vrystaat waar hy in Oktober 1949 georden en bevestig is. Hy het daar met die bou van ʼn pastorie gehelp. Na byna agt jaar het hy na Namibië na die Gemeente Aranos verskuif waar hy in Januarie 1958 bevestig is.

Die egpaar was baie gelukkig in hierdie gemeente, ten spyte van die feit dat hy groot afstande moes ry vir huisbesoek – hy moes gereeld ʼn drom petrol saamry! In Junie 1960 hy na die Gemeente Gibeon in Mariental verskuif waar hy die kerkgebou help restoureer het. Daarna het hy teruggekeer na Suid-Afrika en is in Januarie 1962 te Elsburg bevestig. In Januarie 1966 word hy die leraar van Elsburg-Suid. Ook hier het hy met die oprigting van ʼn pastorie gehelp. Dit is dan ook die gemeente waar hy die langste diens gedoen het – altesame veertien jaar totdat hy in Junie 1980 afgetree het.

Dwarsdeur sy bediening het sy gesondheid maar probleme gegee en het hy soms swaar gely. Na sy emeritaat het hulle eers vanaf 1980 tot 1990 in Primrose gaan woon. Daarna (tot in 1993) het hy op ʼn klein stukkie grond naby Jacobsdal met Dorper-skape gaan boer. Vanaf 1994 het hulle hulle in Parys gevestig. Hy het nog af en toe met die prediking in die NG Sendingkerk en in die NG Kerk in Afrika gehelp. Ten spyte van sy swak gesondheid en die feit dat sy vrou al die jare moes help met die lewensonderhoud, was hy steeds dankbaar dat die Here hom so lank gespaar het en het homself as baie geseënd beskou.

Op 25 Augustus 1999 is hy egter skielik aan ʼn hartaanval oorlede (“soos met ʼn koeëlskoot het hy geval”, word gesê, ten spyte van die feit dat hy nooit hartprobleme gehad het nie).

In sy bediening het hy altyd die klem laat val op die prediking, huisbesoek, sieke- en bejaardebesoek. Hy het ook ʼn sendinghart gehad en het al die jare in die sendingkommissies van die kerk gedien, onder andere as voorsitter van die Sinodale Sendingkommissie van die destydse Suidwes-Afrika.

Hy was ʼn nederige man met ʼn vaste geloof wat die Here gedurig geprys het. Hy was saggeaard en liefdevol, daarby vriendelik en beminlik. Hy het altyd die goeie in ander mense raakgesien en dikwels gesê dat ʼn ander persoon beter is as hy.

Hy was ʼn sterk prediker. Hy het egter nie baie liggaamskrag gehad vanweë sy siekte nie. Daarom moes hy elke middag bietjie gaan rus. Tog het hy sy prediking altyd bo alles gestel, al het dit hom baie uitgeput. In die weeks oggende, voordat hy met besoeke uitgegaan het, het hy nog elke dag die mense van sy gemeente wat verjaar, eers persoonlik telefonies geluk gewens. Teen die einde was sy hande so inmekaar getrek dat hy nie meer kon skryf nie. ʼn Goeie en voorbeeldige pastor, wat ten spyte van die daaglikse stryd wat hy teen siekte moes stry, getrou sy diens vervul het. Ons eer sy nagedagtenis. – Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 03/02/1997 ingevul het en ʼn gesprek met sy eggenote. (Jaarboek 2000).