GEBORE
10 Okt. 1936
OORLEDE
5 Jan. 2010
UNIVERSITEIT
BA
GELEGITIMEER
1962
ORDEN
1963
STANDPLASE
1963 Sondagsrivier-Suid
1967 Durbanville
1971 Mosselbaai
1971 Humansdorp
EMERITEER
1995
Marthinus Cornelis Steyn is op 10 Oktober 1936 in die pragtige Hermitagevallei aan die voet van die Langeberg net buite Swellendam gebore. Sy vader was Christiaan Steyn, ‘n tuiemaker, en sy moeder, Susara Susanna Steyn. Hulle is twee gelowige kerkmense. Sy vader het later met melk en graan geboer en MC was gereeld saam met sy pa in die melkstal, vandaar sy lewenslange liefde vir beeste.
MC begin sy skoolopleiding in 1943 aan die Laerskool Swellendam en hy word in 1950 ‘n leerling aan die Hoërskool Swellendam, waar hy aan die einde van 1954 matrikuleer. Hy onderskei hom reeds op skool as ‘n kranige rugbyspeler en speel later drie jaar lank vir Maties.
Sy vriend, ds Pierre Jordaan, vertel dat MC reeds op hoërskool die roeping ontvang het om predikant te word. Hy vertrek in 1956 na die Universiteit Stellenbosch, waar hy ‘n BA-graad verwerf; hy is ook in 1958 tydelik ‘n senior lektor in Sosiologie. Hy studeer vier jaar lank aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch en hy word aan die einde van 1962 as proponent gelegitimeer. Op 15 Desember 1962 trou hy met Delucia Rita Schoeman; uit diê huwelik is daar drie seuns gebore.
Ds Pierre Jordaan skryf: “As ‘n juniortjie het ek MC in 1960 leer ken as die reuse-groot Matievoorspeler wat opponente in ‘n skrum baie swaar laat leef het. Toe hy een namiddag ‘n rugbyoefening in Die Laan afgestap kom – ek in die teenoorgestelde rigting – het ek omtrent gevoel soos koning Dawid moes gevoel het toe hy die eerste keer vir Goliat aanskou het. In my gedagtes het ek loop en wonder hoe so ‘n man in ‘n toga op die kansel sou lyk!”
Aan die begin van 1963 word ds MC Steyn met handoplegging in die NG Gemeente Sondagsrivier-Suid bevestig. Tydens sy bediening daar word ‘n nuwe kerkgebou opgerig. In 1967 word hy leraar in die NG Moederkerk in Durbanville, waar hy betrokke is by die restourasie van die historiese kerkgebou. In 1971 loop sy bedieningspad na die NG Gemeente Mosselbaai, waar hy diep spore onder die jeugtrap en daar ‘n groot herlewing onder jong mense plaasvind. In 1971 kom daar ‘n beroep na die NG Gemeente Humansdorp, waar hy betrokke is by die afstigting van die NG Gemeente Humansdorp-Oos. Hier woon en werk hy tot met die aanvaarding van sy emeritaat in 1995.
Pierre Jordaan skryf: “MC was nie ‘n konvensionele dominee nie; hy het dinge op ‘n `MC-manier’ gedoen. Hy het die Woord vurig en passievol bedien en die Here God met oorgawe verkondig en gedien. In die bediening was hy die haastige, ãltyd-besige dominee. Hy was lief vir mense, veral vir die kinders en jong mense. Daarom was hy nommerpas in die posisie as voorsitter van die Sinodale Jeugkommissie.”
N ‘a sy aftrede vestig ds en mev MC Steyn hulle op sy plaas in die distrik Paterson, waar hy met vleisbeeste boer. Hy sterf na ‘n lang kankerlyding, en met sy afterwe op 5 Januarie 2010 is daar groot hartseer in die breë kerklike gemeenskap en in baie gemeentes.
Sy vrou, Delucia, skryf: “Huisbesoek was vir hom noodsaaklik, want hy het gesê dat hy nie ‘n preek kan voorberei as hy nie weet wat in die hart en lewe van mense aangaan nie. Die een uitstaande kenmerk van sy bedieningstyl was entoesiasme. Hy het die vermoë besit om met enige mens te kommunikeer en hulle met groot deernis te behandel. Hy was ‘n leier by uitstek, met ‘n groot liefde vir die Bybel -wat hy tot sy dood toe getrou bestudeer het.” -Dr Gerdrie van der Merwe VDM