GEBORE
4 Jan. 1861
OORLEDE
20 Mrt. 1939
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1884
ORDEN
1885
STANDPLASE
George (Hpr.)
1885 Sutherland
1889 Calvinia
1896 Montagu
1905 Riversdal
1925 Strand
EMERITEER
1931
Ds. Johannes Christoffel Truter is ‘n afstammeling van die Truters wat meer as ʼn eeu gelede ‘n vername rol gespeel het in ons land, een as regter en ʼn ander as magistraat. Hy is te George op 4 Januarie 1861 gebore. Na sy voorbereidende opleiding het hy student geword in ons Teologiese Kweekskool en is na vierjarige studie gelegitimeer as predikant. Vir 46 jaar lank het hy in die aktiewe bediening van die evangelie gestaan en ses gemeentes bedien. Op 24-jarige leeftyd is hy georden in 1885 as hulpprediker te George. Spoedig is hy na Sutherland beroep waar hy met vrug gearbei het tot 1889. Hiervandaan is hy na die uitgestrekte Calvinia-gemeente gegaan en vir sewe jaar daar met toegewydheid gearbei. In 1896 na Montagu beroep is hy daar predikant gewees tot 1905 toe hy die standplaas verwissel vir Riversdal waar hy 20 jaar gestaan het en in 1925 in sy laaste gemeente Die Strand bevestig is. Hier het hy gebly tot 1931 toe hy afgetree het as leraar en gaan stil woon het te Rondebosch tot sy plotselinge dood op 20 Maart 1939 in die ouderdom van 78 jaar. Hy het die gawe besit om ‘n gemeente goed te organiseer. Op die kansel het hy seker uitgeblink en moet gereken word onder die uitstaande predikers van ons Kerk, ‘n prediker wat hom ewe gemaklik in Nederlands as in Engels kon uitdruk. Hy het ons Kerk ook in verskillende betrekkinge en op belangrike kommissies met bekwaamheid en toegewydheid gedien.