Smith, Pieter Ernst Scholtz * 1948

Ds. Smith Pieter

gebore

29 Sep. 1948

OORLEDE

3 Nov. 2010

UNIVERSITEIT

(BA, BD) UP

gelegitimeer

1975

ORDEN

1976

standplase

1976 Johannesburg-Oos

1982 Aucklandpark

2000 Johannesburg-Oos

EMERITEER

Pieter Ernst Scholtz Smith is op 29 September 1948 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Hy word deur sy vriende as Piet Smith aangespreek. Pieter se vader was ds. Pieter Ernst Scholtz Smith, ‘n geliefde onder sendingstasies en jare lank Sending sekretaris van die Algemene Sinode. Hy het nie net sy kinders positief aangeraak nie, maar het met oorgawe homself gewy aan die NG Kerk en Sending taak waarvoor hy geroep was. Sy moeder, Ria, was onderwyseres aan die Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria en was net soos haar man uit besondere lewens hout gesny. Uit die huwelik is twee dogters en drie seuns gebore. Hy laat twee susters en twee broers na.

Pieter matrikuleer in 1966 aan die Hoërskool Menlopark, waar hy as hoofseun deur woord en daad ‘n verskil maak. In 1967 skryf hy in as student aan die Universiteit Pretoria en behaal die BA (Admissie) wat hom toegang gee tot die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan Tukkies. Aan die einde van 1972 behaal hy die BD-graad (cum laude) aan dieselfde universiteit en besluit om met sy doktorale studie voort te gaan. Aan die einde van 1975 word hy gelegitimeer en ontvang twee beroepe, een na die NG Gemeente Marken in die destydse Rhodesië en ook na die NG Gemeente Johannesburg- Oos (Irene-kerk); Hy word gelei om die beroep aan te neem na die middestad van Johannesburg, waar hy op 7 Februarie 1976 met handoplegging ontvang en bevestig word. Sy kollega en latere boesemvriend is ds. Willie Goosen, ‘n spanmaat met wie hy ‘n besondere pad loop.

Pieter trou in 1973 met Lida Slabbert. Sy is dosent in Toegepaste Wiskunde aan die Universiteit Pretoria. Hulle het mekaar ontmoet toe hulle deel was van Tukkies se koor. Musiek en sang het altyd ‘n belangrike rol in hulle lewe gespeel. Uit hulle gelukkige huwelik is vyf baie begaafde kinders gebore: Pieter, Alli, Hendrik, Bertus en Mia. Die gesin het al hulle jare in Johannesburg gewoon.

In 1982 word ds. PES Smith studenteleraar in die NG Gemeente Auckland park (nou Melville); in een van twee poste om studente van die Randse Afrikaan Universiteit (RAU) te bedien. Met hierdie groot werk raak hy 17 jaar lank jongmense, se lewe en hart aan. Ons weet dat hy menige student en vele ander, se lewe onuitwisbaar aangeraak het. Rondom 2000 raak hy intens betrokke by Middestad Evangelisasie en Sending (MES) in die middestad van Johannesburg. In die jaar is hy terug as gemeenteleraar van die NG Gemeente Johannesburg (Johannesburg-Oos het intussen by die gemeente ingeskakel); waar hy werk tot hy in 2008 sy emeritaat aanvaar. Ds. Pieter Smith was uiters intelligent en het as begaafde mens almal aangeraak wat sy pad gekruis het.

Ds. Pieter se belangstelling en kennis het wyd gestrek, van literatuur, digkuns, musiek, stap, verskeie plantsoorte en mense. Hy kon oor alles praat. Hy was ‘n kenner en wandelende ensiklopedie wat die inheemse planteryk betref. Met natuuruitstappies, staptoere en werkers kampe saam met studente is talryke sade en stiggies van ‘n groot verskeidenheid plante versamel en by die huis kom plant. Hy kon oor elkeen se herkoms en kenmerke praat en uit die vuis uit hulle Afrikaanse en Latynse name noem. Na sy emeritaat het hy tuine uitgelê en tuindienste gelewer. So pryk Piet se geestelike plantwerk ook in die lewe van talle mense wat pragtige vrugte vir die koninkryk dra.

Sy kollega en vriend, ds. Willie Goosen, skryf: “Pieter was een van die min predikante wat geëindig het in die gemeente waar hy begin het, maar sonder om ‘n fraksie van sy ywer en passie vir die evangelie prys te gee. Hy het homself gegee vir die eenvoudige en beproefde mense van die middestad. Hy het sy gawe van lering geslyp om die evangelie eenvoudig oor te dra. Kenmerkend van hom was sy deeglike en indringende Bybelstudies. Geen taak of dienslewering was vir hom te eenvoudig nie. Hoogmoed en aanstellerigheid het hy nooit geken nie. Deur moeilike tye en beproewings kon Piet innig glimlag en het altyd ‘n grappie gehad om te deel. Sy treffende geheue, wat hy soos ‘n ensiklopedie kon gebruik, was gevul met anekdotes en humor. God se belegging in Pieter Smith het goeie opbrengs gelewer. Net die ewigheid sal dit openbaar.”

Die NG Kerk het met skok en hartseer kennis geneem daarvan toe ds. Pieter Smith skielik op 3 November 2010 na ʼn kort siekbed aan longontsteking oorlede is. Hy was ‘n man van vele talente en gawes, daar was altyd waardering vir die pragtige Afrikaans wat hy gepraat het. Sy pragtige sangstem by die Sinodesitting sal stil wees. Hy word uit die NG Kerk Irene begrawe, die Lewensbrood word bedien deur ‘n deurwinterde mens, goeie vriend en oud-kollega, ds. Willie Goosen. – Dr Gerdrie van der Merwe.