GEBORE
17 Januarie 1927
OORLEDE
4 Maart 2015
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
BA Hons, MA
ORDEN
–
standplase
–
Emeritus
–
Solomon Ozrovech is op 17 Januarie 1927 in Johannesburg gebore, die jongste seun van Pincu Ozrovech en sy vrou, Rebekka Edelstein. Hulle is Poolse Jode wat in 1923 na Suid-Afrika emigreer het.
Ds Solly skryf: “My ouers het tragies in ʼn motorongeluk omgekom toe ek sewe maande oud was. Ek en my broer, Mark, vier jaar ouer as ek, was saam met hulle in die motor, maar het ongedeerd daarvan afgekom.”
In ‘n vreemde land sonder enige familie word hulle toegewys aan die Joodse kinderhuis te Brixton in Johannesburg, maar weens ‘n burokratiese misverstand van die Departement Volkswelsyn word hulle na die NG Kerk se kinderhuis op Ugie gestuur.
Ds Solly Ozrovech vertel: “Toe hulle die fout agterkom, was die tannie al so geheg aan ons, sy’t tougetrek om ons te hou. Sy’t selfs belowe dat ons Sondae nie NG Kerk toe sou gaan nie, maar naweke by Joodse families sou oorbly. Ek dink dit was die eerste ingryping van God in my lewe.”
Solly en sy broer, Mark, bring hulle kinderjare in die kinderhuis op Ugie in die Oos-Kaap deur. Solly het altyd vertel hoe Mark hom “soos ‘n pa teen boelies beskerm” het.
Die huisouers was Gys en Lettie Roos, wat voor hulle koms na die kinderhuis tussen Aliwal-Noord en Jamestown geboer het. Hulle neem die plek in van ouers in sy lewe, met ‘n positiewe invloed op sy vorming die eerste sestien jaar daarvan. Sy is die enigste ma wat Solly ooit geken het.
Hy is geleer om die lewe te hanteer en waardes te bepaal. Hulle liefdevolle hantering laat ‘n blywende stempel op sy menswees.
Solly is tot in 1944 ‘n leerling aan die Laerskool Ugie, en daarna aan die Hoërskool Outeniqua in George, waar hy na slegs twee jaar in sy matriekjaar in 1946 tot hoofseun verkies word.
In Solly Ozrovech se lewe speel onderwysers ‘n groot rol. Een daarvan is Ken Wilson wat besef dat die jong Joodse seun graag lees. Hy bring vir hom boeke.
Meneer Hope op Ugie was een van Solly se geestelike mentors. Sy teologiese boekery het die jong seun se belangstelling geprikkel.
In sy standerd vyf-jaar het die Here op ‘n besondere wyse meneer Lionel Steward in Solly se lewe gebruik. Hy was ‘n talentvolle sportman, en Solly het hom die geheim van sy sukses gevra. Lionel het geantwoord dat hy Solly gaan voorstel aan ‘n goeie vriend wat hom aangespoor het. Laasgenoemde was ‘n toegewyde kind van die Here en stel die skoolseun Solly aan sy beste vriend, Jesus, bekend. ʼn Jaar lank praat hy elke dag met Solly oor die Bybel en lei hom so na die Here Jesus Christus. Hy gee aan Solly ‘n Nuwe Testament wat die seun met oorgawe lees.
Na sy bekering was Solly se lewe nooit weer dieselfde nie. Daar was ‘n lied in die jong seun se hart. Naweke het hy by Joodse gesinne op Ugie gebly. So is sy insig in die Ou Testament verdiep.
In 1943 is Solly gedoop. Sy belydenisaflegging het ds. GR van Rooyen in die NG gemeente Ugie hanteer. Dit was ‘n plegtigheid in die NG kerkgebou wat ook Joodse gesinne op Ugie en omgewing bygewoon het. Solly skryf: “Toe ek van my knieë af opstaan voor die kansel, het die ou Joodse patriarg my met ‘n beerdruk omhels en gesê: `Solly, as dit die pad is wat God wil hê jy moet loop, loop dit enduit.’ Dit was vir my die mooiste en veelseggendste woorde wat ek ooit gehoor het.”
Die Here Jesus Christus loop ‘n unieke pad met hierdie Joodse seuntjie wat geroepe voel om predikant in die NG Kerk te word. Hy beleef die Here se voorsiening op ‘n tasbare wyse en in 1947 begin hy met sy studie aan die Hugenote Universiteitskollege op Wellington. Hier, aan die voet van die Groenberg, behaal hy die BA-(Honneurs) graad. Hy word student aan die Sendinginstituut op Wellington, waar hy as sendeling opgelei word. Dit was ‘n plegtige oomblik toe Solly op 4 November 1951 as proponent gelegitimeer word, die begin van ‘n lang pad met die kerk wat Solly tot die einde van sy lewe hartstogtelik liefhet.
Hy blink in rugby as kranige skrumskakel uit, en tree laterjare dikwels op as skeidsregter. Hy blink ook in akademie uit en het ‘n leidende aandeel in die sosiale en sportbedrywighede. Hy is later ook ‘n kranige gholfspeler. Op Wellington maak Solly lewenslange vriende. Ons dink aan die dinamiese Japie du Plessis en die platjie Bombaai van Rensburg. Hulle was kamermaats. Ds Solly beskryf die eerste ontmoeting met Bombaai: “Hallo, Solly, shall we put up a fruitshop?”
Prop Solomon Ozrovech word op 6 Maart 1953 as leraar in die NG sendinggemeente Zionskerk in die hart van die Paarl bevestig. Sy kollega was die energieke en dinamiese eerwaarde PP (Paulus) Joubert, letterlik en figuurlik ‘n groot man wat as Godsman diep spore in die Here se koninkryk trap. Hy dien 27 jaar lank in die moderatuur van die NG Sendingkerk. Eerw. Paulus trap ook jare lank as burgermeester diep spore in die Paarl. Ereburgerskap van die dorp word aan hom toegeken, die eerste persoon in die geskiedenis van die Paarl. Daar ontstaan ‘n hegte band tussen die sendelinge van die Zionsgemeente in die Paarl en dit is vir die jong Solly ‘n leerskool met unieke ervarings en geleenthede wat sy lewenspad sterk beïnvloed.
Tydens sy dienstyd in die Paarl ontmoet hy Magdalene Louisa du Toit, die groot liefde in sy lewe. Eerw. Solly en Louise Ozrovech trou op 7 Maart 1954 op Worcester, ‘n huwelik wat voltrek word deur ds. David de Villiers (later professor) van die Strooidakkerk in die Paarl. Uit die huwelik is drie seuns en twee dogters gebore. Later skryf ds. Solly oor sy vrou: “Dit bly altyd vir my ‘n wonder van God se genade en ‘n bewys van Louise se besondere liefde dat sy my, ten spyte van my agtergrond as weeshuiskind, uit Joodse afstamming, as brandarm leraar van ‘n sendinggemeente, onvoorwaardelik aanvaar het.”
Op 20 Maart 1956 word ds. Solly as leraar van die NG sendinggemeente Steytlerville in die Oos-Kaapse platteland bevestig. Dit was ‘n arm en behoeftige gemeente. Met behulp van Steytlerville se boeregemeenskap is ‘n boorgat gesink en het die gemeenskap die eerste keer lopende water.
In sy dienstyd word groot maatskaplike opheffingswerk gedoen en reik gemeenskappe na mekaar uit.
‘n Roepstem kom na Ugie as direkteur van die Ugie Kinderhuis, waar ds. Solly sy vormingsjare beleef het. Hy keer dus terug na sy wortels toe hy op 25 Oktober 1958 op Ugie begin, die betaal van ‘n “ereskuld”, soos hy dit later beskryf.
Hier doen hy baanbrekerswerk en ‘n nuwe “Kinderoord MTR Smit” word gebou, vernoem na die stigter. Hy beskryf sy verbintenis met Ugie en die kinderhuis in ‘n lewenswaardige boek ‘n Vasmeerplekvir die hawelose.
Nadat ds. Solly en Louise Ozrovech diep spore op Ugie trap, loop hulle pad op 26 Junie 1965 na die NG gemeen te Strand-Noord, ‘n gemeente waar hy en sy kollega, d. AS Burden, mekaar goed aanvul en ‘n geestelike bloeitydperk in die Strand beleef word. Solly het by sy kollega die waarde van bepeinsing en omgang met die Here geleer. Hier begin ds. Solly met ʼn telefoondiens met ‘n kort boodskap uit die Woord en publiseer hy sy eerste pennevrug, “In stilwees en vertroue”.
Op 12 Oktober 1970 word ds. Solly die gemeenteleraar en vlootkapelaan van die NG gemeente Gordonsbaai waar ‘n geestelike herlewing plaasvind met ongekende seën van Bo. In sy tyd word die “Firlands-inryteater” gebruik om ekstra kerkdienste te hou, wat hom die gramskap van kollegas op die hals haal wat daarna as die “kerksirkus” verwys. Maar op
manier word duisende mense met die evangelie bereik.
Hier kom ‘n roepstem na die NG gemeente Robinson-Oos, waar die gesin op 20 Maart 1979 hulle tentpenne in die Breëriviervallei inslaan. Hier beleef hulle sewe baie gelukkige jare, waar hulle met ds. Japie Smit saam werk, ‘n diep gelowige man met wie ‘n mens kon praat.
Op 25 Mei 1985 word ds. Solly as leraar van NG gemeente Vishoek bevestig, ‘n eenman gemeente waar hy aanvanklik alleen werk totdat ds. Louwtjie Wahl sy kollega word. Hierdie jong dominee se hartlike samewerking toon aan dat ‘n gaping in ouderdomme nie ‘n verskil hoef te maak nie. Die gemeente word geleer om hulle as gelykes te behandel.
Op 14 April 1991 aanvaar ds. Solly Ozrovech sy emeritaat en hy en Louise vestig hulle in ‘n ruim woonstel in Kusweg, Strand. Maar daar was ook kort daarna groot hartseer, toe hulle dogter op ‘n onnatuurlike manier sterf.
Ds Solly kon nie aftree nie, maar dit was ‘n aantree. Om te skryf, was vir hom ‘n leefwyse, soos asemhaling. In die volgende twee dekades skryf hy met oorgawe en verskyn daar ongeveer 150 boeke, meestal dagboeke wat verskeie herdrukke beleef. Ds Solly Ozrovech en dr. Andrew Murray is in die geskiedenis van die NG Kerk in Suid-Afrika die grootste Christelike skrywers.
Die beheerraad van die Andrew Murray Prysfonds gee in 2002 aan ds. Solly ‘n erepenning en spesiale toekenning as die mees gelese hedendaagse Christelike skrywer in Afrikaans.
Na sy aftrede, word ds. Solly ‘n landswye prediker, en besoek hy meer as 450 gemeentes. Daar was groot geestelike seën op sy prediking en werk.
In ds. Solly Ozrovech se 87ste lewensjaar kom ‘n skerp draai op sy lewenspad toe ‘n gesinstydskrif op 22 Januarie 2014 bewerings publiseer dat hy 50 jaar vantevore as leraar van die kinderoord in Ugie seuns seksueel misbruik het. Dit bring skokgolwe in die land, en die NG Kerk verklaar ‘n ondersoek: “Vanweë die fisieke en psigiese onvermoë van ds. Ozrovech om aan homself reg te laat geskied in ‘n ondersoek, was dit nie vir die ondersoekliggaam moontlik om die ondersoek te voltooi volgens die kerkordelik-voorgeskrewe prosedure nie.”
Hierdie geliefde en geëerde leraarspaar se lewe word in hulle gryse ouderdom verwoes, maar hulle vind troos en versterking in die Here wat alles weet en hulle in sy liefde toevou. Na sy dogter se dood destyds, skryf hy: “Teenspoed is maar net soos die skaduwee wat onder die beskermende hand van God oor ons uitgesprei is.” Hierdie man na God se hart beleef dit ook toe die donkerte in 2014 oor hom toesak.
Ds Solly sterf op 4 Maart 2015 aan hart- en nierversaking en is twee weke vroeër in die hospitaal opgeneem na ‘n ernstige hartaanval. Hy laat sy vrou Louise, vier kinders, agt kleinkinders en vier agterkleinkinders agter.
Ds Willem Venter bedien die Woord in ‘n stampvol Strand-Noord-kerkgebou toe daar afskeid geneem word van hierdie Christelike skrywer-ikoon wat diep spore vir Christus in mense se harte getrap het.
Die gebed van die profeet Nehemia is so ‘n menslike gebed. Daarom glo ek dit het ook in die hart van die bejaarde en verwonde ds. Solly Ozrovech geleef: “Onthou tog wat ek gedoen het, my God. Moet tog nie dat my liefdesdade wat ek in die huis van God en in sy diens gedoen het, vergeet raak nie” (Neh. 13:14) Dr. Gerdrie van der Merwe.