GEBORE
23 Maart 1932
OORLEDE
25 Januarie 2014
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1956
ORDEN
1957
standplase
1957 Modderrivier-Ritchie
1961 Kroonstad-Noord
1966 Misgund
1970 Bellville
Emeritus
1996
Henry Serfontein is op 23 Maart 1932 in Worcester gebore. Sy vader is Hendrik Petrus Serfontein, wat grootword in die Oudtshoorn-distrik. Sy moeder is Susanna Rachel Gobrechts, uit Calvinia in die Hantam. Henry se vader was ‘n sersant in die polisie op Fraserburg, toe Oudtshoorn, Rawsonville en Prince Alfred Hamlet. Op laasgenoemde dorpie in die Koue Bokkeveld het hulle ook afgetree. Uit die huwelik is daar vier kinders gebore drie broers en een suster. Henry was die oudste.
Henry begin sy skoolopleiding in 1938 aan die Laerskool Goudini, is van 1946 tot 1947 ‘n leerling aan die Hoërskool Goudini, en matrikuleer in 1949 aan die Hoërskool Charlie Hofmeyr op Ceres. Op skool leef hy sy sportbelangstelling uit in rugby en atletiek. Hy versamel seëls en legkaarte en hy doen graag blokkiesraaisels. In sy standerd agt-jaar word hy tot die evangeliebediening geroep en in 1950 skryf hy in vir ‘n BA-graad op Stellenbosch. In 1952 word hy ‘n student aan die Teologiese Seminarium, waar hy aan die einde van 1956 as proponent gelegitimeer word. Op Stellenbosch ontmoet hy Leonora Loock, wat haar daar as onderwyser bekwaam het.
Prop Henry Serfontein word op 27 April 1957 met handoplegging in die NG Gemeente Modderrivier-Ritchie, net suid van Kimberley, bevestig. As ongetroude leraar woon hy by Andries en Rita van der Merwe op hulle plaas in die distrik. Op 6 Julie 1957 trou hy met Leonora Loock in die NG Gemeente Willowmore; die huwelik word deur ds. AP Treurnicht van Oudtshoorn bevestig. Op pad terug beland die jong dominee en sy bruid in ‘n ernstige motorongeluk tussen Graaff-Reinet en Middelburg, en albei moet drie maande lank in die Wilhelm Stahl-hospitaal in Middelburg behandel word.
Leonora skryf: “Byna elke naweek was daar ‘n afvaardiging uit ons gemeente in Modderrivier-Ritchie — met arms vol liefde, blomme en lekkernye. Dit was vir ons albei ‘n geestelike verryking; dit het baie mense rondom ons geraak.”
Die egpaar is terug na Modderrivier-Ritchie en het hulle bediening saam begin in die mooi landelike omgewing waar die Modder- en die Rietrivier mekaar vind.
Op 3 Junie 1961 word Henry as medeleraar in die NG Gemeente Kroonstad-Noord bevestig ‘n groot gemeente wat uit ‘n groot plaasgemeenskap, spoorwegamptenare en mense in professionele beroepe bestaan. Die gemeente was skepties oor ‘n medeleraar en daar is hard gewerk om dinge vlot te laat verloop. Op 2 April 1966 word Henry leraar in die NG Gemeente Misgund in die Langkloof waar hy ook ‘n nuwe kerkgebou oprig, met al die smart en vreugde wat daarmee gepaard gaan. Op 14 November 1970 word hy as leraar in die NG Moedergemeente Bellville bevestig, ‘n stadsgemeente met ‘n groot aantal woonstelblokke.
Henry het graag hospitaalbesoek gedoen en die diens van barmhartigheid was vir hom belangrik. Hy was baie nou betrokke by die Alta du Toit-sentrum, en met die bou van die nuwe gebouekompleks daar, was hy die voorsitter van die raad. Hy werk uiteindelik 24 jaar lank in Bellville, tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 4 Augustus 1996.
Uit Henry en Leonora Serfontein se huwelik is daar vier kinders gebore: Laura is ‘n onkoloog; Susan is ‘n onderwyseres; Hennie is ‘n prokureur; Christie werk in die skeppende kunste.
Na Henry se aftrede woon die egpaar in die NG Gemeente Vredelust in Bellville, waar hy ouderling en wyksleier is. Hy wy baie aandag aan sy stokperdjies — onder andere ‘n versameling modelmotortjies (Mercedes Benz), waarvan hy byna 600 besit. Hy is ook ‘n ywerige seëlversamelaar en stal dikwels uit. In 2007 het Alzheimer se siekte wat vroeër by hom gediagnoseer is, so vererger dat hy nie meer in die openbaar optree nie. In die lente van 2011 trek die egpaar na die ACVV-dienssentrum Magnolia in Bellville. Later word hy versorg in die siekeboeg by Huis Andri van der Walt, waar hy op 25 Januarie 2014 oorlede is.
Ds. Henry Serfontein se begrafnisdiens is op 1 Februarie 2014 deur dr W Bergh vanuit die NG Moederkerk in Bellville waargeneem. Leonora skryf oor haar man: “Dit was ‘n voorreg om 57 jaar lank aan die sy van ‘n besonderse man in die Here se diens te kon wees. Ek het baie by hom geleer. Sy minsaamheid en opregte liefde het my keer op keer tot dankbaarheid gestem.” — Dr. Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).