GEBORE
05 Des. 1924
OORLEDE
01 Mei 2002
UNIVERSITEIT
BA (PU vir CHO); Dipl. Teol (US)
GELEGITIMEER
1951
ORDEN
1952
STANDPLASE
1952 Elim (Onder-Molopo)
1958 Mispa (Louwna)
1961 Welverdiend
1966 Oor-die-Vaal
1972 Johannesburg-Wes
1977 Uitenhage
EMERITEER
1990
Ds. Solomon Ignatius Strydom (BA, Dipl. Teol.) 05/12/1924 – 01/05/2002
Sol Strydom is op 5 Desember 1924 op Mafeking gebore. Sy vader, ook Solomon Ignatius Strydom, was bestuurder van ‘n romery. Sy moeder was Jacoba Petronella Jordaan. Sy laerskoolonderrig het hy ontvang van die Laerskool Mafeking (1931-1936); Lobatsi (1937); Klerksdorp (1937 – 1938) en weer Mafeking (1938); Hy het ook op Mafeking (1939-1943) gematrikuleer. As tiener het hy ‘n operasie aan sy linker enkel ondergaan wat hom kreupel gelaat het. Die Here het hom egter duidelik tot die bediening geroep.
Sol het die BA-graad aan die PU vir CHO (1944-1947) behaal voordat hy Stellenbosch toe is. Hy is in 1951 gelegitimeer.
Op 16 Februarie 1952 het hy in die huwelik getree met Miriam Heunis, ‘n maatskaplike werker. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore, en hulle het ook drie kinders aangeneem. Hulle kinders is Susanna Carolina (1955, wat in 1987 na ‘n hartoperasie oorlede is); Solomon Ignatius (1960, wat in 1978 oorlede is); Johannes Marthinus (1962); Jacobus Petrus (1965); Gerhard Diederick (1966) en Miriam (1968, bekend as ds. Jampie Nel, predikant van Doornpoort-gemeente in Pretoria en eggenoot prof Marius Nel); Daar is reeds sewe kleinkinders.
Kort ʼn sy huwelik is hy in sy eerste gemeente op Elim, tans Onder-Malopo, georden en bevestig deur ds. JCN Mentz wat hom ook gedoop het. Ses jaar later, in 1958, het hy na Mispa-gemeente, tans Louwna, verskuif.
Daarna het hy ook nog die gemeentes van Welverdiend in Wes-Transvaal (1968); Oor-die-Vaal (by Christiana) en Johannesburg-Wes (1972) bedien. Die laaste jare van sy bediening het hy op Uitenhage (1977) deurgebring waar hy in 1990 emeritaat ontvang het.
Nadat hy afgetree het, het ds. Strydom op Uitenhage bly woon en nog as ouderling in die gemeente Uitenhage-Winterhoek gedien. Hy was ook voorsitter van die Sendingkommissie van die gemeente en lid van die SSK van Oos-Kaap.
Ds. Strydom het ‘n wonderlike humorsin gehad. Daarvan getuig sy biografiese vorm wat hy in 1997 ingevul het. Hy het toe geskryf dat sy gesondheid op 70 jaar, deur die Here se genade, net wonderlik is, veral as hy dink aan Ps. 90:10 wat praat van 80 jaar “vol swaarkry en leed” (“moeite en verdriet” in die Ou Vertaling); Hy skryf: “Ek het so gewens ek kon Moses aan sy toga vat en vir hom sê om ons Hallelujalied te sing, `Tel jou seëninge en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!’ ”
In April 2002 is sy vrou skielik oorlede net drie dae nadat akute leukemie by haar gediagnoseer is. Hyself het toe al ‘n paar jaar aan hartversaking gely en sy vrou het hom met toewyding versorg. Die hartseer van haar heengaan was vir hom te veel. Hy is op 1 Mei 2002 oorlede, net drie weke na sy eggenote.
Ds. Strydom het sy plek ook buite die gemeente volgestaan en was verskeie kere voorsitter en skriba van Ringskommissies. Hy het ook in die sendingkommissies van Kaapland, Wes-Transvaal, Suid-Transvaal en Oos-Kaap gedien; in die barmhartigheidskommissie van Wes-Transvaal, en was afgevaardig na die Algemene Sinodes van 1974 en 1998, laasgenoemde as ouderling van die Ring van Uitenhage. Sy hoogste prioriteit in sy bediening was om Jesus as die Christus te verkondig (1 Kor. 1:23 en 2:2).
Hy het sy werk baie ernstig opgeneem en gereeld en getrou huisbesoek gedoen. Hy was ‘n baanbreker met jeugwerk en baie geliefd in sy gemeentes.
Met sy kollegas het hy goeie verhoudings gehad en hulle het gereeld saam tennis gespeel. Sy geloof en sy roeping het sy lewe oorheers.
As pa was hy streng en beginselvas. Die familie mis albei hulle ouers verskriklik baie.
(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 11/02/1997 ingevul het en inligting van sy dogter, ds. Jampie Nel.)