Theron, Thomas Arnoldus

 

GEBORE

19 Jun. 1906

OORLEDE

20 Feb. 1981

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1934

ORDEN

1935

STANDPLASE

1935 N.0.-Rhodesië (Vrystaatse Sending)

1944 Kriel

1946 Mufulira

1950 Lusaka

1959 Odendaalsrus (Sendinggemeente)

1962 Greykerk

1967 Na Sendingkerk: Stutterheim

EMERITEER

1971

Ds. Thomas Arnoldus Theron (19.6.1906 – 20.2.1981); wat die eerste moderator van die Sinode van Midde-Afrika was, is skielik in Pretoria Oorlede. Aan die einde van sy studiejare op Stellenbosch word hy 1934 tot die bediening toegelaat en 3.8.1935 op Bethal vir diens in die Vrystaatse Sending in Noord-Rhodesië (tans Zambië) georden. Sy werkkring daar sou die gemeente Nkana met insluiting van Lusaka en die ander kopermyne wees en 12.1O. 1935 word hy dan ook op Nkana bevestig. Daar werk hy nege jaar en toe staan hy agtereenvolgens in die moedergemeentes Kriel (Maraisburg) (1944); Mufulira, NR (1946) en Lusaka (1950); totdat hy 1959 na die sendinggemeente Odendaalsrusgaan. In 1962 keer hy na die diens in die moederkerk terug om leraar van die Oos-Kaaplandse gemeente Greykerk te word, maar vyf jaar daarna is hy in Stutterheim vir nog ‘n paar jaar in die sending terug, totdat hy 20.6.1971 aftree. Hy en sy tweede eggenote vestig hulle eers op Heidelberg (Tvl.); waarvandaan hy ‘n jaar gereeld dienste op Meyerton en daarna ook dikwels op ander plekke waarneem en plaaslik help waar hy kan. Toe sy gesondheid hom die ritte en die kerkdienste nie meer toelaat nie, help hy met die bidure. Daarna verhuis die egpaar na Pretoria, waar hy nog so lank hy kan verswaktes en siekes besoek. Sy bediening is deurgaans deur roepingsbewustheid, pligsgetrouheid en onselfsugtige toewyding gekenmerk. Altyd wou hy maar net die saak van die Meester na die beste van sy vermoë dien. Vir Bybelverspreiding, sendingwerk en barmhartigheidsdiens het hy ruim bygedra. Hy was ‘n mensliewende persoon, wat altyd moeite gedoen het om kontak te maak en vriendskapsbande te versterk. Baie het besieling uit sy belangstelling geput en vir almal wat hom geken het, laat sy mooi Christelike lewe van diens ‘n waardevolle geestelike erfenis na (Jaarboek 1982/259).