Söhnge, Wilhelm Ernst Heinrich

Ds WEH Songhe

gebore

27 Mei 1909

OORLEDE

02 Sep. 1995

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1934

ORDEN

1940

standplase

1946 Olifantshoek

1948 Westdene

1949 Crosby-Wes

EMERITEER

19 Mrt. 1972

Ds. Söhnge se ouers was uit Duitsland afkomstig. Sy vader, Adolf Heinrich Söhnge (gebore in 1876 in Siegen, Wesfale); het in 1908 na Suid-Afrika gekom as Rynse sendeling. Ook sy moeder, Marie Kuhlman (gebore 1979 te Barmen, Wuppertal); het in dieselfde tyd na Suid-Afrika gekom en hulle is in 1908 op Worcester in die huwelik bevestig.

Wilhelm is op 27 Mei 1909 op Worcester gebore en in 1913 het die gesin na Saron verhuis waar hulle tot aan die einde van 1921 gewoon het. Aan die begin van 1922 is hulle weer na Worcester waar sy vader gearbei het tot met sy emeritaat in 1942.

Sy eerste onderwys het hy op Saron in die plaaslike kleurlingskool daar ontvang. Daarna is hy na die skool op Worcester. In sy standerd drie-jaar is hy na Wellington waar hy in die koshuis vir buitelandse sendelinge van die Ned Geref. Kerk, naamlik Kwatu, tuis was. Toe sy ouers weer na Worcester is, het hy sy skoolloopbaan daar aan die einde van 1926 voltooi. Daarna is hy na Stellenbosch, waar hy sy BA- graad in 1929 verwerf en toe die teologiese kursusaan die Teologiese Kweekskool voltooi het. Hy was ook bevoorreg om daarna vir ‘n jaar in Tubingen in Duitsland onder prof K Heim te studeer. Hy word dus eers in 1934 gelegitimeer.

Dit was nou die depressiejare (1933 tot 1935) en beroepe was uiters skaars. Hy tree toe vir twee jaar in diens van die Bybelgenootskap, maar voel tog die drang om die evangelie te verkondig en aanvaar in 1937 ‘n hulppredikerskap in Middelburg in die destydse Transvaal. In 1938 word hy hulpprediker in Eloffsdal, Pretoria. Op 19.10.1940 aanvaar hy uiteindelik ‘n beroep na Waterval-Boven. Sy ander gemeentes was: Olifantshoek, (11.09.1946); Westdene (03.07.1948) en Hurst Hill, wat in 1949 afstig as die gemeente Crosby-Wes. Hier was hy leraar (vanaf 04.12.1949) vir 23 jaar tot met sy emeritaat op 19 Maart 1972.

Hy is in 1938 getroud met Lichtstraal Naudé die oudste dogter van die bekende ds. en mev. J F Naudé (wat hom die swaer gemaak het van bekendes soos FE O’B Geldenhuis, FJB Naudé en CFB Naudé); Uit die huwelik is drie kinders gebore, naamlik Waldemar Ferreaux (tans professor by Unisa); Adelheit (tans Van Deventer) en Hilde Marie (tans Cuyler); Daar is reeds tien kleinkinders.

Na sy emeritaat gaan woon hulle in Sunnyside, Pretoria, maar verhuis in 1980 na Johannesburg (Rooseveltpark) en in 1991 na Fontainebleau in Randburg. In 1993 ondergaan hy ‘n heupoorplantings-operasie waarvan hy redelik herstel. Sy gehoor verswak egter toenemend en na ‘n breukoperasie in 1994 verswak hy verder totdat hy op 2 September 1995 oorlede is.

Ds. Söhnge sal veral onthou word vir sy geweldige bydrae tot die kerkmusiek. Hy was ‘n uitmuntende en fyn-aanvoelende orrelis. Gedurende sy studiejare op Stellenbosch het hy vir twee jaar orrellesse by prof Jannasch geneem en later, saam met dr Gawie as orrelis in Stellenbosch opgetree. Intussen het hy kort stukkies vir gebruik op die orrel begin aanteken.

In die Sinode van die Ned Hervormde of Geref. Kerk (Transvaal) van 1944 lewer ds. Sijdinge, ‘n toespraak oor die kerksang en beklemtoon die saak van kerkmusiek as ‘n aktuele probleem. Die sinode versoek hom gevolglik om besondere aandag te gee aan die kerkmusiek. In die jare daarna word hy dikwels gevra om verskillende aspekte van kerkmusiek te behandel waardeur ‘n toenemende bewuswording van die betekenis van kerkmusiek geskep is. Benewens ‘n staande Kommissie vir Kerkmusiek, help hy met die organisering van verskeie konferensies en kongresse oor kerkmusiek. Dit het uitgeloop op die groot Uniale Kerkmusiekkongres te Bloemfontein in 1954. In 1958 gaan die NG Kerk van Transvaal daartoe oor om ‘n Kerkmusiekskool te Pretoria in te stel waar ds. Sohnge vir 13 jaar die lesings oor Himnologie behartig. Later amalgameer hierdie Kerkmusiekskool met die Musiekdepartement van die Universiteit van Pretoria.

Hy is gevra om talle orreluitvoerings te hou en by orrel inwydings op te tree. So was sy optrede by Hopetown sy 104de orreluitvoering, die 34ste orrelinwyding en die 32ste kerkinwyding!

Veral in die jare na sy bediening het hy ernstige aandag gegee aan die komponeer van veral voor- en naspele vir die orrel oor melodieë onder andere in die Psalm- en Gesangboek (byvoorbeeld Gesang 152: ʼn Vaste Burg is onse God’); die Duitse EKG (byvoorbeeld nommer 132: `Wir glauben all an einen Gott’); Engelse kerkliedere (byvoorbeeld English Hymnal nommer 540: ‘Etemal Father strong to save’); ou Protestantse bronne (byvoorbeeld Gsangbuche: Psalm 1, ‘O Herre Gott, begnade mich’) en die Rynse `Gezangen en Liederen’ (byvoorbeeld nommer 234: `Mijn leven gaf ik vry’); Hy komponeer ook ‘n aantal koorsange waarvan ‘n paar in die ‘Nuwe Lied’ (‘n koorboek, uitgegee in 1965) verskyn het, ook ʼn paar kantates, ‘n Kerskantate en ‘n koorwerk vir twee kore. By dit alles komponeer hy ook ‘n aantal klavierstukke. Moontlik sal die toekoms nog laat blyk watter groot kerkmusiekmens in ons midde was in die 20ste eeu. – Uit aantekeninge van ds. Sohnge self en verwerk deur DJ Viljoen.