Smuts, Michiel

 

gebore

25 Nov. 1869

OORLEDE

25 Mei 1938

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1902

ORDEN

1903

standplase

Lindley

1906 Darling

1912 Piketberg

1917 Lindley

1922 Philadelphia

EMERITEER

1935

Ds. Michiel Smuts is 25 November 1869 op Malmesbury gebore. Daar het hy skoolgegaan tot 1888, toe hy na die Normaalkollege, Kaapstad, gegaan het om as onderwyser opgelei te word. Nadat hy onderwys gegee het in Wellington, Vanrhynsdorp en Prins-Albert en ook aan die hoof gestaan het van ‘n industriële inrigting op Stellenbosch, is hy op 12 Desember 1902, na die vierjarige kursus aan die Kweekskool, tot die Evangeliebediening toegelaat. Sy eerste gemeente was Lindley van 1903 tot 1906, toe hy na Darling gegaan het en daar meer as vyf jaar gearbei het, en in 1912 Piketberg vir Darling verwissel het. In 1917 is hy terug Lindley-toe, waar daar ten gevolge van die handelwyse van die vorige leraar omstandighede geheers het wat die opvolging in die vakante plek noodsaaklik gemaak het van ‘n man met ervaring, mensekennis en takt. Sodanige man was Ds. Smuts, wie se optrede in sy gemeente die gewenste gevolg gehad het. In 1922 het Ds. Smuts ‘n beroep aangeneem na Philadelphia, sy laaste gemeente. Daar het hy, soos in sy ander gemeentes, met ywer en seën gearbei, totdat hy hom in 1935 genoodsaak gevind het om weens gesondheid sy emeritaat te aanvaar. Daarna het hy te Bellville hom gevestig en daar is hy op 25 Mei 1938 onverwags ontslape. Sy stoflike oorskot is in Philadelphia begrawe.