
gebore
12Okt. 1909
OORLEDE
11 Mrt. 1979
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1934
ORDEN
1936
standplase
1936 Philadelphia
1942 Emeritus
1947 Pearston
1950 Kamieskroon
1954 Port Nolloth
1958 Dutoitspan
1959 Argivaris Kaapse kerk
EMERITEER
1974
Ds Abraham Petrus(Awie) Smit (12.10. 1909 – 11.3.1979) is minder as 4½ jaar na sy aftrede as argivaris van die NG Kerk in SA en na ‘n siekbed van etlike weke, in die Tygerberg-Hospitaal Oorlede. As seun van die bekende onderwyser en skoolhoof, wyle mnr. H E (Maans Meester) Smit, is hy naby Redelinghuys in die Wes-Kaaplandse Sandveld gebore. Na sy skoolopleiding in sy geboortedistrik en aan die hoërskool op Piketberg, gaan hy na Stellenbosch waar hy die MA-graad met ‘n skripsie oor Swartlandskerk 1745-1824 verwerf en sy teologiese opleiding aan die Kweekskool ontvang. In 1934 gelegitimeer, word hy 8.2.1936 in sy eerste gemeente, Philadelphia in die Koeberg, bevestig, nadat hy as hulpprediker in Grahamstad, Parow en Kaapstad werksaam was. ‘n Ernstige krankheid wat hom middel November 1940 aantas en dit meer as ‘n jaar vir hom onmoontlik maak om sy gemeentelike werk te verrig, lei daartoe dat hy uit eie beweging April 1942 sy emeritaat aanvaar. Nadat hy ‘n tyd in die Karoo deurgebring het, het stelt hy so volkome dat hy 1947 ‘n beroep na Pearston kan aanneem. Daarna bedien hy ook Kamieskroon (1950); Port Nolloth (1954) en Dutoitspan (1958) met seën, totdat hy September 1959 dr J A S Oberholster as heeltydse argivaris van die Kaapse Kerk opvolg. In die hoedanigheid word hy later ook argivaris van die Algemene Sinode van die NG kerk. Tydens sy bediening is hy ‘n werksame lid van onder andere die Sinodale Kommissie, die ou Armesorgkommissie, die Proponent-seksamenkommissie en van die Argiefkommissie wat hy ook ‘n tyd as voorsitter dien. In die belangrike werksaamhede van die Algemene Argiefkommissie is hy as skriba as ‘t ware die sleutelfiguur, en die Kaapse Kerkargief brei so uit dat dit ‘n eersterangse navorsingsentrum word. Na sy aftrede 31.10.1074, woon hy en sy tweede eggenote in die Strand, waar hy leiding in kultuuraangeleenthede neem en ook as ouderling in Suider-Strand gewaardeerde diens lewer. Verder sit hy die kerkhistoriese navorsing waarmee hy al die jare besig was, met soveel ywer voort, dat ons kerklike geskiedskrywing uiteindelik met oor die 30 gemeentelike en ander gedenkboeke uit sy pen verryk word. Daarbenewens lewer hy talle tydskrifartikels oor sake van kerk- en wyer geskiedkundige belang, terwyl hy ook in die Genealogiese Genootskap en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en as medewerker van die SA Biografiese Woordeboek en die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika bedrywig bly. Hy was vir sy besondere hardwerkendheid en deeglikheid bekend, en word op Durbanville waar hy vroeër woonagtig was, ter ruste gelê. (Jaarboek 1980/247).