GEBORE
29 Des. 1924
OORLEDE
04 Mrt. 1998
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1950
ORDEN
1951
standplase
1951 Dordrecht
1960 Strydenburg
Emeritus
–
Ds. Jan Theunis Schutte (BA, Dipl. Teol.) 29/12/1924 – 04/03/1998
DIT is nie altyd dat ‘n predikant ook die eienaar en stigter van ‘n meubelfabriek is nie. Maar dit was die geval met ds. Jannie Schutte wat met toestemming van die kerkraad op Strydenburg ‘n houtwerkfabriek begin het – aanvanklik om voorsiening te maak vir sy kinders se universiteitsopleiding, maar later ook vir `koninkrykswerk’.
Jannie Schutte is op 29 Desember 1924 op Willowmore gebore. Sy vader was ‘n boer en sakeman. Ook sy moeder was ‘n sakevrou. Hy het op Dealesville opgegroei, waar hy ook die laer- en hoërskole bygewoon het. Hy het matriek in die eersteklas geslaag. Sy belangstelling in skrynwerk kom uit sy tienerjare toe hy die skrynwerker van Dealesville’ genoem is. Na skool het hy na die Potchefstroomse Universiteit gegaan waar hy in 1946 ‘n BA-graad behaal het. Daarvandaan is hy na Stellenbosch waar hy sy Diploma in Teologie behaal en gelegitimeer word (1950); Hy is op 10 Maart 1951 met Tina Geerling, ‘n landdros-dogter en onderwyseres, getroud. Uit hierdie baie gelukkige huwelik van 47 jaar, is sewe kinders gebore: Marietjie, Thinus, Wouter, Alice, Jannie, Riana en Lulu. By sy afsterwe was hulle almal reeds getroud en was daar 12 kleinkinders.
Aanvanklik was hy hulpleraar in De Nieuwe Kerk, Kaapstad. Die eerste gemeente van die pasgetroude paartjie was Dordrecht waar die jong ds. Schutte op 5 Mei 1951 georden en bevestig is. Sy eerste preek, na aanleiding van 2 Kor. 5:6: `Nie dat ons uit onsself bekwaam is nie ons bekwaamheid is uit God,’ het ‘n groot indruk op die gemeente gemaak. Dit was ook die kenmerk van sy lewe en bediening. In sy tyd is die ou sandsteen-kerkgebou van Dordrecht vernuwe en ‘n nuwe pastorie gebou.
Na nege jaar het hy ‘n beroep na Strydenburg aanvaar en is hy in Augustus1960 daar bevestig. Hier word ‘n nuwe kerk onder sy leiding gebou. In sy meubelfabriek het hy werk vir ‘n hele aantal mense verskaf. Hierdie fabriek het onder andere vingerborde en biltongkerwers vervaardig. Die Schuttes het elf jaar op Strydenburg gewerk voordat hulle op 7 Mei 1971 in die NG Gemeente Petrusburg bevestig is. Hier het ds. Schutte die res van sy bediening, naamlik 19 jaar, gebly tot by sy aftrede op 13 Mei 1990. Ook op Petrusburg het hy ‘n kerk, ‘n tuiste vir bejaardes (`Ons Woning’); kategeselokale en ‘n kleuterskool laat bou – alles kontant.
Sy doelwit was om ‘n volledige bediening te beoefen deur toegewyde Woordbediening, huisbesoek, pastorale werk, jeugbediening (veral kategese) en `kniewerk’.
Na sy aftrede het hulle op Petrusville gaan woon en het hy ook daar ‘n fabriek begin, onder die naam `Goeie Hoop-Produkte’. Hy het goeie gesondheid geniet en het die die Otter-voetslaanpad en die Tsitzikamma-voetslaanpad nog in 1997 geloop. Op 4 Maart 1998 is hy egter in ‘n Bloemfonteinse hospitaal Oorlede.
Ds. Schutte was bekend as ‘n diep gelowige en wellewende mens, altyd opgewek en behulpsaam. Hy was ook ‘n liefdevolle gesins- en familieman en het dikwels familie-byeenkomste en saamtrekke gereël. Sy kleinseun en naamgenoot, JT Schutte, sal die leiding van sy fabriek oorneem. – Dirk Viljoen, aan die hand van ds. Schutte se biografiese vorm wat hy op 23 Mei 1997 ingevul het, en ‘n berig deur H en M Grobbelaar in Die Kerkbode.