GEBORE
9 Jul. 1913
OORLEDE
11 Okt. 1977
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1938
ORDEN
1939
STANDPLASE
1939 Die Vlakte
1944 Bethanie, S.W.A.
1949 Soutpan
1956 Otjiwarongo
1960 Hertzogville
EMERITEER
1975
Ds Petrus Hermanus Jacobus Swart (9.7.1913 – 11.10.1977); wat in die distrik Kestell gebore is, is in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein na ‘n hartaanval Oorlede. Op vroeë leeftyd verhuis hy saam met sy ouers na Ventersburg, waar hy sy skoolopleiding ontvang, voordat hy vir sy voorbereidende studie na UKOVS gaan. Daarna onderskei hy hom as student aan die Stellenbosse Kweekskool en 1938 word hy tot die evangeliebediening toegelaat. Hy word dadelik hulpprediker in Rondebosch en toe Die Vlakte van die gemeente afstig, word hy 5.8.1939 die nuwe gemeente se eerste leraar. Voorts bedien hy Bethanie in SWA (1944); Soutpan (1949); Otjiwarongo (1956) en toe vanaf 1960 Hertzogville, waar hy 18.1.1975 weens verswakte gesondheid emeriteer. Daarna help hy egter nog in verskeie gemeentes in Bloemfontein – waar hy gaan woon het – en elders. Hy was ‘n geliefde en lojale kollega, ‘n mens vir wie die Calvinistiese lewens- en wêreldbeskouing saak van die hart was en ‘n evangeliedienaar wat met heelhartige toewyding en onvermoeide ywer gearbei het. Met die suiwere verkondiging van die Woord van die Here het hy groot erns gemaak en daar het dan ook kennelike vrug en seën op sy prediking gerus. Daarby was hy ‘n uitnemende pastor. Toe ons Kerk in Suidwes ‘n eie sinode kry, word hy as eerste aktuarius verkies ‘n betrekking waarin hy die geleentheid kry om belangrike diens te lewer. Benewens die aandeel wat hy aan die werk van ‘n hele aantal kommissies in rings- en sinodale verband neem, dien hy ook in die Raad van die Kerke. (Jaarboek 1979/271).