
gebore
31 Mrt. 1917
OORLEDE
25 Jan. 2004
UNIVERSITEIT
BA (US)
gelegitimeer
1941
ORDEN
1942
standplase
1942 Oudtshoorn
1946 Middelburg (KP)
1950 Oudtshoorn-Wes
1957 Calitzdorp
1960 Die Paarl
1964 Sendingsekretaris
EMERITEER
17 Apr 1983
Jacobus Johannes Sieberhagen is 31 Maart 1917 op die plaas Goedehoop in die distrik Fraserburg gebore as een van agt kinders. Siebie, soos hy by familie en vriende bekend gestaan het, was die seun van die bekende Jacobus Johannes Sieberhagen, in die omgewing bekend as oom Kootjie. Hy was getroud met Johanna Hendrika Marais, ‘n wonderlike vrou en moeder wat op 45-jarige leeftyd oorlede is. Sy het die sendingbegeerte by haar seun gekweek.
Met Siebie se geboorte was ds. JWL Hofmeyr leraar op Fraserburg, iemand met ‘n sendinghart wat in 1918 sendingsekretaris geword het. Sy opvolger op Fraserburg was ds. JG Olivier wat in 1933 ds. JWL Hofmeyr ook as sendingsekretaris opgevolg het. Ds. Siebie het in 1964 sendingsekretaris van die NG Kerk geword. Dit is interessant dat Siebie, net soos sy voorgangers as sendingsekretarisse, se pad deur Fraserburg geloop het.
Siebie het sy eerste skoolopleiding op ‘n plaasskool ontvang en was van 1926 tot 1933 leerling aan die Laer- en Hoërskool Fraserburg waar hy gematrikuleer het. Daarna het hy die BA-Admissiegraad met Sielkunde as hoofvak, en later die MA-graad op Stellenbosch behaal. Aan die begin van 1938 het Siebie hom as student aan die Teologiese Seminarium ingeskryf waar hy op 3 Desember 1941 in die Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer is. Die rede is deur dr BB Keet gelewer en dertien studente is tot die evangeliebediening toegelaat.
Prop JJ Sieberhagen is as derde predikant van die NG Moedergemeente op Oudtshoorn beroep. Op Sondagaand 14 Junie 1942 is hy met handoplegging in die pragtige klipkerk ontvang en bevestig. Die rede is gelewer deur ds. CH Kruger van Fraserburg. Hy het spoedig sy lewensmaat op Oudtshoorn ontmoet en is op 16 Januarie 1943 met Alida Johanna de Villiers van Durbanville getroud. As gekwalifiseerde onderwyseres wat haar opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang het, was sy ‘n sprankelende pastoriemoeder en altyd aan haar man se sy. Dit was wonderlike eerste jare in die bediening, en veral die jeug en die sending het uitgestaan in ds. Sieberhagen se arbeid op Oudtshoorn. Hy het die huisbesoek in die buitewyke geniet en as boerseun intens in die wel en wee van die boere belanggestel. Daar was ook ‘n besondere verhouding tussen hom en sy kollegas, en met sy vertrek is melding gemaak van sy taktvolle optrede en minsaamheid teenoor sy kollegas, die kerkraad en gemeente.
Begin 1946 het ds. Siebie beroepe na die gemeentes Colesberg en Middelburg (Kaap) ontvang. Laasgenoemde het hy as ‘n roepstem ervaar waarop hy positief moes antwoord. Op Oudtshoorn is hy opgevolg deur die jong ds. AP Treurnicht, later ‘n bekende politikus.
Oudtshoorn het swaar afskeid geneem van ds. en mev. Sieberhagen, maar die egpaar is die naweek van 14 tot 16 Junie 1946 in die gemeente Middelburg (Kaap) ontvang en bevestig. Die bevestigingsrede is deur ds. JS Theron van Aliwal-Noord gelewer. Na die vertrek van ds. GC le Roux moes ds. Siebie vir langer as tien maande die groot gemeente Middelburg alleen hanteer. Tydens sy dienstyd is daadwerklik aandag aan sending gegee, ‘n kerkgebou is vir die NGKA gebou en ‘n swart evangelis is aangestel.
Op Sondag, 6 Augustus 1950, het ds. Siebie sy afskeidspreek gelewer, want hy het ‘n beroep na Oudtshoorn-Wes aanvaar. Hierdie keer is die rolle omgeruil en het hy ds. AP Treurnicht as leraar opgevolg. Die naweek van 26 Augustus1950 is ds. en mev. Sieberhagen en hulle drie dogtertjies in die gemeente Oudtshoorn-Wes ontvang en bevestig, die begin van ‘n besondere dienstyd van ses jaar. Hier het ds. Siebie wonderlike samewerking ondervind, ook met die bou van ‘n nuwe kerksaal. Daarna het hierdie geliefde leraar se pad na die gemeente Calitzdorp gelei, waar hy op 13 April 1957 bevestig is. Hier het die gesin ook groot vreugde ervaar toe ‘n seuntjie in die winter van 1959 gebore is wat die name van ds. Siebie en sy vader kon dra – Jacobus Johannes Sieberhagen. In sy dienstyd is ook ‘n nuwe kerksaal op Calitzdorp gebou. Ds. Siebie het in die 1973 feesboek geskryf: “Ons dank God elke maal as ons aan Calitzdorp dink. In ons gedagtes leef daar talle mooi herinneringe aan die gelukkige jare wat ons in die gemeente gewerk, die evangelie verkondig en in die gemeente beweeg het.”
Op 9 September 1960 het ds. en mev. Sieberhagen leraarspaar van die Strooidakkerk in die Paarl geword. Die bevestigingsrede is deur eerw. CF Sieberhagen waargeneem. In ds. Siebie se dienstyd is die eeufeesviering van die Pinksterdienste (1861-1961) in die Strooidakkerk gevier. Na slegs vier jaar het die roepstem tot voltydse sendingbetrokkenheid gekom, ‘n geleentheid wat ds. Siebie met albei hande aangegryp het. Hy is op 1 Oktober 1964 as binnelandse sendingsekretaris van die Kaapse Kerk bevestig, en na ‘n dekade het hy in 1974 die algemene sendingsekretaris van die Kaapse Kerk geword. Hierdie amp het hy met onderskeiding beklee tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 17 April 1983.
In 1974 het ds. Siebie lid van die Raad van die Hugenote-Kollege geword en in 1976 die voorsitter, ‘n taak wat hy met insig vervul het en wat daartoe gelei het dat die band tussen die inrigting en die Universiteit van Suid-Afrika verstewig het. In 1980 het hy die eerste voorsitter van die direksie van Bybelkor geword waar hy ‘n groot rol in die uitbouing van die instansie gespeel het.
In die bestek van 21 jaar het ds. Siebie baanbrekerswerk op sendinggebied in die NG Kerk in Suid-Afrika gedoen. Hy het in verskeie kommissies en rade gedien en ‘n leidende rol in die beplanning en uitvoering van die sendingbeleid van die kerk gespeel. Hy was ook lid van die kuratorium van die NG Sendingkerk en het na sy aftrede steeds in die bestuur van die skool vir serebraal gestremdes in Brackenfell gedien. As lid van die skakelkommissie van die NGK en NGSK het ds. Siebie ‘n belangrike rol in moeilike jare vervul toe die spanning tussen die kerke hoog was. Ds. Siebie was ‘n buitengewone administrateur wat met sorg die agendas, notules en verslae opgestel het, ‘n skakelpersoon met die vermoë om mense met verskillende standpunte bymekaar te bring en spanning situasies te ontlont. Hy was ‘n stigterslid en enkele jare voorsitter van die SA Sending gestig se museum in Kaapstad, en voor die ontbinding van die Mannesendingbond die sekretaris.
As sendingsekretaris was ds. Siebie se hart in sy werk, dit het hom baie keer dae en weke van die huis weggeneem, maar sy vrou Alida was tot die einde toe ‘n ware steunpilaar en voorbidder. Hy en Alida het vier kinders: Alett van Wyk van Fraserburg, Erika Loubser van Franschhoek, Alida Murray van George, en dr Kobus Sierberhagen van Pretoria. Met ds. Siebie se afsterwe was daar veertien kleinkinders en agt agterkleinkinders.
Op 25 November 1983, die jaar waarin ds. JJ Sieberhagen afgetree het, is hy deur die Universiteit van Suid-Afrika met ‘n eredoktorsgraad vereer. Ons haal slegs ‘n enkele paragraaf aan van die motivering: “Dit is vir die Universiteit van Suid-Afrika ‘n eer om erkentlikheid te betuig aan iemand wat as onbeskaamde dienskneg van die Koning van die kerk so ‘n groot bydrae op ‘n breë terrein van kerklike werksaamhede en veral op die terrein van die opleiding van kerklike werkkragte gemaak het, en wat in sy persoon en optrede agting vir ‘n nuwe inhoud en siening van die gemeenskapsdiens van die hoër onderwys afgedwing het.”
Na die aanvaarding van sy emeritaat in 1983 het die egpaar in hulle huis in Courtrai in Suider-Paarl, wat hulle sedert 1964 bewoon het, aangebly. Toe die gemeente Suider-Paarl in 1968 van die Strooidakkerk afgestig het, het die egpaar ‘n groot rol in die vestiging van die gemeente gespeel waar ds. Siebie ook as ouderling en pastor van die leraars diens gedoen het. Hy het ook in die stadsraad van die Paarl gedien en was van 1989 tot 1990 burgemeester van die Paarl. In 1997 het ds. Siebie en Alida Sieberhagen na Huis Vergenoeg in die Paarl verhuis, waar hy op 25 Januarie 2004 na ‘n kort siekte oorlede is.
Hierdie sendingheer is op 29 Januarie 2004 uit die NG Strooidakkerk in die Paarl begrawe en die teraardebestelling het in die voortuin van die Strooidakkerk plaasgevind, die tradisionele rusplek vir leraars en hulle eggenotes wat bande met die geskiedkundige gemeente het. Op die manier het familie en vriende oom Siebie, ‘n nederige ambassadeur van die Here Jesus Christus, gegroet. – Dr Gerdrie van der Merwe.