Theron, Edwin

 

GEBORE

26 Feb. 1928

OORLEDE

05 Des. 2001

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1956

ORDEN

1957

STANDPLASE

1957 Retreat

1960 Parow Sentraal

EMERITEER

Ds. Edwin Theron (BA, MTh) 26/02/1928 – 05/12/2001

Edwin Theron is op 26 Februarie 1928 in Johannesburg gebore. Sy vader, Johannes Hendrikus Theron, was ‘n boer. Edwin het die laerskool Duiwerivier (1933 tot 1938) en Hoekwil, albei naby George, (1939 tot 1940) bygewoon. Hy het sy hoërskoolonderrig op Vryburg (1944 tot 1946) ontvang. Hier het hy aan atletiek en rugby deelgeneem.

Hy het eers ‘n BA-Admissiegraad (1949) aan die PUK vir CHO op Potchefstroom behaal en daarna sy studies op Stellenbosch voortgesit. Hy is in 1956 gelegitimeer en het sy MTh-graad in 1957 behaal. Die tema van sy verhandeling was: “Die geskiedenis en aksie van die Roomse Kerk in Suid-Afrika”.

Sy eerste beroep was na Retreat (tans Zwaanswyk) waar hy in 1957 georden en bevestig is. Hoewel hy net drie jaar in hierdie gemeente gedien het, het die gemeente ‘n besondere herlewing in sy dienstyd beleef. In 1960 het hy na Parow-Sentraal geskuif.

Dit was egter veral in die gemeente Albertinia waar hy van 1968 tot 1993 gedien het, waar hy diep spore getrap het. Hier het hy baie gou die nood van die talle bejaardes raakgesien en hom begin beywer vir die bou van ‘n huis vir bejaardes op die dorp. So het “Huis Edwin Theron” ontstaan wat nog steeds ‘n toevlugsoord vir seniors is. Later het hy ook gehelp dat ‘n dienssentrum op die dorp opgerig word sodat baie bejaardes in hulle huise kon woon en hulp ontvang. Onder sy leiding het die Ring van Calvinia ook die eerste maatskaplike werker van die Christelike Maatskaplike Raad aangestel.

As gevolg van sy intense belangstelling in die Diens van Barmhartigheid was hy ook lank die voorsitter van die SKDB van die Ring van Riversdal en het hy in die uitvoerende komitee van die SKDB van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaap gedien.

Maar, ten spyte van sy betrokkenheid op ander terreine, was hy by uitstek ‘n herder vir sy gemeente. Hy het elke gemeentelid geken en het met opregte belangstelling in hulle lief en leed gedeel. As prediker het hy gefokus op Skrifgetroue prediking. Pinkstertye was vir hom ‘n besondere uitdaging.

Ds. Theron was ‘n knap administrateur wat altyd met groot omsigtigheid met die gemeente se geld gewerk het. Die bediening het vir hom groot vreugde verskaf. Hy was altyd dankbaar vir elke geleentheid om sy Meester te dien. Die prioriteit van sy lewe was net “om bedienaar van die Goddelike Woord te wees”.

Ds. Theron het in 1956 in die huwelik getree met MCB Malan. Hulle het vyf kinders, Johan, Nico, Marietjie, Lynette en Edwin. Hulle is almal getroud en daar is tien kleinkinders. As eggenoot en vader was hy onoortreflik. Sy vrou, wat ‘n doktorsgraad in maatskaplike werk behaal het, het hom getrou bygestaan.

Ds. Theron het in 1993 geëmeriteer. Hulle het op Albertinia bly woon en nog deelgeneem aan sekere bedrywighede in die sakewêreld. Die laaste twee jaar het sy gesondheid weens hartprobleme verswak en is hy op 5 Desember 2001 Oorlede.

Hierdie geliefde leraar wat sy gemeente as ‘n groot huisgesin beskou het, sal nog lank onthou word. Ons dank die Here vir sy voorbeeld.

(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 30/01/1997 ingevul het en ‘n huldiging wat anoniem in Die Kerkbode verskyn het op 2/8/2002.)