Steenkamp, Nicolaas Salomo

 

GEBORE

23 Maart 1930

ORLEDE

3 Oktober 2019

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1954

ORDEN

1956

standplase

1956 Port Nolloth

1960 Fraserburg

1966 De Aar

1972 Laingsburg

1978 Die Strand

1981 Keur trug vir tydrlike hulp na Laingsburgvloed 

 EMERITEER

1988

DS KLASIE STEENKAMP (BA) 23 Maart 1930 3 Oktober 2019

Nicolaas Salomo Steenkamp is gebore op 23 Maart 1930 in die Koue-Bokkeveld, Ceres. Sy vader was Japie Steenkamp wat die Here as boer en bouer gedien het. Sy vrou was Hettie en sy was ‘n huisvrou. Klasie was die oudste van drie kinders. Hy begin sy skoolloopbaan in Ceres en matrikuleer in 1947 aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr op Ceres.

Klasie voel geroepe om predikant te word en behaal die BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch. So word hy in 1951 toegelaat tot die Kweekskool in die Eikestad waar hy einde 1954 as proponent gelegitimeer word. Hy sing in die Kweekskoolkoor van prof Gawie Cillie en sy liefde vir kerkmusiek bly tot die einde van sy lewe belangrik. Hierna help hy twee jaar lank in vakante gemeentes tot hy op 14 Apri11956 met handoplegging ontvang en bevestig word in die NG Gemeente, Port Nolloth naby Springbok.

Na drie jaar in Namakwaland en die koue seewater van Port Nolloth, aanvaar hy in 1960 ‘n beroep na die NG Gemeente Fraserburg in die Groot-Karoo. In 1966 word hy leraar van die NG Moedergemeente De Aar, ‘n dorp met een van die grootste spoorweg-aansluitings in Suid-Afrika. In 1972 word hy leraar van die NG Gemeente Laingsburg, ‘n dorp wat geleë is aan die Buffels- en Baviaansrivier in die streek. In 1978 neem hy ‘n beroep aan na die NG Gemeente Die Strand, maar keer tydelik in 1981 na die Laingsburgvloed ‘n tyd lank terug na sy ou gemeente op Laingsburg. Ds. Klasie speel ‘n belangrike ondersteunende rol in sy vorige gemeente wat tydens die vloed hulle leraar ds. Malan Jacobs verloor het. Die gebeure het ‘n groot impak op ds. Klasie se lewe en hy publiseer in 2016 ‘n boek Die dorp in die dam oor die gebeure tydens en na die vloed. As jong predikant op Port Nolloth trou ds. Klasie op 22 November 1958 met Issie Hanekom. Hulle is byna ‘n halfeeu gelukkig getroud tot Issie se afsterwe op 12 Oktober 2008. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Elkeen, tans ‘n dieetkundige en kliniese navorser in Pretoria; Francois, ‘n bouer wat op Worcester woon en Nico wat in die toerisme spesialiseer en in Bredasdorp woon. Ds. Klasie en Issie se seun Wouter sterf op 19-jarige leeftyd op 4 Januarie 1984 in Angola tydens sy diensplig. Hy word begrawe in die Heldeakker in die Strand.

Na die dood van sy seun skryf ds. Klasie twee boeke, waarin die hantering van die verlies beskryf word. “Dit was soos ‘n geweerskoot die nag. Die teiken is getref, op meer as een manier. Die bloed het in my ore gesuis, die woorde: U seun, Wouter, is dood. Een stukkende oomblik, ‘n leeftyd van verlies. Dit was soos ‘n emosionele kettingbotsing wat verhoudings verander en wrakke langs die pad laat.” Deur fyn gefiltreerde terugflitse nooi ds. Klasie Steenkamp sy lesers op ‘n begeleide toer deur die diepste tonnels van sy binneste. Daft deel hy die gedagte strome wat niemand tot dusver kon ken nie, ‘n nuwe oorlogsone. Hierdie intense verlies het vir Klasie geword soos die potskerf waarmee Job hom op die ashoop sit en krap, iets om aan vas te hou, herinnerings wat hy eers nie wou laat gaan nie. “Dan ontspring emosies wat vir ons laat voel dat God ver is, iewers daar bo en ons hieronder alleen en vergete.” Met die lees van die boeke word ds. Klasie Steenkamp se storie die van almal wat verlies ervaar het — die dood, siekte of onmag weens skielike werkloosheid. Dit kan ook jou storie wees.

In 1988 aanvaar ds. Klasie Steenkamp sy emeritaat in die NG Gemeente Die Strand weens swak gesondheid. Hierna het ds. Klasie en Issie nog ‘n paar jaar lank in die Strand bly woon en hulle verhuis in 2002 na Ruimtepark in Somerset-Wes. Na Issie se dood op 8 Oktober 2008 weens Parkinson se siekte, het Klasie aangebly in Ruimte-park tot in 2019 toe sy gesondheid so verswak het dat hy permanent in Huis Marie Louw se siekeboeg gebly het. Hier sterf hy skielik op 3 Oktober 2019 en sy begrafnisdiens het plaasgevind op 11 Oktober 2019 vanuit Huis Marie Louw en is waargeneem deur ds. Burrie du Toit. Hierna is ds. Klasie Steenkamp begrawe langs Issie in die begraafplaas op die dorp Ceres.

Sy dogter Eleen skryf oor haar pa, ds. Klasie: “Hy was ‘n ware kind van God. Hy het ander nederig en pastoraal begelei in die besef dat sy werk net bloot deel was van ‘n groter Plan. Hy sal altyd onthou word vir die mens wat hy was: sy onwrikbare geloof in God, sy mensekennis en empatie met sy medemens, sy vermoë om geduldig na ander mense se probleme te luister en raad te gee, sy ongelooflike boeke- en musiek kennis, sy liefde vir plante, sy positiwiteit en veggees te midde van swak gesondheid, sy onblusbare sin vir humor Hy het tot aan die einde van sy lewe op ‘n onbaatsugtige wyse ‘n diens gelewer aan sy medemens.”—Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 394)