
GEBORE
01 Nov. 1925
OORLEDE
09 Jul. 2004
UNIVERSITEIT
(BA, BD, DD, Dipl. Ecum) (UP)
GELEGITIMEER
1950
ORDEN
1951
STANDPLASE
1951 Brixton
1952 Krokodilrivier
1960 Paardekraal-Monument
1966 Sending onder die Jode
EMERITEER
10 Okt 1989
Gert Swart is genoem die vader van die bediening van Engelssprekendes in die NG Kerk. Hy was ‘n legendariese figuur en ‘n kleurryke karakter in die kerk. Hy is in 1966 beroep as sendeling onder die Jode in Transvaal en dit het in 1967 gelei tot die stigting van die Engelstalige Andrew Murray-gemeente in Johannesburg. Hy het ook gehelp met die stigting van soortgelyke Andrew Murray-gemeentes in ander stede en het ook ‘n bediening vir Portugese op die been gebring.
Gerhardus Jacobus Swart is op 11 Januarie 1925 te Wakkerstroom gebore. Sy vader, Jacobus Nicolaas Johannes Swart, was ‘n welvarende boer op ‘n plaas naby Perdekop. Sy moeder was Elizabeth Maria Catharina Landman. Gert Swart se skoolloopbaan het by die Laerskool Perdekop (1932-1937) begin en aan die Hoërskool Volksrust (1938-1942) geëindig. Hy was ‘n skrander skolier wat in perdry, voetbal en tennis belanggestel het.
Van 1944 af was Gert ‘n student aan die Universiteit van Pretoria en het hy in die Sonop- Christelike huis in Brooklyn, Pretoria, gewoon. Hy het die grade BA (1946) en BD (1949) behaal. Gert was ‘n baie toegewyde student en het ‘n fotografiese geheue gehad wat ritse name kon onthou. In sy laaste studiejaar het hy geskiedenis gemaak toe hy die eerste inwoner van Sonop geword het wat sy eie motor besit het (‘n Fleetline Chev); In hierdie tyd het sy paaie gekruis met die van Neline Lutz, ook ‘n nooi van die Oos-Transvaalse Hoëveld, en het hulle verloof geraak. Gert en Neline het op 18 Desember 1949 getrou. Ook dit was ‘n eerste by UP – dat ‘n teologiese student voor sy proponentsjaar getrou het!
Neline was dwarsdeur sy bediening aan sy sy en het hom in alles gesteun en bemoedig. In ‘n stadium was sy in beheer van die Portugese Welsynsorganisasie in Johannesburg – ‘n gevolg van die instroming destyds van vlugtelinge uit Mosambiek en Angola.
Uit hierdie gelukkige huwelik is vier kinders gebore: Nico (‘n peridontis); die tweeling Francois en Gerhard, en Anneline. Francois is ‘n ingenieur in Pretoria. ‘n Tragedie het die huisgesin getref toe Gerhard in 1994 in ‘n motorongeluk gesterf het. Die gesin het baie moeilik oor hierdie smart gekom. Daar is reeds sewe kleinkinders.
Ds. Swart se eerste gemeente was Brixton, waar hy in Januarie 1951 georden en bevestig is. Hoewel hy nie lank daar gebly nie, het hy die gemeente gehelp om as eienaar bouers die kerksaal te bou en sodoende £12000 te spaar. Op 1 Junie 1952 is ds. Swart na die gemeente Krokodilrivier op Brits beroep. Hier het hy die gemeente gehelp om sy skuld af te betaal deur onder meer koring en tabak by gemeentelede te kollekteer en te verkoop. Hy het ook gesorg vir die bou van die Neline Swart-saal, wat die gemeente nou reeds vir baie jare tot diens is. In 1960 is ds. Swart beroep na Paardekraal-Monument in Krugersdorp waar hy ses jaar gedien het.
Weens sy sakekontakte en sy gemaklike omgang met mense van ‘n ander kultuur, is ds. Swart in 1966 aangewys as die NG Kerk se Sendeling onder die Jode. Die terrein is in daardie tyd as ‘n baie belangrike, maar verwaarloosde arbeidsveld gesien. In die volgende jaar (1967) is die Engelstalige Andrew Murray-gemeente in Johannnesburg gestig, waarvan lede van die Joodse gemeente die kern gevorm het. Aangesien hy ook ingestel was op huisbesoek, moes hy talle kilometers aflê om sy gemeentelede dwarsoor die Rand te besoek en nuwe lid- mate te werf.
Ds. Swart was akademies sterk. Sy BD-verhandeling het gegaan oor die “vertraagde wederkoms” in die Nuwe Testament, terwyl sy proponentsverhandeling gegaan het oor “Die atomisme in die antropologie van Barth” (beide ambisieuse onderwerpe).
Tydens sy bediening het ds. Swart sy studie voortgesit en hom vir sy doktoraal aan die Universiteit van Pretoria ingeskryf.
Sy doktorale eksamen in 1956, het ds. Swart na die Union Theological Seminary by die Colombia-Universiteit in New York vertrek met ‘n beurs van die Rockefellerstigting. Daar het hy dieper insig in die ekumene gekry en materiaal vir sy doktorale proefskrif versamel. Hy het ook daar ‘n Diploma in Ekumene (Dipl. Ecum) voltooi. In 1959 het hy die graad DD met lofgeslaag. Sy proefskrif het gegaan oor die vraagstuk van die eenheid, verskeidenheid en verdeeldheid van die kerk, en het die titel gehad: “Gods een Kerk en ons baie kerke”. Dit was pionierswerk. Aan die begin het hy hom geskaar by die Christelike Instituut saam met dr Beyers Naude. Hy het ook geskryf in die pamflet “Vertraagde Aksie”. Dr Swart was ‘n groot bewonderaar van genl. JC Smuts.
In 1980 het dr Swart hartprobleme ontwikkel, maar nietemin sy bediening voortgesit. Op 10 Oktober 1989, na ‘n ligte beroerte, het hy egter besluit om emeritaat te aanvaar. Daarna het hy probleme met sy kort termyn geheue gehad, maar ook dit het hom nie weerhou om met sy lewe voort te gaan nie. Die egpaar het in daardie stadium in hulle herehuis in Parktown, Johannesburg, gewoon, waar daar ook woonstelle op die perseel was wat hulle verhuur het en in stand moes hou. Om dit te kon doen, het dr Swart ‘n kursus gevolg om as nutsman te kwalifiseer. Hy het ook in ‘n stadium voltyds bouwerk gedoen en vier huise vir vriende en sy kinders voltooi. In hierdie tyd het hy boonop preekbeurte in gemeentes waargeneem.
In Mei 2001 het hulle die eiendom verkoop en na ‘n meenthuis in Renaissance, Faerie Glen, verskuif. Ook hier het dr Swart aan die studeer gebly en Bybel- studies aangebied. Op 9 Julie 2004 is dr Swart skielik aan ‘n hartaanval oorlede. Sy begrafnis het plaasgevind in sy geliefde Andrew Murray-gemeente in Johannesburg en is gelei deur sy opvolger, ds. Johann Symington, tans redakteur van Kerkbode. In die begrafnisbrief beskryf sy familie hom as ‘n Godvresende, gelowige mens, ‘n ongelooflike lewensmaat, ‘n sorgsame en liefdevolle vader, trotse en wyse oupa, ‘n mens-mens, ‘n aanraker van sy medemens, ‘n insig- en vavisie mens.
Baie mense het nie altyd met hom saamgestem nie, maar hy sal deur almal geëer en gerespekteer word as ‘n baanbreker en ‘n kleurryke figuur wat sy tyd heelwat vooruit was. – Dr Dirk Viljoen, vriend en klasmaat van dr Gert Swart.