gebore
04 Feb. 1961
OORLEDE
13 Nov. 2007
UNIVERSITEIT
(BA, BD, M.Div.)
gelegitimeer
1985
ORDEN
1990
standplase
1990 Elsburg
1997 Joubertina
EMERITEER
2002
Frans Johannes Jacobus Stapelberg is op 4 Februarie 1961 op Stellenbosch gebore. In daardie tyd was sy vader ‘n teologiese student in sy derde jaar aan die Kweekskool op Stellenbosch, waar hy einde 1962 as proponent gelegitimeer is.
Sy vader, ds. Jacobus Pieter Marais (Kobus) Stapelberg is aan die begin van 1963 in die NG Gemeente Grootrivier bevestig, waar Frans Stapelberg sy skoolloopbaan op Karos begin het. In 1967 het ds. Kobus’n sendeling by die NGKA se Groothoek-sendingstasie in die omgewing van Pietpotgietersrus geword. In die tyd het Frans skoolgegaan aan die Zebediela-skool, totdat sy ouers in 1974 na Irene in Pretoria verhuis het. Daar was hy ‘n leerling aan die Laer- en Hoërskool Verwoerdburg.
Toe ds. JPM (Kobus) Stapelberg in 1977 na die NG Gemeente Molteno in die Stormberge beroep is, het Frans agtergebly en aan die Afrikaans Hoërskool in Pretoria gematrikuleer. Oor sy roeping skryf sy vader: “Sy ideaal was om Geskiedenis of die Regte te studeer, maar by ‘n skoolverlaterskamp het hy onder die indruk van sy roeping tot die evangeliebediening gekom. Hand 26:16-17 het tot hom gespreek.”
Frans het aan die Universiteit van Pretoria begin studeer en ‘n Meestersgraad oor die onderwerp: “‘n Evaluering van Hal Lindsay se verklaringsmetode van openbaring” voltooi. Aan die einde van 1985 is hy as proponent gelegitimeer, waarna hy twee jaar lank kapelaan in die Suid-Afrikaanse Lugmag was. Frans het in die huiskomitee van sy koshuis gedien en was ook voorsitter van die Kerk-Jeugaksie van die NG Gemeente Universiteitsoord.
Frans is met Ronel Vermaak getroud, en uit die huwelik is drie kinders gebore: Marinalize, Kobus en Herman.
Dit was ‘n groot oomblik toe prop Frans J Stapelberg op 6 Januarie 1990 met handoplegging in die NG Gemeente Elsburg bevestig is. Ds. Frans het in 1997 ‘n beroep na die NG Gemeente Joubertina aanvaar, waar hy met oorgawe gewerk het ten spyte van sy gesondheid. Hy het in die herdenkingskomitee van die Anglo-Boereoorlog gedien en was betrokke by die CVO-skool op Kareedouw en die CVO Omega Akademie, waar hy ook klasgegee het.
Hy het in 2002 op 41-jarige leeftyd vervroegde emeritaat aanvaar om gesondheids-redes. Die gemeente is diep deur sy bediening geraak. Sy vader skryf: “Waarskynlik weens die besoedelde lug van Johannesburg is hy herhaaldelik in die hospitaal opgeneem met brongitis en longontsteking. Daar word vermoed dat sy longdegenerasie reeds hier begin het. Hoewel sy tweede gemeente op die platteland was, was dit ongelukkig in ‘n streek waar hoofsaaklik met vrugte geboer word en daar dusbaie spuitstowwe in die lug was. Daar het sy longkwaal vererger. Weens verharding van sy longweefsel het hy in 2006 nog net 10% longfunksie oorgehad, en in 2007 is ‘n longoorplanting oorweeg.
Na ds. Frans se aftrede het hulle geen heenkome gehad nie. Die Here het beskik dat ‘n boer by Tsitsikamma hulle ‘n plaashuis naby die see aangebied het. Die suurstof in die lug het gehelp dat Frans geleidelik sterker geword het, en hy het die 17 kg herwin wat hy vroeër verloor het. In die tyd was daar in die nabygeleë NG Gemeente Tsitsikamma ‘n bedieningsgeleentheid, en is ds. Frans genader om preekbeurte waar te neem. Later is hy op ‘n kontrakbasis beroep, het hy in die pastorie gewoon en hard gewerk om die gemeente op te bou.
Oor sy bediening in Tsitsikamma skryf sy vader: “Sy opregte begeerte om nog vir die Here en die kerk iets te beteken, is deur die Here gebruik om ‘n reuse werk vir Hom in die gemeente van Tsitsikamma te doen. Frans het in ‘n baie moeilike tyd die gemeente begin help, wat later ‘n vaste ooreenkoms geword het. Frans het met sy besondere liefdesaard saam met die Here hierdie swaarkry-gemeente in ‘n kort tydjie help omdraai tot ‘n positiewe gemeente wat met opgewondenheid hulle rol kon vervul. Die Here het byna ses jaar by sy lewe gevoeg, waarin hy nog vir die Here kon werk, waarvoor ons as familie die Here innig dankbaar is. Sy lewe en toewyding aan sy roeping was vir baie tot groot seën.”
Ds. Jan Coetzee skryf: “As mens was hy vir ons almal in die Ring van Humansdorp tot groot inspirasie. Hy was ‘n mens wat absoluut vrede geleef het sonder om sy vaste beginsels en standpunte prys te gee. Hy was altyd gewillig om te help, hy was ringskriba en het dit baie noukeurig gedoen.”
Ds. Frans Stapelberg (46) het op 13 November 2007 aan ‘n seldsame longsiekte in die pastorie gesterf. ‘n Begrafnisdiens is op 17 November 2007 deur di. BSR du Toit en JPM Stapelberg in die NG Gemeente Tsitsikamma waargeneem, waarna hy in die heldeakker binne die ringmuur van die kerkgebou begrawe is. Tony Scholtz, leierouderling, verwys na hom “as ‘n nederige mens, plat op die aarde en met die minste tevrede”. ds. KobusStapelberg skryf oor hulle seun Frans se dood: “Met groot dankbaarheid het ek en my vrou by die sterfbed en graf van ons seun gestaan, omdat ons nie ‘n kind verloor het na die wêreld toe of ‘n lewe van sonde nie, maar ‘n geliefde, toegewyde en voorbeeldige bedienaar van die evangelie wat opgeroep is vir hoër diens. Sy liefde en bedagsaamheid teenoor ons as sy ouers sal ons mis, maar ons is dankbaar vir die 46 jaar wat ons dit gehad het.”
Nellie skryf oor haar man: “Frans het ‘n skat van wonderlike herinneringe vir ons nagelaat. Hy het vir my en die kinders geleer dat tyd aan mense bestee nooit gemors is nie – selfs, en soms veral – as jy nie daarvoor beplan het nie. Hy was daar vir ons, al was sy asem min. Ek mis my man, my sielsmaat, die kinders mis hulle pa. Wat ons verloor het, besef ons elke dag akuut. Ons hou vas aan ons Here Jesus Christus, in wie se heerlike teenwoordigheid Frans nou is.”