
GEBORE
21 Feb. 1921
OORLEDE
29 Mrt. 2008
UNIVERSITEIT
(BA, MA, Dipl. Teol.)
GELEGITIMEER
1946
ORDEN
1947
STANDPLASE
1947 Vryheid
1951 Roodepoort
1954 Roodepoort-Noord
1957 Vergenoeg
1961 Kuruman
1967 Elliot
EMERITEER
1986
Ds. Joz Theron (BA, MA, Dipl. Teol.) (21/02/1921 – 29/03/2008)
Jozua PetrusTheron is op 21 Februarie 1921 in die pastorie op Dullstroom gebore, een van vyf kinders waarvan drie seuns en een dogter was. Joz se vader was ds. JS Theron (1889-1958) en sy moeder was Helena Marais Rossouw. Sy vader het in 1916 gewaag om as hulpleraar van die Grootkerk in Pretoria in Afrikaans te preek! Dit het groot opslae gemaak in kerklike kringe!
Joz het sy skoolopleiding in 1928 aan Laerskool Pretoria-Wes begin, en het later ook op Prins Albert en Oudtshoorn skoolgegaan. Einde 1938 het Joz aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer. Hy het besluit om predikant te word en van 1939 tot 1946 aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, waar hy die grade BA en MA (Sielkunde) behaal het. Sy MA-verhandeling het gegaan oor “Primere vaardighede en leerbekwaamheid”. Joz het na sy studie van vier jaar aan die Teologiese Seminarium die Diploma in Teologie behaal en is einde 1946 as proponent gelegitimeer. Joz was as student voorsitter van die Berg-en- toerklub en ook tesourier van die Studenteraad van Stellenbosch. Op 10 Mei 1947 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Vryheid bevestig. Sy kollega was die joviale ds. GJV Bell, later hoofsekretaris van die CSV in Suid- Afrika. Na vier jaar is hy op 3 Februarie 1951 in die NG Gemeente Roodepoort bevestig, en het hy na afstigting leraar van die gemeente Roodepoort-Noord geword.
Op 24 November 1957 is hy en sy gesin bevestig in die NG Gemeente Vergenoeg in Kenia. Hier het hy ‘n nuwe kerkgebou en ‘n huis vir bejaardes help bou. Die gemeente se 600 lidmate was in ‘n uitgestrekte gebied en Joz het tot huisbesoek en eredienste in Uganda en die destydse Belgiese Kongo gedoen. In 1958 was hy betrokke by die geslaagde halfeeufeesviering van Vergenoeg. Hy was moderator van die Sinode van Midde-Afrika en later die enigste predikant wat al vier gemeentes in die hele Oos-Afrika geestelik moes bedien het.
In 1961 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Kuruman aanvaar. In sy dienstyd van vyf jaar het hy met twee jong leraars saamgewerk, ds. Frits Gaum en ds. ELP Oberholster. Dit was ‘n besondere tyd in Kuruman, en het die opbloei van die gemeente gelei tot die afstigting van die NG Gemeente Kuruman-die Oog. In 1966 het die NG Kerk ds. Joz Theron afgevaardig om drie maande lank die oorblywende 50 gesinne in Oos-Afrika (Kenia)te gaan besoek. Hiermee is ‘n era afgesluit.
Op 4 Maart 1967 het ds. en mev. Joz Theron die leraarspaar van die NG Gemeente Elliot geword. Hy het byna 20 jaar lank die gemeente bedien, tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1986. In sy dienstyd in Elliot-gemeente is ‘n nuwe pastorie gebou en ‘n huis vir bejaardes opgerig. Op breë kerklike terrein het ds. Theron in verskeie kommissies gedien. Hy was van 1968 tot 1986 voorsitter van die bestuur van die Kinderoord MTR Smit op Ugie. Na hulle aftrede het die egpaar hulle in Port Elizabeth gevestig, waar hy deeltyds betrokke was by hospitaal-pastoraat.
Joz is op 3 Januarie 1948 met Suzanne Barnard, dogter van ds. en mev. GJ Barnard van Barkly-Oos, getroud. Hulle het drie seuns: Hannes, Gerhard, en Jos. Suzanne is op 28 April 1994 oorlede en ds. Joz het op 19 Augustus1995 met Magriet Retief van Kenia getrou. Ds. Joz Theron het op 29 Maart 2008 in die ouderdom van 87 jaar gesterf. Die begrafnis- diens in die NG Gemeente Patmos is deur ds. Theunis Pienaar gelei. Sy kinders onthou dat hy nooit gekla het nie, dit het altyd “piekfyn” met hom gegaan.