gebore
12 Maart 1925
oorlede
10 Julie 2015
Universiteit
BA (UKOVS & US)
gelegitimeer
1950
Orden
1951
Standplase
1951 Port Elizabeth-Suid
1952 Port Elizabeth-Oos
1962 Ysterplaat-Suid
1968 Dutoitspan
1974 Murraysburg
1985 Laingsburg
emeriteer
22 September 1991
DS JOHNNIE SIEBERT (BA) 12 Maart 1925 — 10 Julie 2015
Johannes Hendrikus Siebert is op 12 Maart 1925 gebore in die distrik Philippolis. Sy voorouers dien die Here as boere en beleef die besondere bediening van ds Colin Fraser voor en na die Anglo Boereoorlog. Hulle was ook besonder geheg aan dr Tobie Muller, geliefde leraar wat tydens die groot griep in 1918 sterf. Johnnie se ouers was Poena en Jacoba Siebert, twee mense van boereadel en hardwerkende Afrikaners met geloof dat die Here voorsien. Die jong Johnnie begin sy skoolopleiding aan ‘n plaasskool en hy is later leerling aan die Hoërskool Philippolis waar hy matrikuleer. Hoewel dit in die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog was, wou hy graag verder studeer.
Hy volg nie in die voetspore van sy vader om te boer nie, maar besluit om ‘n mediese dokter te word en vertrek na die destydse Universiteitskollege van die Oranje Vrystaat. In sy eerste jaar verander hy van kursus omdat hy besluit om predikant te word. Hy verwerf die BA graad aan UKOVS en word in 1947 student aan die Teologiese Seminarium, waar hy aan die einde van 1950 as proponent gelegitimeer word.
Na sy toelating tot die bediening werk die jong proponent met oorgawe in verskeie gemeentes en word op 8 Desember 1951 met handoplegging in die NG Gemeente Port Elizabeth Suid ontvang en bevestig. Weens die groot gemeente besluit die kerkraad om af te stig en op 27 September 1952 word ds JH Siebert die leraar van die NG Gemeente Port Elizabeth Oos. Hier was hy ‘n dekade lank leraar en hy werk met ywer om die nuwe gemeente te vestig, ook met die bou van ‘n nuwe kerkgebou en pastorie. Dit was ‘n bIoeitydperk in Algoabaai en die NG Kerk groei in die vriendelike stad met enorme moontlikhede.
Dan kom ‘n roepstem na die Noord Kaap as leraar van die NG Gemeente Dutoitspan te Beaconsfield in die diamantstad Kimberley. Hy en sy vrou en hulle twee jong seuntjies, word die naweek van 68 Desember 1968 ontvang en bevestig as opvolger van ds JH Frier. Ds CB Roelofse van Sonnekus het die bevestigingsrede gelewer en Sondag lewer ds Johnnie sy intreepreek uit Handelinge 10:29. Tydens sy verblyf in die gemeente word die eeufees in 1972 gevier en ‘n hardeband gedenkboek verskyn by die geleentheid.
Na ses jaar kom ‘n roepstem na die NG Gemeente Murraysburg in die Groot Karoo, waar ds JH Siebert en sy vrou waardigheid gee aan die leraarsamp in hierdie besondere boerderygemeenskap. Hy word die naweek van 18 Januarie 1974 in die gemeente ontvang en bevestig, waar hy nege jaar lank die kudde van Murraysburg met oorgawe bedien. Op 26 April 1985 word hy leraar van die NG Gemeente Laingsburg, die dorp wat op 25 Januarie 1981 oorstroom is toe die Buffels en Baviaansrivier hulle walle oorstroom het. Dit was slegs vier jaar na die groot vloed en die spore van hartseer en emosionele letsels was nog vars in die geheue. Dit was sy laaste gemeente waar hy as wyse grysaard die woord met krag verkondig en mense in nood bygestaan het.
Ds JH Siebert aanvaar op 22 September 1991 sy emeritaat en die egpaar vestig hulle in hulle eerste eie woning te Welgemoed in Bellville, waar hulle seun dr Igno ‘n mediese dokter ook woon. Hier gee ds Johnnie sy vrou in 2004 aan die dood af. Die laaste paar jaar voor sy dood woon hy en word versorg in die George en Annie Starck Holmes tehuis in Bellville waar hy op 10 Julie 2015 sterf. Sy begrafnisdiens word op 16 Julie 2015 waargeneem deur ds Nelis Janse van Rensburg van die NG Gemeente Welgemoed in Bellville. Huldeblyke word gelewer deur Hannes Siebert en Andre Ferreira. Die bedankings word deur sy seun dr Igno Siebert waargeneem.
Ds Johnnie Siebert se gesinslede en vriende onthou hom as iemand wat met min woorde hulle lewe aangeraak het deur onbaatsugtige liefde. Deur sy lewe het hulle ‘n blik van Jesus se liefde gesien en ervaar. As “Doom” en oupa het hy ‘n besonder ondersteunende pad met hulle geloop. Hulle onthou veral sy “… besondere en intieme verhouding met God, sy kinderlike geloof, sy wysheid en teenwoordige vrede, sy gebede en altyd oop deur. Sy waardigheid en integriteit was en bly altyd vir ons ‘n wonderlike geskenk en inspirasie.” — Dr Gerdrie van der Merwe, VDM (Bl. 416)