Tot Nut van ‘t Algemeen

SACS en die Universiteit van Kaapstad het albei ontstaan uit die tweetalige (Engels en Nederlands) Suid-Afrikaanse Kollege (South African College in Engels; Zuid-Afrikaansch Athenæum of Zuid-Afrikaansche College in Nederlands), wat op sy beurt deur die toedoen van die Nederduitse Gereformeerde Kerk tot stand gekom het, soos ook onder meer die Hoër Seunskool Rondebosch, die Hoër Meisieskool Rustenburg en die Seepuntse hoërskole vir seuns en meisies, wat later saamgesmelt het as die Hoërskool Seepunt. Al dié inrigtings was uit die staanspoor Engelsmedium of het mettertyd onderrig in Nederlands afgeskaf.

Sir Langham Dale, indertyd superintendent-generaal van onderwys in die Kaapkolonie, maar van 1848 tot 1858 hoogleraar in die klassieke aan die ZA College, het tereg tydens die sitting van die Kaapse Sinode in 1883 opgemerk: “Ik kan de Nederduitsche Gereformeerde Kerk niet genoegzaam danken voor de krachdadige ondersteuning welke zij in het werk der opvoeding betoond heeft.” By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Wanneer ik mij voor den gees breng de vele Opvoedings Instituten, welke door leeraars van der Nederduitsche Gereformeerde Kerk zijn opgericht worden, zoo ben ik trotsch erop dat het mij vergund is geweest een mede arbeider met hen te zijn.” 

Reeds in die jaar 1791 het twee medeleraars van die Groote Kerk, Kaapstad, di. Johannes Petrus Serrurier (leraar van 1760–1802) en Christiaan Fleck (1781–1822), die behoefte gevoel aan beter en meer gevorderde skole as wat destyds in die Kaapkolonie bestaan het. Dié twee predikante het hul beywer vir die insameling van geld wat aangewend kon word ter stigting van sulke onderwysinstellings. Hulle het mettertyd sowat £3 000 byeengebring. Die doel van die fonds wat so opgerig is, was dat op elke (groter) dorp ’n elementêre skool gestig sou word en in Kaapstad ’n Latijnsche School. ’n eiendom in Gravestraat is aangekoop en ’n onderwyser, Cornelis Josias van Braak, aangestel, maar die oorgawe van die Kaap in 1795 aan Groot-Brittanje het die werk vernietig wat toe reeds verrig is. Eers in 1837 is die gekollekteerde bedrag van £3 000 aan die bestuur van die ZA Anthenæum (ZA College) oorhandig.

In September 1831 is in Kaapstad ’n onderwysinrigting met die naam Tot Nut van ‘t Algemeen geopen. Dit was ’n privaat skool in Kaapstad waarin Nederlands as onderrigmedium gebruik is en waar van die mees vooraanstaande Afrikaans-Hollandse Kapenaars van die 19de eeu onderrig ontvang het. Ook dié skool, wat mettertyd talle vooraanstaande Afrikaans-Hollandse burgers van Suid-Afrika sou oplewer, het sy ontstaan hoofsaaklik aan die werksaamhede van die NG Kerk te danke.

 

‘n Genootskap genaamd Zuid-Afrikaansche Maatschappij tot Nut van ’t Algemeen is in Augustus 1803 in Kaapstad gestig met J.A. Vermaak as voorsitter en C.L. Neethling as sekretaris. Dit is geskoei op die Maatschappij tot Nut van ’t Algemeen wat ds. Jan Nieuwenhuyzen in 1784 in Edam, Holland, gestig het. Die doel was om jong mense op te voed, die landbou te verbeter en die kunste en wetenskap te bevorder.

’n Skool met een onderwyser is in Januarie 1804 in Strandstraat geopen, maar dit het ’n paar jaar voor 1832 gesluit, toe dit heropen het onder kragtige leiding van J.R. Mostert. In 1833 was daar sowat 360 leerlinge en 11 onderwysers. ’n Tekort aan geld en die dood van die hoof, Stephanus de Kock, het die vereniging genoop om die skool in 1870 te sluit. Drie broers De Kock – Servaas, Stephanus en Willem – het so ’n groot rol in die skool se sukses gespeel dat dit so te sê ’n “De Kock-skool” geword het.

In ’n stadium was dit ongetwyfeld die mees doeltreffende Nederlandsmediumskool in die Kaapkolonie. Veral die onderrig van Nederlands was van hoogstaande gehalte en die skool het ’n groot rol in die oorlewing van dié taal aan die Kaap gespeel en as teenvoeter vir die versnelde verengelsing van destyds.

Die laaste 40 jaar van die skool se bestaan was dr. Abraham Faure ’n vooraanstaande figuur in die skool se administrasie. Hoewel die Nederduitse Gereformeerde Kerk grotendeels verantwoordelik was vir die skool se uitbreiding, was Tot Nut van ’t Algemeen deurgaans ’n privaat skool.

Met bekwame onderwysers aan die hoof en met die ondersteuning van manne soos ds. J.H. Neethling (self op sy dag ’n leerder aan die skool), ds. Johannes Spijker, sir Christoffel Brand en C.J.C. Gie, het dié instelling sy stempel diep op Suid-Afrika afgedruk en het hy destyds, volgens eerw. Andries Dreyer (eerste argivaris van die NG Kerk), “moontlik meer vir die land beteken as enige ander skool”. Die meeste van die vroeëre predikante van die Kerk het hul eerste opleiding aan Tot Nut van ‘t Algemeen ontvang.

Bronne:

https://af.m.wikipedia.org/wiki/Tot_Nut_van_%27t_Algemeen

https://af.m.wikipedia.org/wiki/SACS?fbclid=IwAR0ovRfax2vtSsGPLd29RiPim5WOJp9dhaGaaAZv2jXRWlsMsI6ac3pa72s